Die krag van die verhaal dat God vlees word

Hierdie is 'n opiniestuk.
Die skrywer se standpunte weerspieël nie noodwendig dié van Kerkbode nie.

Kerstyd laat ons nie normaalweg dink aan ons roeping as gestuurde mense nie. Maar kyk ’n bietjie na hierdie twee tekste aan die begin en einde van die Johannes-evangelie: “Die Woord het vlees geword en onder ons kom woon” en “Soos die Vader My gestuur het, stuur Ek julle ook.”

As Jesus ons na die wêreld stuur soos die Vader Hom gestuur het, moet sy inkarnasie, sy vleeswording, tog ook implikasies hê vir ons roeping.

Johannes vertel in sy Evangelie hoe Jesus ’n bruilof bywoon, water in wyn verander. Hoe Hy vir mense kos gee, hoe Hy siekes gesond maak, aan mense raak, op water loop, ’n dooie opwek en sy dissipels se voete was.

Al hierdie dinge doen Hy tussen mense, met die stof van die aarde aan sy voete. Dit is die verhaal van God wat mens word en konkreet leef.

Lees ook: Meer soos God die wêreld in

Meestal hoor ons met Kerstyd ten minste een preek oor die inkarnasie, oor die wonder dat die ewige God ’n regte mens word. Jesus se inkarnasie is egter só belangrik dat ons nie net met Kerstyd daaroor moet dink nie. Sy koms na die aarde en sy lewe tussen mense is die model vir ’n lewe in pas met die lewende God.

Hier is drie dinge om oor te dink.

Jesus se menswording help ons om die konkrete lewe hoog te ag en te vier. Ons lees hoe Hy eet en drink en dit nogal met sogenaamde sondaars. Die inkarnasie help ons om te onthou: “Dat die mens kan eet en drink en onder al sy arbeid nog die goeie kan geniet, ook dit is ’n gawe van God” (Pred 5:17-18).

Jesus se menswording herinner ons dat God na die wêreld toe beweeg. Daarom kan ons godsdiens ons nooit wêreldvreemd maak nie. Inteendeel, dit vat ons altyd na die wêreld toe. Gesonde Bybelse godsdiensoefening het ’n sirkulêre beweging: dit vat ons dieper in die Woord en die ervaring van God se teenwoordigheid in. En dan vat dit ons terug na die wêreld toe. Hoe dieper ons ervaring van God, hoe groter word ons bewoënheid oor die wêreld.

Jesus se menswording inspireer ons tot diens en nederigheid. Hy klou nie vas aan sy Goddelike status nie, maar verneder Homself deur ’n mens te word. Daardie gesindheid moet ook in ons wees. Jesus leer ons om die belange van ander hoër te ag as ons eie (Fil 2:3-4).

In die Kersseisoen is dit makliker om hierdie dinge te doen. Dit is ’n tyd waarin ons die goeie van die lewe met dankbaarheid geniet, meestal oper hande en harte het en sommer oor die algemeen meer ingestel is op ander. Dit is die krag van die viering van God se inkarnasie. Mag jy dit die hele jaar indra.

Dr Lourens Bosman is die algemene bestuurder in die kantoor van die Algemene Sinode.

Word 'n vriend van Kerkbode