#Werkloosheid: Deur saam te werk kan kerke ’n groter verskil maak

Die afgelope sewe jaar is by die 18 000 etes aan behoeftige kinders in Citrusdal bedien en dít onder meer danksy die plaaslike NG en VG gemeentes wat saamwerk om armoede in hierdie klein landbougemeenskap op die Weskus te verlig.

Dié is een van talle stories oor die verskil wat kerke kan maak, het ’n groep van 38 interkerklike kerkleiers gehoor by ’n onlangse Ekumeniese Konferensie vir Maatskaplike Hervorming, wat op Wellington gehou is.

Meer as die helfte van Suid-Afrika se jongmense en amper ’n derde van alle volwassenes is werkloos. Hierdie is die ekonomiese werklikhede in Suid-Afrika waaroor prof Rulof Burger, medeprofessor in Ekonomie by Universiteit Stellenbosch as eerste gasspreker gepraat het by die konferensie, gehou van 15-17 November by die Andrew Murray Sentrum vir Spiritualiteit.

Hy is op die tweede dag opgevolg deur dr Kate Philip, ’n ontwikkelingstrateeg wat help met die presidensiële werkskeppingstimulusprogram. Sy het gesê werkloosheid gaan oor meer as net verlies aan inkomste – dit raak mense se menswees ten diepste. Die regering het hulp nodig om dit aan te spreek en die kerk kan hiermee help.

“Ons as ’n kerk is ernstig oor die mense van Suid-Afrika. Die mense kry swaar … en ons (as kerke) moet dit dikwels hanteer wanneer mense nie meer deel is van die breë ekonomiese sisteem nie … daarom wil ons weet wat die regering doen en stel ons belang om saam met julle te dink en saam te werk,” het ds Nelis Janse van Rensburg, voorsitter van die NG Kerk se Algemene Sinode, in reaksie op Philip se Zoom-aanbieding gesê.

Verskeie invloedryke kerkleiers was teenwoordig, onder andere die president van die nasionale kerkleierskonsultasie (National Church Leaders Consultation), biskop Sithembele Sipuka (ook president van die Katolieke Biskoppekonferensie van Suid-Afrika) en dr Renier Koegelenberg, uitvoerende direkteur van die Ekumeniese Stigting van Suid-Afrika (EFSA).

Enlarge

Conference-talk-4-scaled
Ds Alex Clark van Op-die-berg NG gemeente is hier in gesprek met Biskop Sithembele Sipuka van die Katolieke Kerk (sittend). Foto: Heléne Meissenheimer

“Dié statistieke waarvan hulle praat is ons lidmate … ons het daarom ’n verantwoordelikheid om daarop te reageer,” het Vernon Rose, ’n ontwikkelingskonsultant, gesê wat ’n verslag oor die konferensie sal opstel.

Om die gedagtes van die kerkleiers te help los maak oor wat hulle kerke kan doen, is verskeie voorbeelde waar kerke reeds saam met ander rolspelers ingespring het om ’n verskil in hulle gemeenskap te maak, voorgehou.

Een van hulle is ACT Citrusdal (ACT staan vir Action for Community Transformation), ’n gesamentlike inisiatief van die NG en VG gemeente op Citrusdal.

Dié Weskusdorp en ook dié van die klein landbougemeenskap Op-die-berg by Ceres, beide in die Wes-Kaap, is vanjaar deur dr Johannes Erasmus, voorheen dosent by die Hugenote Kollege, besoek in opdrag van die Algemene Sinode van die NG Kerk. Hy moes vasstel wat ander kerke uit hulle suksesverhale kan leer.

Wat vir Erasmus in beide gevalle uitgestaan het is hoe kernbelangrik goeie verhoudings is. “Die bou en instandhou van goeie verhoudings is die boublokke vir die daarstel van goeie gemeenskappe … goeie verhoudings fasiliteer verandering,” het Erasmus in sy terugvoer benadruk. In Citrusdal byvoorbeeld het die NG Kerk en VGK saam met vyf landbouprodusente ’n welsynsorganisasie begin en ál vyf is lidmate by die Citrusdal NG gemeente. Hierdie besigheidsondersteuning reg aan die begin van die projek het die volhoubaarheid van die organisasie, ACT Citrusdal, help verseker. ACT werk weer saam met ’n kosgee-inisiatief van die gemeente om die genoemde etes aan plaaslike sentrums vir vroeëkindontwikkeling (ECD) te voorsien.

Soos ’n latere spreker Luvuyo Mkangelwa, ’n ervare opvoedkundige, gesê het: “Ons as kerke is magtiger as wat ons besef”. Hy het gepraat oor die verskillende maniere waarop kerke selfs by mentorskapprojekte kan betrokke raak om jongmense te help voorberei vir die arbeidsmark.

Hierdie konferensie was ’n opvolg op ’n eerste ekumeniese gesprek wat in 2019 gehou is. Met kerkleiers van sewe hoofstroomdenominasies verteenwoordig was dit ook meer verteenwoordigend en hulle hoop om vorentoe meer kerkgenootskappe te kan betrek, sê Janse van Rensburg.

Word 'n vriend van Kerkbode