Pinkster: Pelgrims genooi vir staptog langs Tuinroete

Enigeen is welkom op die Pelgrims-Pinksterstap, so 100 km oor ses dae vanaf Avontuur op die Prins Alfredpas tot by Herold gedurende 29 Mei tot 2 Junie.

Dié idee is gebore uit ’n ‘impromptu gesprek’ tussen ds Gert Nothnagel van die NG gemeente Heroldt en dr Nico de Klerk, die pelgrimsprof van Wellington. Só hoor Kerkbode by Nothnagel, die dominee wat een van die dryfvere was agter die Tuinroete-been van die Pelgrimstog van Hoop wat verlede jaar bekendgestel is. “Ons is soveel geseën deur die Pelgrimstog sedert dit verlede jaar bekendgestel is, ons wil ’n bietjie teruggee,” brei hy verder uit, daarom dat die gewone kostes nie gevra word vir mense wat wil saamstap nie. Mense kan ook net saans vir die dienste kom as hulle wil, voeg hy by.

Lees ook: Nuwe pelgrimsroete: Geloof, hoop en roosterkoek

Wat kan deelnemers prakties verwag? Ds Gert Nothnagel vertel meer:

“Ons stap elke dag so 20 km na ’n volgende plek waar die aand se diens by ’n naburige kerkie gaan plaasvind. Dit is dus ses aande op pad gedurende Pinksterweek wat begin by Avontuur op die Prins Alfredpas en eindig met ’n rusnaweek op Heroldt, so halfpad tussen George en Oudtshoorn.

  • Enige een is welkom om gratis saam te stap elke dag – die pad is gemaklik om te stap. Jy het tekkies en ’n waterbottel nodig, asook ’n bietjie padkos – ons stop halfpad vir iets te ete.
  • As jy wil oorslaap sal die bed en etes jou so R200 vir die dag kos (bring asb jou eie slaapsak).
  • Ons sal jou bagasie vervoer en jy kan net met ’n ligte dagpak stap.
  • Saans gaan dr Nico de Klerk die Pinksterdienste waarneem en gesels oor die Gees van ’n Pelgrimstog (vir meer hieroor sien onder).
  • Ons slaap dan oor op die plek waar die diens gehou word en vertrek die volgende oggend na die volgende kerkie in die gemeente (Hierdie ritme is van Maandag tot Donderdag).
  • Ons het nie Vrydag- en Saterdagaand dienste nie (’n mens kan wel Vrydagoggend nog ’n 20 km saam stap met ’n lekker verrassing op die roete.
  • Ons eindig Vrydag op Herold met Saterdag 4 Junie ’n rusdag en Sondagoggend ’n Pinksterfees en nagmaal om 10 vm in Herold NG gemeente se kerkgebou.

“Almal is welkom – ons sal reël vir vervoer vanaf Herold na die begin van die stap.”

Bespreek plek by ds Gert Nothnagel (082 829 5407) voor Sondag 29 Mei 2022. Die volle afstand vir die Pinkster-Pelgrimstap is 100 km op ’n gedeelte van die Pelgrimstog van Hoop.

Wat kan pelgrimstappers op die Pinkster-Pelgrimstap verwag? Dr Nico de Klerk vertel meer:

’n Pelgrimstog skep ’n gevoel van opwinding en verwagting en gewoonlik is pelgrims nie teleurgesteld nie. Die regte benadering en voorbereiding is egter noodsaaklik, want dit is nie net ’n staptog of vermaak nie, maar dit is dit ook.

’n Pelgrimstog werk soos ’n sleutel in ’n mens se lewe. Dit ontsluit wat ontsluit moet word. Die Pelgrim-Pinkster kan beleef word as ’n pelgrimstog waar ons net die pad volg en die klem meer val op die ervaring en om dit wat vir ons gegee word te prosesseer. Daarom word lidmate en deelnemers gevra om met vrae te kom. Dit mag wees dat net die vrae hanteer word in die lig van die inhoud van Pelgrimsteologie.

Ons tema vorm ook ’n oop begrip soos byvoorbeeld Pelgrimsteologie lei tot die “Camino Mindset” of God op pad met ons. My verstaan van pelgrimstog het ontwikkel tot “Pelgrimstog kondenseer jou lewe en distilleer die essensie”.

Pelgrims beskryf gewoonlik die ervaring deur te sê “my lewe sal nooit weer dieselfde kan wees nie”. Dit neem nie weg dat daar soms tye is wat ’n mens moeg is en wonder hoekom jy dit aan jouself doen nie.

Een versoek: Bring asb ’n klein item saam wat vir jou betekenis het. Jy hoef nie die item vir enige iemand te wys nie.

  • Dr Nico de Klerk bied ’n Pelgrimsteologie as ’n kort aanlyn kursus aan onder die vaandel van die Hugenote Kollege, Wellington.
Word 'n vriend van Kerkbode