In pas met die (lewende) God : Daaglikse brood

Hierdie is 'n opiniestuk.
Die skrywer se standpunte weerspieël nie noodwendig dié van Kerkbode nie.

Die twee rampe wat KwaZulu-Natal die afgelope nege maande getref het, dwing ons om indringend na te dink oor die kerk se reaksie op rampe. Klimatoloë waarsku gereeld dat natuurrampe ons al meer gaan tref. Hier in Suider-Afrika sien ons dit gebeur. Dink net aan die droogtes in die Oos- en Noord-Kaap en in Namibië, die brande in die Wes-Kaap en Vrystaat en nou die oorstromings in KZN.

Die kerk is dikwels die eerste lyn van hulpverlening as ’n ramp tref: Daar is orals gemeentes met mense met ’n sagte hart en die vermoë om te organiseer. God het nog altyd sy kerk gebruik om in moeilike tye te help en te red.

Die Taakspan Navorsing het ná verlede jaar se plundering in KZN ’n klein navorsingsprojek geloods om uit te vind hoe hierdie hulp kan lyk. Een van die uitkomste, wat ons sekerlik nie moet verbaas nie, was dat die kerk kos moet versprei. Die eerste behoeftes in ’n ramp is kos, skoon water en skuiling.

Suid-Afrika is ’n land met lae voedselsekuriteit. Nie in die sin dat hier nie genoeg kos in die land is nie. Wel dat miljoene mense net een dagloon weg is van honger. En wanneer ’n ramp tref, is duisende mense sonder kos.

Lees ook: Meer soos God, die wêreld in

Ek dink baie na oor die Ons Vader-gebed. Dit is nie net ’n riglyn vir ons gebede nie, dit is ook ’n raamwerk om oor die lewe en wêreld te dink. Wanneer Jesus hierdie gebed vir ons gee, wil Hy ons aandag op die belangrikste dinge in die lewe vestig. Eerstens leer Hy ons om te bid vir die koms van God se koninkryk, dat sy wil op aarde sal geskied. Dan leer Hy ons om te bid vir daaglikse brood.

“Daaglikse brood …” Die mense van die vroeë kerk het verstaan wat Hy sê. Baie was dagloners en môre se kos het afgehang van die loon wat hulle vandag verdien. Daar is ’n bietjie onsekerheid oor die betekenis van die Griekse woord wat ons met “daaglikse” vertaal. Dalk beteken dit eerder “môre se brood”. Waaroor ons wel seker is, is dat dit nie beteken “… laat ons spense en yskaste gevul wees met ’n maand se voorrade” nie. Dit is die gebed van iemand met lae voedselsekuriteit, wat van dag tot dag oorleef. Dit is die gebed van miljoene mense in Suider-Afrika.

Jesus leer ons ook om te sê “ons”: “Ons Vader, … ons daaglikse brood”. As ons in pas leef met God, kan ons onsself nie losmaak van die nood van ons medemens nie. Sy behoefte aan daaglikse brood is ons saak. Wanneer jy vir iemand sy daaglikse brood gee, gebruik God jou om hierdie kollektiewe gebed te verhoor.

Dr Lourens Bosman is die algemene bestuurder in die kantoor van die Algemene Sinode.

Word 'n vriend van Kerkbode