‘Ons het ’n goeie land’ – Leraar vertel hoe skoolseun van berghang gered word

Die belewenis van hoe ’n klomp vreemdelinge so mooi kan saamwerk om ’n bang 14-jarige seun veilig van ’n berg af te kry, bevestig vir hom ons het ’n goeie land, sê dr Ryno Els vir Heléne Meissenheimer met ’n vroegoggend Zoom-gesels oor sy onlangse ervaring van ’n reddingsoperasie teen Leeukop se hang.

“Daar was ’n klomp engele dié dag,” begin die jong leraar van Toringkerk in die Paarl vertel oor die wedervaring wat hy en ’n vriendin, Mirte Gosker, ’n uitruilstudent van Nederland, op Saterdagoggend 29 Oktober tydens ’n bergklim-uitstappie in Kaapstad gehad het.

Hulle was net mooi halfpad teen die berg op by die steil gedeelte met lere en kettings toe hy ’n geluid hoor en met die opkyk sien hoe ’n jong seun ’n paar keer rol en toe stil lê. Die seun het etlike meters ver geval voor hy by hulle op die smal lysie te lande gekom het. “Ek het dadelik besef wat gebeur het en hom saggies vasgedruk, want my pa het ons goed grootgemaak om noodgevalle te hanteer,” vertel Els wat dié oggend net graag die stad en omgewing vir Gosker wou wys. Hulle is saam kollegas by die #integras-beweging – ’n burgerlike beweging wat gemeenskappe van integriteit in die land vestig “om van die land ’n beter plek te maak”.

Ryno Els en sy vriendin Mirte Gosker van Nederland het na die traumatiese ervaring om die beseerde skoolseun te help Leeukop tot bo uitgeklim. Foto: Verskaf

Mirte is engel nommer 1, sê hy, want sy het vir die bang en verbouereerde tiener van haar water aangebied. Die moeilike besluit was wat om nou te doen. “Ek het vir hom in Engels gesê wees rustig, toe begin hy huil wat nie ’n bad teken is nie, maar hy het gekla sy been en nek is seer en daar het dadelik ’n knop teen sy agterkop begin swel,” verduidelik Els wat sterk vermoed die seun kon harsingskudding opgedoen het van die harde val.

Die seun was deel van ’n groep, maar in die geharwar, vertel Els, kon hulle nie agterkom of dit ’n skool- of jeuggroep is nie. Volgende het ’n groep vrouestappers by hulle gestop en van hulle vrugte, water en ys aangebied terwyl een ook ’n pienk T-hemp oor die seun gehou het vir skaduwee – almal engele. Intussen het Els die nooddienste gebel en probeer verduidelik waar hulle is, maar die selfoonopvangs teen die berghang was swak.

Uiteindelik, danksy ook oproepe na die nooddienste deur een van die vroue en sy pa (vir wie Els ook gebel het), was die AMS-noodhelikopter met paramedici op pad. Die AMS-koördineerder, wat Els net ken as Wes, het dadelik alles gereël al was hy nie aan diens dié dag nie – nóg ’n engel in Els se boek.

Wes het Els gevra om almal voor te berei om laag te bly en hulle hoed af te haal wanneer die helikopter kom wat ’n wind opgeskop het “soos ek nog nooit gevoel het nie,” vertel hy. Sy vriendin het sommer bo-oor die seun gaan lê en hom letterlik met haar arms toegemaak terwyl twee paramedici vanuit die helikopter laat sak is na die smal lysie waarop Els-hulle by die seun was.

Een van die paramedici besig om uit die AMS-helikopter af te sak na waar Ryno Els en ’n groep helpers by die beseerde skoolseun gewag het. Foto: Ryno Els

Die paramedici het die seun gekalmeer en in die draagbaar vasgemaak waarop die helikopter hom afgevlieg het na die parkeerterrein aan die onderpunt van die staproete na Leeukop. Hier het ’n ambulans gewag om die seun na Groote Schuur-hospitaal toe te neem, berig Netwerk24.

Lees ook: Om te kniel, soos Jesus?

Vir hom was die mooiste toe een van die paramedici, toe hy sien hoe bang die seun is, sy donkerbril afhaal en terwyl hy die seun in die oë kyk vir hom sê hy hoef nie sterk te wees nie, hy moet net die paramedikus vertrou dat hy hom nie sal seermaak nie. “Dit was ’n ongelooflike oomblik in hierdie chaos,” sê die jong donkerkop-predikant wat sê dié hele ervaring, hoewel traumaties, het hom nuwe waardering vir Suid-Afrika en sy mense gegee, al is daar so baie dinge wat pla: “Vir my, met alles wat in die land aangaan, met die negatiwiteit, korrupsie en politiek, was die simboliek van hierdie groep mense van all walks of life … wat almal net goedhartig, vriendelik en mooi met mekaar is net weer bevestiging van die potensiaal van hierdie land. As iemand in die nood is, maak nie saak nie, ons is daar vir mekaar … dit is ’n baie goeie land.”

Al wat vir hom hartseer is, is dat hy nie weet hoe om uit te vind hoe dit nou met die seun gaan nie, sê Els. Hoewel hulle name uitgeruil het, met alles wat gebeur het kan hy nie onthou van waar hulle is of wat die seun se naam is nie. 

Word 'n vriend van Kerkbode