STREEKNUUS | ‘Daai warm gevoel van saamwees’

Soos manna uit die hemel. So beskryf ’n gemeentelid van die NG Kerk op Prince Alfred Hamlet ’n kerkkonsert waar mans in tutu’s gedans het, oefenballe in die lug gegooi is en daar heerlik saam geëet is op Vrydag 27 Mei.

Dié geleentheid is gehou om humor, samesyn en lewenslus terug te blaas in dié gemeente wat, soos heelwat ander in die land, “lewensmoeg” gevoel het na twee jaar van isolasie en aanlyn kerk.

“Ons het lekker ons name geruk, maar dit was ’n aand wat ons nie gou gaan vergeet nie,” sê dié gemeente se leraar, ds Jan Grobbelaar.

Kostuums van alle soorte is op die kerksaal se verhoog gesien – kleurvolle uitrustings in ’n 70’s styl vir ’n vertoning van ’n Abba-liedjie; blokkieshemde en cowboy-stewels vir ’n dans op die country-liedjie Achy Breaky Heart; en selfs goudgeel balletrokkies en kaal bolywe vir ’n vertoning deur die katkisante.

Soos manna uit die hemel. So beskryf ’n gemeentelid van die NG Kerk op Prince Alfred Hamlet ’n kerkkonsert waar mans in tutu’s gedans het, oefenballe in die lug gegooi is en daar heerlik saam geëet is op Vrydag 27 Mei, berig Ané van Zyl. Foto: Herman Snyman

Daar was selfs ’n aanpassing van die sprokiesverhaal Rooikappie wat deur inwoners van die aftreeoord Gydosig opgevoer is. Dié bekende storie is aangepas by die akteurs se ouderdom, wat gesorg het vir groot pret en wye glimlagte.

Die sowat 200 gemeentelede wat die geleentheid bygewoon het, het geskaterlag vir die kaskenades van dié wat braaf genoeg was om dit op die verhoog te waag.

Na die vertoning is kerriekos bedien en elkeen het gesmul en gesels oor die kreatiwiteit van gemeentelede. Daar is van aangesig tot aangesig gekuier, en ’n warm gevoel van saamwees het die saal gevul.

Dié konsert is Saterdag gevolg deur die kerk se jaarlikse basaar waar daar oudergewoonte aan pannekoeke, vleis en soetgoed gesmul is.

Word 'n vriend van Kerkbode