#Karoodroogte: Hoop herleef na ’n bietjie genadewater van Bo

Die droogte is nog nie oor nie, die damme is nog leeg en die skuldlas vreet, maar hardebaard-boere huil, kerkklokke lui en kinders speel kaalvoet in modderwaterstroompies danksy goeie reëns die laaste paar weke van Oktober in die Karoo, berig Heléne Meissenheimer.

“Ons het nou waaragtiglik ’n groot ontploffing gehad hier,” begin Jana Lock, skriba van Loeriesfontein borrelend vertel van die genadewater van Bo wat sedert Donderdag 22 Oktober moedelose boere en gemeenskappe in die Boesmanland dwarsoor die Karoo tot in die Oos-Kaap nuwe moed laat skep het.

Die Sondagoggend toe reën dit nog steeds toe sy sommer vroeg die kerkklok ekstra lank laat lui het voor die diens. Op Merweville, so 400 km suid, het Zena van Schalkwyk, die NG Kerk se koster en orrelis, die Vrydag 12:00 die kerk se klok gelui voor sy ’n paar lofliedere op die kerkorrel gespeel het.

Danksy milde reëns in Oktober loop daar plek-plek in die droogtegeteisterde Karoo bruin riviere waar vir jare net droë rivierlope was, maar die droogte is nog nie gebreek nie. Foto: Verskaf

Die vreugde sien ’n mens in tientalle foto’s op Facebook van eens droë rivierlope wat bruis met bruin water, kinders wat opgewonde plas in poele – vir sommige die eerste keer wat hulle reën ervaar, want op party plekke het dit 10 jaar laas gereën, ander agt of ses jaar.

Baie is die laaste tyd geskryf oor hierdie droogte, die ergste in dekades wat vele boere op hulle knieë gebring het terwyl hulle hulpeloos net kon toekyk hoe hulle vee vrek van hongerte en dors, want geld vir voer aankoop is daar net nie meer nie. “Dit het ’n verskriklike situasie geraak,” kom dit van ds Herman Burger, leraar op Merweville waar dit al agt jaar droog is.

“Jy weet mense begin regtig sukkel as hulle nie meer kan ry nie of nie meer suiker in die huis het nie of nie meer kan klere koop nie … dit is maar baie erg,” sê dié Karooseun wat in die 11 jaar wat hy leraar op die dorp is gesien het hoe die dorpenaars se tuine verdor omdat hulle boorgate leeg raak soos die grondwater al dieper wegsak. Die dorp is al maande op beurtwater – net ’n paar ure water soggens en saans.

Lees ook: Die dag toe Lulu die hond saam was kerk toe …

Soos die skaaptroppe krimp, het vele boervroue egter in wafferse entrepreneurs ontpop met verkope van alles van karaktervolle gehekelde skapies, koekies vir die Kersboom of bokse gevul met tuisgemaakte nougat. Laasjaar September het Merweville se Marian Esterhuizen en Suzaan Theron die wilde perd opgesaal om tannie Theresa de Vries (die gewilde Tannie Skuinskoek van Kokkedoor-faam) se nougat-besigheid te koop. Die fondse uit die verkope van hulle Karoo “Blessing”-bokse gevul met sewe soorte nougat het dit die afgelope jaar vir behoeftige boere en inwoners moontlik gemaak om inkope te kan doen by die plaaslike slaghuis en kruidenierswarewinkel. Hulle twee doen dit nie alleen nie, is Esterhuizen vinnig om te sê, dit is danksy almal se ondersteuning. Sy sê sy kry ’n opgewonde kriewel van afwagting om te sien wat die Here volgende gaan doen.

Regoor die Karoo is daar vele besielende stories van boervroue soos Marian Esterhuizen en Suzaan Theron van Merweville wat planne maak om fondse in te samel vir boere wat swaar trek.

Die onsekerheid en teleurstelling jaar na jaar wat dit nie reën nie vreet egter later aan enige mens se geloof. “’n Mens se geloof raak later so klein dat jy vergeet van die Here se beloftes … ons het regtigwaar in ons gemeente ’n diep geloofsvertwyfeling wat ons tans ervaar, want die droogte hou nie op nie,” deel Lock, ook ’n Karookind, midde-in haar opgewonde vertelling oor al die blyke van ondersteuning en liefde van regoor die land.

Elke briefie, elke kospakkie, elke inbetaling is kosbaar. Lock begin huil wanneer sy vertel van ’n inbetaling deur ’n swart gemeente in KwaZulu-Natal in die kerk se rekening. “Dit was vir my ongelooflik dat uit die bietjie wat hulle het, die min, hulle hulle hart oopgemaak het vir ander Christene … ek het so gehuil toe ek dit sien ek kon vir ’n uur niks werk gedoen kry nie.” Dan is daar ook die groepie tannies wat uit hulle pensioengeld R5 000 bymekaar gemaak het om ’n boks kruideniersware te stuur. Daar is ds Awie Brand wat saam met ’n groep van 40 mense uit die Overberg, in motors gelaai met 400 kg wors, bokse koekies, beskuit en naaldwerk, Loeriesfontein se basaar in September kom ondersteun het.

’n Groep Overbergers het die dankfeesbasaar van die NG gemeente Loeriesfontein in September met oorgawe kom ondersteun. Foto: Facebook

“Die omvang van die genade wat ons uit die Here se hand ontvang het van ek terug is op die dorp strek net soveel verder as die reën wat ons nodig het … dit voel my die Here het werklikwaar vir ons bewys ten alle tye kan ons op Hom vertrou om vir ons te sorg en ek dink die reën na ons dankfeesbasaar was vir my die kersie op die ice cream sundae … ek kan nie ophou getuig daaroor nie,” sê Lock wat vertel nou se reëns het hardebaard-boere laat huil.

Dié reëns, wisselend van soveel as 80-95 mm op plekke tot so min as 5 mm, het droë rivierlope plek-plek in vloed, maar die droogte is nie gebreek nie, “want dit reën nie kos nie en dit reën nie geld nie,” soos Alta van der Merwe, skriba op Victoria-Wes dit stel, maar voeg by die reëns het mense egter weer moed gegee, sy kon dit sien op hulle gesig by hulle basaar die afgelope naweek.

Lees ook: Dana Snyman | Om met meer genadige oë na die wêreld te probeer kyk

“As dit nie met nog goeie reën opgevolg word nie, is ons onmiddellik of nog steeds in die droogte. Ons kan nog nie sê die droogte is gebreek nie. Dit is ’n baie bemoedigende teken dat ons so vroeg al reën gekry het, maar ons sal eers teen Desember weet of ons uit is,” verduidelik Burger verder. Al bot daar belowende groen in die veld, moet die boere nog steeds voer aankoop, want die veld het baie skade gely. Daar is boere wat meen dit kan jare vat vir die veld om te herstel, mits dit aanhou reën.

“Soos die een oom gesê het ‘ons is baie dankbaar vir dit wat gekom het maar die liewe Heer moenie vergeet van die opvolgreën nie’,” voeg Lock by uit Loeriesfontein waar dit op stemdag 1 November nog weer saggies gereën het.

Word 'n vriend van Kerkbode