‘Mag ’n kerk ons gebou koop’ vra Goudlandse gemeente

Dis hartseer dat hul kerkgebou in die mark is, maar hul hoop is dat ’n kerk wat Peacehaven se gemeenskap sewe dae ’n week uit hul geboue sal bedien dit sal koop, vertel dié Goudlandse gemeente se leraar vir Heléne Meissenheimer.

Sondag 28 November doop Harry en Veronica Arrangies hul jongste twee kleinkinders in die kerkgebou van NG gemeente Peacehaven in Vereeniging. Om twee redes gaan dié gewoonlik vreugdevolle geleentheid vir die Arrangies en almal daar ’n bittersoet geleentheid wees.

NG gemeente Peacehaven se Facebook-uitnodiging na die laaste erediens in hul kerkgebou wat in die mark is vir R2.7 miljoen. Foto: Verskaf

Eerstens, dié 66-jaaroue kerkgebou is in die mark. Dus hierdie Sondag is die laaste keer wat die meestal ouerige lidmate in die mooi wit kerkgebou, op die hoek van Clarendonlaan en Kerkstraat in Peacehaven, saam ’n erediens sal hou.

Tweedens, die gemeente neem afskeid van hul leraar, ds Noël Schreuder, en sy vrou Schylah. Schreuder tree af na agt jaar se meeleef met die wel en weë van Peacehaven se lidmate.

“Daar is ’n hegte verbondenheid onder die lidmate,” sê Schreuder wat sedert 1 Januarie 2014 op kontrakbasis hier leraar was. 

Die koste van instandhouding het nou te veel geraak vir die krimpende gemeente met tans slegs 58 belydende lidmate en 15 dooplidmate. Die verwagting is dat die meerderheid lidmate nou by Drie Riviere-Oos se gemeente sal inskakel. 

“Dit is hartseer. Dit is baie baie hartseer. Dit is nog nie ’n werklikheid nie,” vertel Harry vir Kerkbode oor die telefoon. Hy en sy vrou is al 37 jaar lidmate van dié gemeente in die Goudland sinodestreek. Al vyf hul kleinkinders en al twee hul kinders is hier gedoop.

Peacehaven gemeente se storie is die storie van vele wit Afrikaanse voorstedelike gemeentes. Die demografie van die lidmate het nie verander in pas met die veranderde demografie van die omgewing nie. Dis nou ’n geval van “te veel kerkgeboue vir te min lidmate” soos Schreuder dit stel. 

Goudland het in die laaste dekade ’n drastiese afname in lidmaatgetalle gesien – van 96 775 in 2011 tot 60 999 in 2021, volgens die NG Kerk se Jaarboek-data. Dié statistiek is egter geensins beperk aan dié streek nie – dis ’n landwye tendens soos onlangs deur Kerkbode berig. 

Peacehaven se kerkgebou is nog goed versorg en het ’n werkende orrel. Die leraar en lidmate hoop die gebou sal aan ’n kerk eerder as ontwikkelaar verkoop word.

Schreuder vertel hy wil ook graag sien dat ’n voorskoolse créche in die kerksaaltjie tot stand kom sodat die kerkgebou sewe dae ’n week gebruik word in plaas van die huidige eenkeer ’n week slegs vir ’n uurlange diens.

Peacehaven was eens ’n “gesiene uitbreiding van Vereeniging maar met alles wat so verander het … is nou ’n baie arm gedeelte”, vertel Martie Olivier, sekretaresse by Drie Riviere-Oos. Sy sê hul gemeente help die behoeftige mense van Peacehaven met kruideniersware uit hul Bus van Hoop-projek … “maar die nood is ongelooflik hoog in Peacehaven”.

“Ons droom is dat die kerkgebou ’n gemeente sal kry wat die area effektief beter kan bedien as ons. Ons wil graag hê dat dit ons nalatenskap is,” sê Schreuder wat noem dat daar reeds gesprekke aan die gang is met ’n gevestigde kerkgroep in Vereeniging wat tans in tente dienste hou. Daar is egter nog niks vas op papier nie.

Die kerkgebou is in die mark vir R2.7miljoen.

Word 'n vriend van Kerkbode

One thought on “‘Mag ’n kerk ons gebou koop’ vra Goudlandse gemeente

  1. robert L barrie says:

    Kan nie verstaan dat binne ringverband daar besef word dat dit die tendens is en nou al alle gemeentes in lyn kry vir ‘n verandering in gemeentes van toekoms wat baie kleiner gaan wees, minder fasiliteite gaan benodig en sal vereis dat daadwerklik afstand gedoen word van die geboue met hoë instandhouding

Comments are closed.