Liedboekgids – U omring my met liedere deur Daleen Kruger
Uitgewer: Bybel-Media, 2021
Resensent: Rethie van Niekerk
Ek onthou uit my studentedae by die Kweekskool op Stellenbosch, bidure met proff Gawie Cillié en Pieter van der Westhuizen – prof Cillié regop langs die klavier, gesangeboek in die hand, De Villiers krom gebuig oor die klavier, terwyl hulle vir ons klomp Filistyne ’n waardering vir die klassieke kerklied probeer leer. Cillié sou allerhande interessanthede rondom die verskillende liedere vertel. In Liedboekgids is so ’n “historiese oorsig van die liedere in die Liedboek” nou vir elke leser toeganklik.
Hierdie is ’n allemintige werk van ryke akademiese en historiese belang. Veral predikante en mense met ’n liefde vir kerkmusiek sal dit waardeer. Kruger gee inligting van 451 liedere uit die Liedboek van die Kerk. Telkens is daar ’n bydrae oor die teks, asook die melodie. Biografiese inligting oor skrywers en komponiste oorheers.
In my soeke na drama was ek aanvanklik teleurgestel. Liedboekgids fokus op feite, eerder as narratief. Hier is nie romantiese stories oor muise wat aan orrels kou en onbedoeld fabelagtige melodieë inspireer nie.
Tog ontdek ’n mens tussen die feite roerende skatte, stories oor interessante karakters en inspirerende melodieë, van die drama van oorlog en verlies tot die komiese van menswees. Om te weet dat Lied 160 tydens die bou van die Berlynse muur geskryf is, verleen nuwe dimensies aan die “Inkoms en uitgang”. As jy hoor dat Lied 186 aanvanklik as “te springerig, daktilies en nie ernstig genoeg nie” beskou is, waardeer jy “Ons kom loof U as ons Vader” dalk ook meer.
Wat my moontlik die meeste verras het, was hoe ekumenies die boek is, met heelwat invloede uit Wes-Europa en Noord-Amerika, maar ook uit Suid-Amerika, Indië en Nieu-Seeland.
Hierdie stewige naslaanwerk is beskikbaar by Bybel-Media (Bestel per e-pos via bestel@bmedia.co.za).
Ds Rethie van Niekerk is predikant by Blouwaterbaai Familiekerk in Gqeberha.