Jeugdag 2022: Jongmense, mag julle altyd die lig kies

Hierdie is 'n lesersbrief.
Die opinies van briefskrywers weerspieël nie noodwendig die standpunte of oortuigings van die Kerkbode-redaksie of die NG Kerk nie.

David Magerman van Komaggas skryf: ’n Mens kry keuses om te maak tussen reg en verkeerd. Tussen lig en donker, tussen lewe en dood. Maar tog is daar ’n derde keuse ook, die keuse om nie te kies nie, beter gestel om albei te kies. Dit is soos om wydsbeen te loop, soos om in albei bane in die pad te ry. Dit is die gevaarlikste keuse. Soos ons in kerktaal sê, die keuse tussen God en Mammon. Om albei aan te hang, hierdie tipe persoon is slegter as die een wat teen die lig of lewe gekies het. Almal van ons moet die een of ander tyd besluit wie ons gaan aanhang, die lewe of die dood. Ons moet kies tussen lig of donker …

LEES OOK: Jaco Strydom gesels met Nadia en DJ Muller: Dominees in die gemeente en die gemeenskap

Jongmense, mag julle altyd die lig kies. Mag julle die ligdraers wees in die land van ons, wat soveel donkerte het. Sodat julle ’n verskil sal maak en help om die wêreld ’n beter plek te maak. Die keuse vir lig sal nie elke keer maklik wees nie, want dit is makliker om vir die donkerte te kies. Dit is makliker, ja, maar nie bevredigend nie. Kies vir die lig, sodat jy daar waar jy is, jou eie unieke lig kan versprei. ‘This little light of mine, I’m gonna let it shine.’ Mag ons jeug, die leiers van môre, die lig, wat in hulle is, laat skyn. God se eerste handeling was juis: “Laat daar lig wees en daar was lig.” Julle is mos die lig van die wêreld.

Die verhaal word vertel van die wit hond en swart hond wat resies gehardloop het. Elke keer voor hulle begin hardloop het, het die eienaar gesê, die wit hond gaan vandag wen. Dan wen die wit hond. Die volgende keer het hy weer gesê, vandag gaan die swart hond wen, dan wen die swart hond. Die mense vra hom toe, hoe weet jy elke keer watter hond gaan wen? Hy antwoord dit is maklik, die een wat ek wil hê moet wen, gee ek kos. Die ander een wat ek nie wil hê moet wen nie, gee ek nie kos nie.

So, liewe jongmense, wie in jou lewe gaan wen, reg of verkeerd, lig of donker, lewe of dood, dis jou keuse. Die een wat jy besluit om te voed … dis die een wat sal wen in jou lewe. Ek hoop en bid jy kies en voed die lig waartoe jy geroep is. Blessings.


Regstelling

Die oorspronlike weergawe van die brief hierbo het ’n aanhaling bevat wat verkeerdelik aan oud-pres Nelson Mandela toegeskryf is. Die aanhaling (dat Mandela sou gesê het “Ons grootste vrees is nie dat ons ontoereikend is nie …”) is verwyder. Lees HIER meer oor die aanhaling wat dikwels aan Mandela toegedig word. – Red.

Word 'n vriend van Kerkbode