Kyk: Kersgedigvideo se boodskap van hoop loop wyd

Ons almal is deur ’n moeilike twee jaar en soos dinge nou lyk lê daar nog ’n ent se swaar trek voor. Dit is uit dié experience wat ’n jong jeugleraar ’n eietydse Afrikaanse Kersgedig geskryf het wat tans die meta-heelal met ’n boodskap van hoop deurkruis.

Ds Ivor Swartz is skoon verbaas oor hoe vinnig, ver en wyd sy video-opname waar hy sy gedig “As jy sing” voordra, “sommer in die huis geskiet met my selfoon” besig is om te trek. Mense bel en WhatsApp hom dit word vir hulle aangestuur deur mense in Engeland en Namibië. Selfs die bekroonde skrywer/joernalis Dana Snyman het hom gebel.

Kerkbode vra hom oor die storie agter dié video wat binne vyf dae, sedert hy dit op 11 Desember op sy eie Facebookprofiel gedeel het, al meer as 400 keer gedeel is. “Dit het ek nou glad nie verwag nie,” sê die voormalige oud-gangster wat na sy bekering teologie gaan swot en laasjaar jeugleraar geword het in Oosterlig, ’n voorheen tradisioneel wit Afrikaanse NG gemeente in die Jakarandastad.

Lees meer: ‘Ons het almal klomp genade nodig’

Hy het die Kersgedig verlede jaar geskryf vir hulle gemeente se Kerssangdiens. Toe vra ’n vriend so ’n week terug om dit as ’n stemboodskap op te neem sodat hy dit vir hulle selgroep se Kersete kan speel. Ivor meen egter jy verloor die power van die gedig as dit net ’n voicenote is, toe maak hy die video … en vandaar af vlieg dié video onverpoos heen-en-weer deur die kuberruim.

“Ons sit in die gemors van Covid. Ons sit in die verdeeldheid. Ons sit in die politiek met maghonger leiers … Só dis heeltyd daai teenpole van ’n krip en ’n kruis, graf en ’n huis,” begin Ivor wat amper klink soos ’n nuwe gedig wanneer hy antwoord op waar die inspirasie vir sy gedig vandaan kom.

Skryf dié kan hy. In sy debuut outobiografie Die verlore seun vannie Gaatjie skryf hy oop en eerlik oor sy moeilike grootwordjare in ’n arm deel van Grabouw asook sy latere tyd in die gevangenis. Dié werk het vanjaar die Desmond Tutu-Gerrit Brandprys vir debuutwerk by die Andrew Murray-prysfonds ontvang.

Ivor en sy vrou Nadine moes ook vroeër vanjaar vir 10 dae isoleer weens Covid, genadiglik net met matige simptome, vertel hy later oor die telefoon. Immer ingestel op ’n silwer randjie raaksien, reken hy dit was perfect timing, want dit het saamgeval met ’n virtuele week van gebed saam met ’n groep jong predikante waarop hulle toe ongehinderd 24/7 op Zoom kon fokus.

Dit is die hele belewenis van al die teenpole in hierdie vreemde tyd waaroor sy Kersgedig handel. Hy verduidelik dit verder só: “Ons sit met teenpole van honger mense en mense wat net wil landuit. Van mense wat iemand aan die dood afgestaan het weens Covid en mense wat sê dis ’n hoax … so ons hele wêreld is in die afgelope twee jaar in verskillende rigtings getrek. Die inspirasie is vir dáái …

“Om vir mense te sê jy kán sing, jy kan sing vir die sleg, jy kan sing vir die goed, jy kan sing vir die seer, jy kan sing vir genesing, jy kan sing vir die deurmekaarheid, jy kan sing vir dit wat in plek geval het … en jy kan sing al weet jy nie hoe die storie gaan uitdraai nie, want aan die einde van die dag weet ons hoe die storie van Jesus se geboorte uitgedraai het. Die Betlehemster wat vir ons vooruitgegaan het, hy eindig in ’n hartseer maar hoopvolle kruisdood. Hy eindig in ’n opstanding. En hy eindig in ’n wederkoms. Hy eindig in die joy van eternity.

“So dit is die hele experience van waar ek die gedig geskryf en die video gemaak het.”

Die woorde van die gedig “As jy sing” word hier volledig gedeel met Ivor se toestemming en seënbede dat dit nog wyer hoop mag bring.

________________________________________________________________________

AS JY SING

As jy sing,

luister fyn;

Tussen die hartklop en die stembande;

die twyfel en die oorgawe;

by blye engelsange, voeg by jou hart en stem:

’n Kind is gebore in stille Bethlehem.

Met geen gender-reveal, baby-shower, of 1 week oue foto’s op Facebook nie, sak die son op dié verlate dorpie.

Oorvol, stowwerig en op ’n mespunt.

Maar ’n ander Lig kom nader.

En iewers tussen skaapmis en flenterklere

hoor die herders waar Godheid Drie-enig vergader.

Van ’n krip tot ’n kruis,

’n graf tot ’n huis – 

en ’n veilige hawe ook teen die storm van 2020 – toe die kerk se deure vir lank gesluit was en ons te veel toiletpapier en te min wyn gekoop het.

Dit was ’n wilde jaar, maar steeds sal ons sing!

Ons sing vir dié wat ’n geliefde verloor het,

vir dié wat hul werk verloor het;

dié wat niemand gehad het om vas te hou nie,

wie se drome aan skerwe lê,

en wat steeds nie seker is of hulle dit gaan maak nie.

Ons sing teen die woede en die wreedheid;

die haat en verdeeldheid, en die maghonger heersers wat die Kind se stem wil stilmaak.

Sing vir Maria en Josef

wat haastig en uit vrees hul tuiste moes groet.

Sing ook vir jou eie uitgewekene kinders

wat die Afrikason moes groet.

As jy sing,

sing omdat Hoop ’n Naam het:

Wonderbare Raadsman,

Magtige God,

Ewige Vader,

Vredevors,

Seun van die Mens,

Vlugteling-kind.

Hy wat was en wat is

het vir jou vryheid kom bring.

Mag jy sing omdat Hoop vandag teenwoordig is by jou huis.

En mag jy sing omdat Hoop jou roep om soos die Bethlehemster

vir ’n donker wêreld te wys,

die Lig op die pad, was nog altyd ’n kruis.

  • Geskryf deur Ivor Swartz, skrywer van Die verlore seun vannie Gaatjie (Lux Verbi, 2020).
Word 'n vriend van Kerkbode

One thought on “Kyk: Kersgedigvideo se boodskap van hoop loop wyd

  1. Anna Marie Steyn says:

    Ons woon in Australia en n vriendin het Ivor se opname met ons gedeel. Ek is sommer gevul met heimwee oor die boodskap van hoop in n taal wat ek mee groot geword het en dit was baie treffend . Voorwaar n oomblik om stil te wees.

Comments are closed.