Bring my woorde warmte? 

Hierdie is 'n opiniestuk.
Die skrywer se standpunte weerspieël nie noodwendig dié van Kerkbode nie.

Ek gaan aanhou droom van warmte, ook in die kerk.

Ek gaan aanhou droom oor ’n kerk wat soos ’n kaggel, ’n braaivleisvuur, ’n bonfire of selfs net ’n kers is.

Ek gaan aanhou om te wil weghol van debatte oor wie by die vuur mag kom sit of met die vuurhoutjies mag werk. 

LEES OOK: Grondhervorming: ‘Ons dra almal iemand se wonderwerk in ons’

Ek gaan aanhou hoop dat ek sal onthou dat daar ’n tyd was toe die Here my hart warm gemaak het met sy vergewende en onvoorwaardelike liefde vir my.

 Ek bely dat daar ’n tyd was toe ek die massiewe fout gemaak het om te dink dat onvoorwaardelike liefde net my eie hart hoef warm te maak.

Ek gaan onthou dat elke liewe mens wat nog ooit geleef het en nog gaan leef, instinktief en spontaan en onskuldig en opreg gaan soek na warmte.

Ek gaan probeer besef dat ek nie op my eie ’n klomp kaggels aan die brand kan hou nie, dat ek dit saam met my susters en broers – die ander lede van die opgestane, warm liggaam van Christus – moet doen.

Wanneer ek praat, gaan ek die Here vra of my woorde warmte bring.

LEES OOK: In gesprek met Elna Mouton: Maak die Bybel nog enigsins saak?

Wanneer ek opdaag, gaan ek bid dat my oë (die vensters wat my gesindheid verklap nog voordat ek ’n woord vorm) hitte uitstraal.

Wanneer ek vat, gaan ek dit saggies doen en probeer om my naaste nie te manipuleer of omvorm nie.

Ek gaan myself herinner wie die hittebron is.

Ek wil deel wees van ’n kerk wat deur mense opgesoek word omdat hulle wéét dat hulle daar warmte gaan vind.

Ek wéét dat daar genoeg vuur vir almal is. En altyd sal wees.

  • Ds Rudi Swanepoel is leraar by die Andrew Murray Gemeente in Johannesburg. Die stuk hierbo is geskryf na afloop van ‘n drie-dag byeenkoms van sinodale verteenwoordigers wat byeengebring is deur die Algemene Sinode van die NG Kerk se taakspan wat moet aandag gee aan anti-rassisme, geregtigheid en versoening.
Word 'n vriend van Kerkbode