Die Ou Testament – ’n tweede of ondergeskikte kanon?

Hierdie is 'n opiniestuk.
Die skrywer se standpunte weerspieël nie noodwendig dié van Kerkbode nie.

Tydens ’n onlangse konferensie oor missionale kerkwees, het die eeue-oue vraag na die verhou­ding Ou en Nuwe Testament sigself weer aan ons opgedring. Die Nederlandse Geloofsbelydenis onderskei op geen manier tussen die twee dele van ons Protestantse kanon nie.

In die Katolieke tradisie word daar wel na daardie boeke wat in die Protestantse tradisie as “Apokriewe boeke” bekend is, as “Deuterokanonieke boeke” verwys (Deutero- is “tweede”). Ons belydenisskrifte verwys egter nié na die Ou Testament as “tweede” in verhou­ding tot die Nuwe Testament nie.

In ’n artikel van Kemper Fullerton wat reeds in 1908 in The American Journal of Theology gepubliseer is, word die posisie van ons reformatoriese voorgeslagte ten opsigte van die Ou Testament verhelder. Aan die begin van sy artikel skryf hy dat gedurende die tyd van die kerkvaders tot selfs na die einde van die Middeleeue, allegoriese Skrifuitleg die septer swaai. Die historiese dimensie van die teks is verswelg deur verbeel­dingryke, allegoriese eksegese.

LEES OOK: Die wêreld agter die Nuwe Testament

Hierdie allegoriese uitleg het die Ou Testament ’n “voorafskaduwing”, as onvoltooid en enigmatiese aanhangsel by die Nuwe Testament gemaak. Die vreem­de boek sou dan vra om ’n ingelig­te, gesagsvolle interpreteerder om dit vir die kerk toeganklik te maak. Dié interpreteerder was veral gedurende die Middeleeue die kerklike hiërargie, met die finale eksegetiese gesag gesetel in die pous. In hulle stryd teen die pous, keer reformatore dan nou juis terug na die Skrif, deur dit in die oorspronklike tale en in die lig van die geskiedenis te lees.

As kinders van hulle tyd (Renaissance), beteken dit onder meer dat die tale (Hebreeus, Aramees, Grieks) en die geskiedenis hulle bondgenoot ten op­sig­te van Bybeluitleg word. Dit geskied ten koste van die pous en kerklike hiërargie en tradisie. Waar allegoriese interpretasie uitgelewer is aan die willekeur van die leser se verbeelding of die gesag van die pous, vorm die tale en die geskie­denis nou die raamwerk en toets­steen waarbinne die Bybel uitgelê word.

Fullerton haal dan talle voorbeelde uit Calvyn se eksegese van die Psalms aan, waar hy sogenaamde “messiaanse” tekste in die Ou Testament nie allegories interpreteer nie, maar wel histories. Ek haal aan: “Thus, in all these psalms Calvin bases his exposition on the historical background and arrives …

(W)hen compared with the traditional exposition of these psalms handed down from the Fathers, this consistent emphasis of the historical background as the starting-point of interpretation is a remarkable evidence of the subtle in­fluence of the Protestant principle of exegesis.”

Die indruk uit Fullerton se artikel is dat Calvyn as Christen, die Ou Testament histories en in eie reg geïnterpre­teer het en nie as ’n tweede, of afgewaterde testament nie.

Wanneer ons die Ou Testament in lyn met ons reformatoriese tradisie, aan die hand van die Hebreeuse en Aramese teks en in sy historiese konteks lees, kom daar interessante perspektiewe na vore. Neem byvoorbeeld die wêreldbeeld van destyds met ’n hemel vol goeie en bose hemelwesens. Verskeie Nuwe-Testamentiese tekste aanvaar sonder meer die bestaan van hierdie hemelwe­sens.

LEES OOK: Die ‘koninkryk van God’, skepping en die Ou Testament

Blaai ons na die Ou Testament, merk ons egter ander perspektiewe op. Volgens tekste soos byvoorbeeld 1 Konings 22:19-23 en Job 2:1 is daar ’n vergade­ring van hemelwesens, met die God van Israel aan die hoof van dié vergadering. Volgens Jeremia 7:17-18 en 44:15-19 aanbid die Judese vroue van Jerusalem die God van Israel én die hemelko­ningin.

’n Teks soos byvoorbeeld Genesis 1 stroop hierdie figure van alle mag én hulle plek in die hemel. Volgens Genesis 1 se getuienis is die Mesopotamiese go­de soos die son, maan, sterre en planete, skepsels van die God van Israel, met as doel diensbaarheid aan en in God se skepping.

Meer nog, daar is ook tekste uit elkeen van die drie dele van die Hebreeuse kanon, te wete die Wet, Profete en Geskrifte, wat getuig dat daar geen ander hemelwesens, magte of kragte is nie. Dink byvoorbeeld aan tekste soos Deuteronomium 32:39 (Wet), Jesaja 45:5-7 (Profete) en Job 23:13 (Geskrifte). Mense wat hulle vereer of aanbid, aanbid en eer “damp”, “mis”, ja “niks” (sien bv Jes 41:24, 29).

Behoort die Nuwe-Testamentiese getuienis aangaande hemelwesens, magte en kragte aanvaar te word omrede dit “nuut” is en omrede dit uit die tyd van Jesus kom, of behoort ons eerder die fokus te laat val op Deuteronomium, Jesaja en Job se getuienis omrede dit deel is van ons een Protestantse kanon? Of, behoort ons dalk, in die lig van ons een kanon bestaande uit die ses-en-sestig boeke van die Ou en Nuwe Testament, te bely: daar is net Één en dit is die God en Here van Israel, die Vader van ons Here Jesus Christus?

  • Dr Fanie Cronjé is medeleraar by die NG Kerk Lynnwood in Pretoria.
Word 'n vriend van Kerkbode