Die geskenk van liggaamlikheid

Hierdie is 'n opiniestuk.
Die skrywer se standpunte weerspieël nie noodwendig dié van Kerkbode nie.

In die fliek To the bone (2017), wat die storie van ’n 20-jarige vrou wat met anoreksie worstel vertel, word verskeie belangrike vrae oor ons verhouding met ons liggaam gevra. Tog is daar veral een sentrale vraag – na gelang van die film se tagline, “don’t fade away” – wat die film vra, naamlik: Is my liggaam my vyand?

Liggaamsvyandigheid sou verskillende gestaltes kon aanneem, maar dit is veral interessant om te let op hoe dit deurskemer in ons taalgebruik. Dink aan die Platoniese idee dat die liggaam die kerker van die siel is, of aan Descartes se bekende slagspreuk ‘ek dink, daarom is ek’. Die siel (soos by Plato), of rasionaliteit (soos by Descartes), staan hiermee verhewe bo liggaamlikheid; en die liggaam word ’n middel tot ’n doel.

LEES OOK: Die geskenk van verwondering

Maar ons sou ook kon dink aan voorbeelde van liggaamsvyandige taalgebruik in die kerk. Dink maar aan hoe Paulus soms praat oor liggaamlikheid, in byvoorbeeld Romeine 7:24 se “Ellendige mens wat ek is!”, met die versugting om verlos te word van “hierdie doodsbestaan” (in Grieks, ‘hierdie liggaam van die dood’). Dink aan die kerkvader Irenaeus, vir wie die mens ‘ware rasionaliteit’ sou verloor met die sondeval, en vir wie dit beteken dat die mens na die beeld van God geskape is, om rasioneel (in ooreenstemming met Godsgeregtigheid) te leef.

In haar boek I am my body (1995), argumenteer die Duitse feministiese teoloog Elisabeth Moltmann-Wendel dat ons, onder andere, moet leer om ons liggaam te bevriend. Sy vra om ’n ‘liggaamshervorming van die kerk’, waarin die vergete geskenk van aanraking – om aan te raak, en om aangeraak te word – sentraal staan. Dit is juis aanraking, meen Moltmann-Wendel, wat ons weer in staat stel om ons eie liggaam te ervaar, aanvaar en te bevriend.

Moltmann-Wendel verwys na verskillende situasies waarin Jesus mense – mense wat siek is, mense met melaatsheid, mense met gestremdhede – aangeraak het. Aanraking is genesend, meen sy, en ’n herinnering daaraan dat ook ons liggaam goed geskep is en goed genoem word deur God. Ons liggaam verdien om bevriend te word.

LEES OOK: Die geskenk van vreemdheid

Tog is hierdie bevriendingsproses nie ’n eenmalige gebeurtenis nie. In sy boek The body keeps the score (2014), skryf die Amerikaanse traumaspesialis Bessel van der Kolk oor die belangrikheid daarvan om ons liggaam opnuut te kan bevriend na traumatiese ervarings. Die bevriending van ons liggaam is ’n lewenslange, soms komplekse, reis.

Ons hét immers nie net liggame nie, ons ís ook liggame, sou die Amerikaanse gereformeerde teoloog David Kelsey, in sy Eccentric existence (2009), aanvoer. Sowel Moltmann-Wendel as Kelsey wys daarop dat ons geen ander manier van bestaan in die wêreld ken, as ’n beliggaamde bestaan nie. Om mens te wees, is om ’n liggaam te hê én ’n liggaam te wees.

Vir die vroeë kerk, en by die kerkvaders in die besonder, sou dit van die allergrootste belang wees dat die heilswerk van Christus alreeds by die vleeswording begin. So dikwels, veral binne die gereformeerde tradisie, wil ons die verlossingskern van die evangelie beperk tot Christus se dood en opstanding. Tog is daar geen kruisiging, geen opstanding, geen hemelvaart, geen Pinkster, en geen kerk sonder Christus se vleeswording nie.

LEES OOK: Die geskenk van kairos

Binne hierdie tradisie begin Christus se heilswerk alreeds by die vleeswording. Christus wat mens word, en derhalwe ’n liggaam is én ’n liggaam het, word ingesluit by die goeie nuus van die evangelie. Die evangelie ken nie ’n verlossing buite om die belydenis dat Christus gebore is van Maria nie.

Trouens, so belangrik sou hierdie belydenis vir die vroeë kerk wees dat heelwat meer leerdwalinge geken is as slegs die ontkenning van Christus se goddelikheid. Ook die ontkenning van Christus se volle menswees is as ’n kettery binne die kerk beskou, soos byvoorbeeld by dosetisme, wat sou beweer dat Christus nie werklik en volledig mens was nie.

Nuwer teologiese ontwikkelinge in die vorm van ontluikende navorsingsvelde soos liggaamsteologie en disability teologie is juis daarom opwindend – en belangrik, want dit maak erns met die eg menslike ervaring van ’n liggaam wees en ’n liggaam hê. Liggaamlikheid lê immers aan die hart van die evangelie.

Dit beteken ook dat teologiese navorsing wat erns maak met gender, seksualiteit, ras, trauma en disability ’n direkte reaksie is op die sentrale rol wat liggaamlikheid – Gods weerlose liggaam in die krip, Gods gebroke liggaam aan die kruis, Gods verwonde liggaam na die opstanding – in die evangelieverhaal speel.

Die sakrament van die nagmaal herinner ons daaraan dat hierdie geskenk van liggaamlikheid, in Christus se gebroke liggaam en vergote bloed, aan ons die heil bemiddel. Die kerk word immers die liggaam van Christus genoem.

Dalk daag Gods vleeswording ons uit om die geskenk van liggaamlikheid te ontvang, en ons eie liggaam te bevriend, juis omdat ons bely dat Christus se weerlose, gebroke, verwonde liggaam vir ons goeie nuus is: die bron van ons heil en florering.

  • Dr Nadia Marais doseer Sistematiese teologie aan die Universiteit Stellenbosch en is as predikant gekoppel aan die NG gemeente Stellenbosch-Welgelegen.