Teologie as wetenskap: in gesprek met ’n A1-gegradeerde teoloog

Die Nasionale Navorsingstigting het aan die teoloog Johan Cilliers ʼn A1-gradering toegeken. Cas Wepener het met hom oor hierdie erkenning gesels, asook sy siening van teologie as ʼn wetenskap.

Cas Wepener: Johan, jy het pas gehoor dat jy die hoogste gradering wat die Nasionale Navorsingstigting (NNS) toeken, ontvang het, naamlik ’n A1-gradering. Ek is geensins verbaas hieroor nie. Jou onlangse teologiese drieluik A space for grace, Timing grace en Grace upon grace staan trots op my boekrak langs die werke van die grootste denkers in die homiletiek (preekmaakkunde). Indien jy ’n A1-gradering gekry het, watter ander kategorieë bestaan en wat presies beteken hierdie A-kategorie van die NNS?

Johan Cilliers: Cas, daar is ’n P- en Y-gradering vir jong navorsers en dan drie kategorieë, te wete A, B en C vir gevestigde navorsers. Binne elkeen van laasgenoemde drie kategorieë is daar ook weer drie kategorieë, byvoorbeeld, A1, A2 en A3. Die NNS se omskrywing van die A1-kategorie lui soos volg: “’n Navorser in hierdie groep word deur alle beoordelaars erken as ’n vooraanstaande vakkundige in hulle veld internasionaal vir die hoë gehalte en wye impak (dws buite ’n klein spesialisasieveld) van hulle onlangse navorsingsuitsette.”

CW: Johan, daardie omskrywing pas jou en jou werk myns insiens soos ’n handskoen. Ek het egter ’n vriend wat sy doktorale navorsing in die veld van kernfisika gedoen het. Elke keer wanneer hy my sien, wil hy tong in die kies by my weet hoe moeilik ons teologiese navorsing dan nou regtig kan wees, ons bestudeer dan net een boek. Dit is natuurlik die soort opmerking waaroor ons as teoloë en predikante net glimlag, al vind ons dit soos die Hollanders sal sê “heel vervelend”. Die beste is om geen repliek te lewer nie, maar indien jy wel dit wil doen, dan dalk met die vraag of teologie enigsins as ’n wetenskap beskou kan word en of ’n praktyk soos prediking ’n wetenskaplike aanpak benodig. Omdat daar gereeld in Kerkbode en ander nuusblaaie oor teologiese opleiding geskryf word, is dit dalk ’n goeie tyd om ook aan hierdie vraag aandag te skenk, naamlik of teologie as ’n wetenskap beskou kan word?

JC: Cas, Teologie is ’n wetenskap – wel uniek, maar nogtans ’n wetenskap. As sodanig kan, en moet dit selfs, aan sekere standaarde en evaluerings voldoen, soos onder andere deur die NNS toegepas. Gemeet aan hierdie standaarde en evaluerings is dit duidelik dat die teologie, beoefen as wetenskap binne die Suid-Afrikaanse konteks, ’n waardige gespreksgenoot op globale vlak verteenwoordig. Dit is ’n voorreg. Teologie as wetenskap staan nie teenoor geloof nie, net so min as wat geloof teenoor intellek staan. Die Woord het immers vlees geword, en onder ons kom woon (Joh 1:14), met ander woorde ook in die wêrelde van die wetenskappe. Die Gees praat meerstemmig (Hand 2:4), en daarom ook in die (interdissiplinêre) tale van die wetenskappe. Geloof impliseer nie ’n opoffering van jou intellek nie, maar sluit dit juis in. Binne die belewenis van geloof is daar iets soos gesonde, maar ook ongesonde sekerheid; egter ook iets soos gesonde, maar ook ongesonde onsekerheid. Teologie as wetenskap help ons om hier ’n (gesonde!) weg te vind. As wetenskap is teologie in beginsel oop vir vrae en ontdekkings. Trouens, indien wetenskap nie oop bly vir die moontlikheid van verwondering nie, is dit die naam wetenskap nie werd nie (Albert Einstein). Dit is ook, en moontlik veral, waar van teologie. Teologie as wetenskap het die potensiaal om ons dieper in die Misterie in te lei. Dit maak die greep wat ons reken ons op God het, voortdurend beide vaster én losser. Teologie as wetenskap verkies in hierdie sin eerder vrae waarop daar (oënskynlik) geen antwoorde is nie, as antwoorde wat geen vrae toelaat nie.

CW: Johan, hierdie sinvolle refleksie maak my nuuskierig oor watter teoloë die grootste impak op jou gehad het en waarom?

JC: Cas, ek het nog altyd gedink dat ’n teoloog ten minste vier eienskappe moet besit, naamlik om (goed) te kan lees; (fyn) te kan kyk, om (ruim) te kan dink, en (net genoeg, met mense en God) te kan praat. Ek was bevoorreg om mense te ontmoet, of deur hulle geskrifte te leer ken, wat my presies hiermee gehelp het. Gerd Debus, ’n Duitser, wat eintlik nie ’n “teoloog” was nie, maar ’n letterkundige en skrywer, het my geleer om tekste haarfyn te lees – preke, maar ook die Bybel. Rudolf Bohren, my Duits-Switserse mentor vir my doktorale studie, het my gehelp om noukeurig na die lewe in al sy gestaltes te kyk, oftewel om esteties ingestel te wees, en die kuns van kyk te beoefen. Bethel Müller, my Suid-Afrikaanse doktorale promotor, het my aangemoedig om ruim te dink; hy het vir my ruimte geskep om die vreugde van teologiese ontdekking te smaak. En, die Hervormer Martin Luther, het my geïnspireer om met mense en God te praat, op ’n bepaalde manier – ’n mens moet maar net die preke van Luther lees, om meegevoer te word deur sy passievolle retoriek, sy beeldspraak, sy verstaanbaarheid vir sogenaamde “gewone” mense …

CW: Johan, watter teologiese temas hou jy jouself tans mee besig?

JC: Cas, miskien verklap dit iets van my ouderdom, maar ek het in die twee jaar sedert my “aftrede” baie nagedink, en selfs iets gepubliseer oor die sin van ons lewe, ons verganklikheid en ons hoop op die ewigheid. Ek het, soos dikwels in my lewe, weer teruggekeer na die Psalms, waar ons ruimte vind om mense, werklik mense voor en saam met God, te wees. Wat op die oomblik in my broei, is die realiteit van eensaamheid, iets wat baie mense ervaar, al word hulle omring deur skares – mense wat so eensaam voel soos ’n pelikaan in die woestyn, of ’n uil tussen murasies, of ’n verlate duifie op ’n dak – om weer die psalms aan te haal.

CW: Johan, dankie vir jou insiggewende antwoorde en nogmaals hartlik geluk. Ek het gaan kyk en sien die Universiteit Stellenbosch het 16 A-gegradeerde navorsers waarvan jy die enigste teoloog is. Ek dink ook jy is die eerste onder die vaste personeel van ons fakulteit wat hierdie erkenning gekry het. Ons sien uit na nog heelwat publikasies uit jou pen.

Prof Cas Wepener het prof Johan Cilliers opgevolg as professor in Praktiese Teologie aan die Universiteit Stellenbosch.

Word 'n vriend van Kerkbode