‘Ons besit nie die Waarheid nie … Ons behoort daaraan’

Dr Louis van der Riet trek die lyn tussen waarheid en sosiale geregtigheid en herinner dat die Waarheid eerder vir ons besit, as omgekeerd, skryf Marileen Steyn.

Ek onthou nie baie detail van my universiteitsdae nie. Wanneer my ou klasmaats oor van ons klasse praat, wonder ek gereeld of ons ooit dieselfde graad gestudeer het. Daar is wel ’n paar uitskieters. Soos dáárdie klas. In lokaal 2-10 het ons klas metafories op ons agterstewe geland nadat die mat onder ons uitgeruk is en ons besef het dat gesprekke oor “Die Waarheid” baie meer kompleks is as wat ons vantevore gedink het.

Enkele jare later en ek is diep bewus van die feit dat gesprekke (of in die meeste gevalle debatte) oor die waarheid een van die grootste knelpunte in die kerk is. In my kop hoor ek die stemme: “Die waarheid is eenvoudig!” In gesprek met Van der Riet word ek wel herinner dat daar iets Goddelik daaraan kan wees om so ’n bietjie by die waarheid stil te staan.

Lees ook: Wanneer is genoeg, mansgenoeg?

Van der Riet het in Maart 2021 sy doktorsgraad met die tesis getiteld “Avowing truth, embody justice: A theological analysis of truth-telling and transitional justice in South Africa” verwerf. Kortom, Van der Riet stel belang in sosiale geregtigheid, of, soos hy dit stel: “Hoe kom mense tot hulle reg?” Volgens hom vereis sosiale geregtigheid ‘truth-telling’ – die kuns om die waarheid te spreek.

Om die waarheid te spreek het nie net te doen met wat ons dink of wat ons sê nie. Dit het te make met die manier waarop ons waarheid met ons lyf interpreteer (hermeneutiek) en met ons lyf uitleef (etiek). Ongeregtigheid is nie net iets wat gebeur nie, maar iets wat in mense se lyf gaan sit en daarom vra die aanspreek van ongeregtigheid dat ons waarheid beliggaam.

Lees ook: Profiel van Louis van der Riet

Dit beteken dat ons nie soseer waarheid besit asof dit ’n voorwerp is waaroor ons beheer het nie. Nee, ons behoort aan die Waarheid. God, bely Van der Riet, ís die Waarheid en as ons aan God behoort, beteken dit ook dat ons aan die Waarheid behoort.

Hierdie verskil tussen die Waarheid as onderwerp (die Een wat besit) en die waarheid as voorwerp (die een wat besit word) maak ’n reuse-verskil in die manier waarop ons die waarheid benader. Indien ek die waarheid, die “volle waarheid” besit, beteken dit dat ek God is en ook dat ek nie vir God nodig het nie. “Maar as jy sê die soeke na die waarheid is meer belangrik saam met God en ander … dit is so half waar ’n mens wil wees …”

Lees ook: Marileen Steyn gesels met Charl Stander

Ons gesels oor die huidige debatte rondom waarheid en die vrees dat die kerk besig is om God se waarheid te vervlak deur dit op hierdie manier te sien. Van der Riet meen dat dit eintlik ’n verdieping is. God ís die Waarheid en God (en dus die Waarheid) hoef nie besit te word nie.

So, hoe lyk hierdie ‘truth-telling’ waarvan Van der Riet praat? Hy dui op twee liturgiese weë wat as tipes ritueel kan dien sodat mense die waarheid kan spreek op die pad na sosiale geregtigheid. Die twee weë word saamgevat onder een term: belydenis. Hy onderskei dus tussen belydenis as ’n stelling van dit wat jy glo soos in die geval van ’n geloofsbelydenis en belydenis as ’n daad van verootmoediging en transformasie soos in die geval van ’n skuldbelydenis.

Lees ook: Anandie Greyling oor Bianca van Graan 

Diegene wat al ongeregtigheid in hulle lyf gevoel het, word genooi om hulle waarheid te bely, te stel, sodat hulleself en ander dit kan hoor en dit deel van die groter waarheid van sosiale geregtigheid kan wees. Diegene wat al ongeregtigheid bevorder het, word weer genooi om die waarheid te bely, as skuld. Van der Riet is diep bewus van die vooropgestelde skeptisisme en weerstand as dit by skuldbelydenis kom. Hy sien skuldbelydenis egter as ’n teenvoeter vir die gevoel van verlamdheid en magteloosheid wat met gesprekke oor sosiale geregtigheid gepaardgaan. “Wat dit goeie nuus maak, is dat dit ’n goeie manier is om verantwoordelikheid te neem … dit is ’n aktiewe keuse om verantwoordelikheid te neem vir ongeregtigheid.”

Hy praat verder oor mense se behoefte om iets te doen. “Maar hierdie manier (skuldbelydenis) is eintlik juis om dan ’n tree terug te gee en te sê ek is bereid om in die spieël te kan kyk van my eie bevoorregting en my eie tekortkominge en dieper te verstaan wie en wat ek is … Dit is ’n nederige, weerlose posisie van omgang met die waarheid.” Hierdie aksie, beklemtoon hy, is een van waagmoed omdat jy jouself tweede moet stel.

Lees ook: Wierdapark doen eie navorsing tydens Covid

My kop draai na ons gesprek, maar ’n paar goed staan uit: Van der Riet, soos so baie ander wat soos hy dink, is werklik ernstig oor die Waarheid – al sien hy dit ook meer kompleks as wat baie sou verkies. Om die Waarheid te soek is ook nie net ’n bysaak tot ons geloof nie, maar as ’t ware ’n pad van dissipelskap en ’n opregte soeke na wat dit beteken om aan God en die Waarheid te behoort. Van der Riet herinner my dat, te midde van my vergeetagtigheid, dit kardinaal is om tog die soeke na die Waarheid te onthou.

  • Prop Marileen Steyn is vryskutnavorser en PhD-student aan Universiteit Stellenbosch

Hierdie skrywe is deel van ’n reeks en word aangebied in samewerking en met ondersteuning van die taakspan vir Teologiese Navorsing (Wes-Kaap).

Word 'n vriend van Kerkbode

One thought on “‘Ons besit nie die Waarheid nie … Ons behoort daaraan’

  1. dana snyman says:

    Lieflik!

Comments are closed.