Wye hartseer oor jong vroue-dominee (30) se dood

Die hartseer is groot oor ds Maryke van Niekerk. Die Hantam-gemeente Calvinia het ’n sagte mens-mens dominee verloor en die NG Kerk ’n “top-dominee”.

Op ’n sonnige Saterdagmiddag, ’n week voor Kersfees, het Maryke nog die tafelgebed gedoen ná sy vroeër een van haar broers se beste vriende in die huwelik bevestig het. Sy was in haar grootwordwêreld – die Overberg waar sy as jongste kind saam met haar twee broers op haar ouers, Johannes en Pat Uys, se plaas naby Bredasdorp grootgeword het. Hulle was almal daar om saam fees te vier. Maar die blye dag sou in trane eindig.

Tydens die onthaal het Maryke verstik. Sy is gou te hulp gesnel en later is met haar in ’n ambulans na die provinsiale hospitaal op Swellendam gejaag, maar dit was te laat, sê ds Braam Coetzee, leraar op Bredasdorp en goeie vriend van die familie.

Kerkbode gesels telefonies met Coetzee op Maandag. Sy antwoorde is kort. “Die hartseer is verskriklik erg,” sê hy en pleit dat die omstandighede van haar dood tog nie die fokus moet wees nie. Sy laat benewens haar familie ook haar man Riaan en hulle 2-jarige seuntjie Edwin agter. Coetzee sal op Maandag 27 Desember die roudiens op Bredasdorp hanteer. ’n Gedenkdiens sal ook later op Calvinia, waar sy die laaste vyf jaar leraar was, volg.

Haar dood beteken uit die klein groep vroueleraars binne die NG Kerk-familie is binne een jaar drie jong kollegas aan die dood afgestaan. Eers was dit ds Bianca van Graan (Aggeneys, Noord-Kaap) wat aan Covid-verwante oorsake oorlede is. Daana die tragiese dood van ds Liezel de Jager van Suidkus in KZN, nou skaars twee maande terug en nou Maryke. “Dit is ’n geweldige groot verlies vir die NG Kerk,” sê ds Nioma Venter, ondervoorsitter van die Algemene Sinodale Moderamen.

“In die klein groepie van vroueleraars, voel ons dit soveel te meer. Ons is geskok en hartseer. Haar kollegaskap en vriendskap was vir ons kosbaar,” sê Venter wat al sedert 2018 met Maryke ’n pad stap om die nood in die droogtegeteisterde Noord-Kaap te help verlig.

Maryke was die enigste leraar van die Noord-Kaapse dorp Calvinia se NG gemeente. Hierdie “stil, saggeaarde mens-mens” het in haar vyf jaar hier in die Hantam diep spore getrap, hoor ’n mens gou uit vele oorde. “Sy was ’n plein mens, jy kon met haar ’n pad stap,” sê skriba Sarina van Rhyn, wat vertel Maryke het uit haar pad gegaan om die boere te help te midde van ’n droogte van sewe jaar lank. Maryke se man Riaan is ’n rekenmeester by die plaaslike slagpale.

Ook haar ringskollegas onthou haar as iemand met passie en omgee vir haar bediening. “Maryke was ’n regte bondel energie. Altyd ’n glimlag op haar gesig … met ’n besonderse passie vir mense en sy was ’n wonderlike mamma,” sê ds Anton Verwey, leraar by Vredendal en voorsitter van die Ring van Clanwilliam, waarvan Calvinia deel vorm.

Haar passie en erns met haar werk is ook deur die kerkleierskap raakgesien. Calvinia-gemeente se behoeftebepalingsproses is as voorbeeld voorgehou by die Red ’n Plaas-projek wat die NG Sinode van die Noord-Kaap saam met RSG aangepak het, vertel Venter. “Maryke was betrokke by die nood in haar gemeenskap en ons kon dit sien wanneer hulle aansoeke vir hulp ingedien word … die manier waarop sy goed georganiseer het oor die droogte het uitgestaan,” sê sy oor hierdie jong vrou, wat in 2018 haar eerste gemeente Parow-Vallei in die Kaap gegroet het vir die uitdagings van ’n gemeente in die diep platteland wat toe ook pas deur ’n proses is waar die dorp se twee NG gemeentes saamgesmelt het.

“Hierdie vrou het teologies voor ons grootgeword … iemand wat regtig die lig van Christus versprei en dit het ’n impak gemaak waar sy kom,” beaam ds Nelis Janse van Rensburg, ASM-voorsitter, wat dié oud-Matie beskryf as iemand wat hardwerkend en toegewyd was. “Sommer ’n top-dominee.”

Op facebook skryf ds Conette van Rooyen, leraar op Vredenburg, dat sy nie antwoorde het nie net vrae oor haar vriendin se dood. “Daar is so baie wat ek nie weet nie, maar wat ek wel weet is dat God jou op ‘n baie besonderse manier op hierdie aarde gebruik het…

  • Die berig is aangepas na publikasie. Red.
Word 'n vriend van Kerkbode