Geloofsgroepe in Overberg span saam om ontheemdes te help

Die Menseregtekommissie (MRK) se afgevaardigdes deur verskeie staatsdepartemente is einde Maart na Bredasdorp om die situasie te help ontlont nadat ’n protesoptog van sowat 300 mense tot geweld en groot verwoesting gelei het in die soort xenofobiegelaaide konflik wat ongelukkig nie tot die Overberg beperk is nie.

Geloofsleiers en inwoners, Christen en Moslem, het saamgewerk om ontheemdes te voed en skuiling te bied. “Dit was die menswaardige ding om te doen,” vertel ds Braam Coetzee van Bredasdorp-gemeente met Kerkbode se onlangse besoek.

Coetzee is lid van die Bredasdorp Christenleierskapsforum (BCLF) waaraan sowat 13 geloofsleiers van die dorp se groter denominasies behoort.

Die aand in Maart wat die geweld opgevlam het, was die dorp se moskee die naaste groot plek waar die verwilderde mense kon skuiling soek. Imam Yasier Benjamin vertel hy het gou besef dit is meer as wat hy kan hanteer. “Toe sê ek vir daai poliesvroutjie ek sal nie al die mense kan huisves nie … vra vir dominee (Coetzee) om oop te maak. Hulle weet nie wat hier aangaan nie,” onthou hy.

Dit het gereën die aand toe hy die oproep kry, onthou Coetzee, maar hy het uitgery die nag om mense te help soek terwyl (sy medeleraar ds Karlie) Liebenberg en lidmate die kerksaal regkry. “Hier het ek geleer kerk is sewe dae ’n week … ek het trane in my oë gekry toe ek sien hierdie gemeente sê gebruik ons saal ons gee nie om vir gebreekte teëls nie,” vertel die 26-jarige Liebenberg wat in November na hierdie gemeente, haar tweede, beroep is.

Die leraarspan by Bredasdorp-gemeente is finalejaar teologiese student Pieter Nel, ds Braam Coetzee en ds Karlie Liebenberg. Foto: Verskaf

Die aand is honderde ontheemde mense, baie met net die klere aan hulle lyf, by die moskee en in Bredasdorp-gemeente se kerksaal herberg gegee – die dorp se twee grootste sale naas die munisipale saal wat nie die eerste aand oop was nie.

Meer as 1 000 mense is uiteindelik vir ’n week wel in die munisipale saal gehuisves en deur die dorpsmense van kos en komberse tot babadoeke voorsien tot hulle na hulle huise, as dit nog gestaan het, of na nuwe tuistes kon gaan.

Die mense van Bredasdorp het hom geleer hulle help mekaar, ongeag wie dit is, vertel Imam Yasier Benjamin. Foto: Robert Cable

“Winkeleienaars het vir ons vertel hoe goed opgekoop is in die dorp,” sê Coetzee wat al 19 jaar leraar by Bredasdorp- gemeente is wat in 2018 die eerste gemeente in die land was waar ’n NG en VG gemeente saamgesmelt het.

“(Bredasdorp) het my kom leer van saam met mense bly … in die Bredasdorp is daar nou rêrig nie van jy’s ’n Christen en jy’s ’n Moslem en jy’s dié of jy’s daai nie. Hierso is net soos jy’s ’n B-dorper,” vertel Benjamin.

Probeer ’n mens die konflik verstaan, hoor ’n mens by plaaslike inwoners dat, soos elders in die land, die teenwoordigheid van immigrante veral spanning veroorsaak te midde van werkloosheid en agterdog rondom vreemdelinge. Veral in die Zwelitsha-woongebied. “Daar is twee groeperinge, Xhosas wat teen die Zimbabwiërs is en sê hulle vat hulle werk,” meen ds Liebenberg.

Dis wat Nic Paton van die Cape Town Interfaith Initiative ook opgeval het met hul besoek aan die dorp in Maart: “So the cracks revealed themselves. At one end, the society is more cohesive than ever before, multicultural, multi-faith, and economically mixed. But at the other, simmering with resentment towards strangers, and largely absent from the discourse that is interfaith”, skryf hy in ’n dagblad later.

Word 'n vriend van Kerkbode