Van Aarde (in persoon) vir ‘meesterstuk’ bekroon

Die Andrew Murray-Prysfonds slaag sedert sy begindae daarin “om erkenning te verleen aan diverse bydraes” en die keuse van prysfondswenners getuig dat dit “die moed het om na nuwe stemme te luister”.

Met hierdie woorde, geleen by ’n vroeëre Kerkbode-boekeredakteur, het dr Frits Gaum die 44ste Andrew Murray-Prysfonds-toekenningsaand op Vrydag 27 Mei geopen in die Jubileumsaal van die sentrum op Wellington wat na dieselfde teoloog en skrywer vernoem is.

Vrydagaand was die eerste keer in twee jaar wat die geleentheid met ’n in-persoon-samekoms gevier kon word sedert die aanvang van die Covid-pandemie.

Prof Nico Koopman het die Andrew Murray-Desmond Tutu-prys vir teologiese boeke aan prof Andries van Aarde oorhandig vir sy tweevolume-werk, Jesus, Paul and Matthew, wat deur die beoordelaars as ’n meesterstuk beskryf is.

Die Andrew Murray-Desmond Tutu-prys vir teologiese boeke is aan prof Andries van Aarde oorhandig vir sy tweevolume-werk, Jesus, Paul and Matthew, wat deur die beoordelaars as ’n meesterstuk beskryf is.

Proff Louis Jonker en Ernst Conradie het die Andrew Murrayprys vir algemene Christelike boeke in ontvangs geneem vir die 2020-heruitgawe van hulle boek Die Bybel in fokus: Hoe om gelowig én denkend te lees. Dié boek, waarvan ’n beperkte oplaag oorspronklik in 1997 verskyn het, se derde skrywer, prof Jan Botha, kon nie die aand bywoon nie.

In sy bedanking het Jonker gesê dit beteken vir hom persoonlik baie dat die Prysfonds voortgaan om erkenning te gee aan Bybelwetenskaplike publikasies soos dié van Van Aarde en hulle eie boek. As iemand wat self al onder kritiek vir sy teologiese benadering tot Skrifhantering deurgeloop het, het hy verduidelik dat dit jare terug vir hom baie beteken het om te besef dat dr Murray, in wie se saal die aand se prysoorhandiging gehou word, ’n noue vriend was van prof Johannes du Plessis, die teoloog wat in die 1930’s in kerklike kringe as omstrede gesien is vanweë sy teologiese beskouing.

Vanjaar se Prysfondswenners wat die aand in persoon kon bywoon, was van links: professor Andries van Aarde, dr Roedolf Botha, Laurie Gaum, professor Ernst Conradie, Piet Smit en professor Louis Jonker.

‘Groeiende wetenskap’

Gaum tydens sy spreekbeurt as voorsitter van die Andrew Murray-Prysfonds vanweë gesondheidsredes sittend vanuit die voorste ry gepraat met die gaste onder wie teoloë soos prof Nico Koopman, huidige viserektor van die Universiteit Stellenbosch en prof Denise Ackermann, die eerste vrou in Suid-Afrika wat ’n volle professoraat in die teologie beklee het, om maar ’n paar te noem.

Hoewel daar deesdae ’n mate van kritiek op aspekte van Andrew Murray se teologie is, is dit uit waardering vir Murray se bydrae van sowat 200 teologiese boeke dat die Prysfonds na Wellington se bekendste prediker vernoem is, volgens Gaum.

“Niemand se teologie is finaal of mag nie gekritiseer word nie. Dit is nou maar so vir almal wat hulle met die teologie besig hou omdat dit ’n groeiende wetenskap is,” het Gaum gesê binne ’n konteks waar vanjaar se keuse van Prysfondswenners ook reeds onder ’n mate van kritiek vanuit kerklike kringe deurgeloop het.

Ander wenners

  • Dr Roedolf Botha het die Desmond Tutu-Gerrit Brandprys vir debuutwerk gewen vir sy boek Jesus-leierskap.
  • Die gospelsanger Piet Smit het die Andrew Murray-FAK-toekenning vir sy musiekbydrae ontvang.
  • Prof Susan Rakoczy was vanjaar se enigste vrouewenner. Sy het die CLF-Elise Tempelhoff-toekenning vir omgewingsbewaring en geregtigheid ontvang vir ’n akademiese artikel, “God as Father: Patriachy and climate change”, wat in 2019 verskyn het. Die feministiese teoloog het ontvangs erken van haar toekenning via Zoom vanuit Amerika waar sy die laaste paar jaar woon.
  • Vir Gaum, wat ’n jarelange verbintenis met die Prysfonds het, was dit persoonlik ’n besondere aand. Een van sy seuns, Laurie Gaum, is vereer met die Jaap Durand-Denise Ackermann-toekenning vir Eenheid, Versoening en Geregtigheid. Die toekenning is gegee vir die bydrae wat Laurie by gemeentes lewer om met werkswinkels “veilige ruimtes te skep waar heling kan plaasvind tussen ‘straight’ en ‘queer’ gelowiges”, soos verwoord in die aand se inligtingspamflet.

Die skrywer Bettina Wyngaard het die aand se verrigtinge aangebied.


Regstellling

Die oorspronklike weergawe van die berig hierbo het twee feitefoute binne ’n aanhaling deur prof Louis Jonker bevat.

  • Dat Andrew Murray prof Johannes du Plessis se biograaf was.
  • Dat Murray vir Du Plessis ondersteun het tydens die kerksaak waarin Du Plessis van kettery aangekla is.

’n Leser, Coenie Greeff, het uitgewys dat:

  • Du Plessis inderwaarheid ’n biograaf van dr Murray was.
  • Dat Murray reeds oorlede was toe die Du Plessis-saak plaasgevind het en daarom nie sy steun aan Du Plessis kon bied nie.

Greeff verskaf voorts die volgende tydlyn ter verheldering:

  • Andrew Murray oorlede op 18 January 1917
  • Biografie oor Andrew Murray geskryf deur Johannes du Plessis 25 Julie 1919.
  • Die Kerksaak tussen Prof. J. du Plessis en die Ned. Geref. Kerk in Suid-Afrika. (in Afrikaans) Kaapstad, duur Februarie 1930 tot 1932.

Murray kon dus nie vir Du Plessis gedurende die kerksaak ondersteun het nie.

Kerkbode het by Jonker bevestig dat hy korrek aangehaal is in die oorspronklike berig. “Dit was inderdaad ’n glips van die vinger in my skriftelike antwoord aan (die Kerkbode-verslaggewer) om te sê dat Murray die biograaf van Du Plessis was. By die oorhandigingsgeleentheid het ek dit egter beslis korrek gesê,” aldus Jonker. – Red.

Word 'n vriend van Kerkbode