Daar is verskeie redes waarom ’n groot groep voormalige nasionale dienspligveterane op die vooraand van pensioenouderdom nog onverwerkte trauma het. Dr Roelf Schoeman verduidelik hoekom hulp aan hierdie groep nie net ’n saak tussen ’n veteraan en ’n berader behoort te wees nie, maar in hulle plaaslike gemeenskappe geanker moet wees en hoe gemeentes ’n groot bydrae in hierdie verband kan maak.
Soeke na afsluiting
Van 1974 tot 1994 het ongeveer 600 000 wit mans verpligte militêre diens verrig. Verskeie faktore het daartoe bygedra dat duisende van hierdie voormalige Nasionale Diensplig (NDP) veterane ’n lewensuitkyk ontwikkel het wat afsluiting van die oorlog verhinder.
Vir van hulle was dit ’n uitdaging om na hulle terugkeer van die Grensoorlog af weer tuis te raak en aan te pas in die samelewing. Dit was ook ’n uitdaging om saam met die res van die bevolking in ’n proses van voortdurende transformasie hulle plek in ’n nuwe bestel te vind. Hierdie proses van verwerking, heraanpassing en afsluiting van die oorlog was vir die meeste van hulle nie maklik nie omdat hulle nie hierin deur hulle plaaslike gemeenskappe ondersteun is nie.
LEES OOK: As die kerk nie help met heling van dienspligtrauma nie, wie sal?
Van hierdie voormalige NDP-veterane voel skaam en skuldig oor apartheid en hulle eertydse betrokkenheid om dit in stand te hou, maar weet nie hoe om as individue restitusie te doen nie. Ander voel weer soos slagoffers van transformasie en het in ’n ‘laertrekmentaliteit’ verval en hulleself geïsoleer. Voortdurende politieke en rasgebaseerde uitsprake oor regstellende aksie, wit bevoorregting, grondonteïening, plaasaanvalle en die toename in misdaad en geweld het tot verdere polarisasie en isolasie gelei. Tydens die Boetmandebat wat onder leiding van Chris Louw in 2001 begin het, het van hierdie voormalige NDP-veterane vir die eerste keer ’n geleentheid gehad om oor hulle innerlike konflik en worsteling met die verlede te praat.
Sedertdien was voormalige NDP-veterane in verskeie inisiatiewe betrokke om afsluiting te kry. Hulle het mekaar begin opsoek, veterane-organisasies tot stand gebring en boeke oor hulle ervarings tydens die Grensoorlog geskryf. Hulle het betrokke begin raak by besoeke aan slagvelde, jaarlikse herdenkingsdae, seremoniële byeenkomste, rituele en die deel van hulle ervaringe op sosiale media. Hoewel van hulle sodoende gedeeltelike afsluiting ervaar het, is volledige afsluiting in die onafgehandelde transformasieproses in Suid-Afrika egter ’n onwaarskynlikheid.
As gevolg van die onafgehandelde transformasieproses ervaar van hierdie veterane steeds verskillende vorme van verlies. Talle bevind hulle ook in verskillende fases van die verwerking van oorlogsverwante verlies, trauma en negatiewe herinneringe. Benewens oorlogsverwante trauma soos Post-Traumatiese Stresversteuring (PTSV) ervaar van hulle morele verwonding. Morele verwonding tree in wanneer ’n soldaat die mandaat van die oorlog, of om iemand anders dood te maak, begin bevraagteken. Onthullings tydens die Waarheid-en-Versoeningskommissie (WVK) en die Afrikaanse politieke leiers en kerke wat verskoning gevra het vir apartheid het veroorsaak dat van die voormalige NDP-veterane morele verwonding ervaar het. Die vraag waarmee sommiges worstel is: ”Hoe kon die leiers van die Afrikanergemeenskap, wat my ’n mandaat gegee het om mense dood te maak, verskoning vra vir dit waarvoor ek geveg het?”
Só kan gemeentes help
’n Groot groep voormalige NDP-veterane wat by die gewapende stryd tussen 1986 en 1994 betrokke was, bereik nou aftreeouderdom. Die algemene tendens onder oorlogsveterane van die Eerste en Tweede Wêreldoorlog, en veral van die VSA/Viëtnam-oorlog, was dat van hulle eers ná aftrede begin het om werklik die traumatiese ervarings wat hulle tydens die oorlog meegemaak het, intens te beleef.
LEES OOK: ‘Daar gaan Stan … om genesing vir ander se wonde te vind’
Hoe behoort ons ons eie voormalige NDP-veterane, wat so baie vir ons land opgeoffer het, te ondersteun? Baie van hierdie veterane wil steeds ’n bydrae tot die samelewing lewer. Hulp behoort nie net ’n saak tussen ’n veteraan en ’n berader te wees nie, maar in plaaslike gemeenskappe geanker te wees. Veral veterane wat morele verwonding ervaar het, het die ondersteuning van die kerke in hulle plaaslike gemeenskap nodig.
Plaaslike gemeentes kan in samewerking met veterane-organisasies veilige omgewings skep waar hulle genoeg vertroue het om oor die gevoelens van skaamte en skuld en die gebeurtenisse wat nog by hulle spook te kan praat. Deel van die genesing van morele verwonding is ook om sin en betekenis in betrokkenheid by projekte in die samelewing te vind. Die Suid-Afrikaanse Weermagvereniging het ’n verskeidenheid projekte waarmee hulle veterane bemagtig om self ’n beter toekoms te skep. Ons sal die ondersteuning van die plaaslike gemeenskap om hierdie projekte te maak werk waardeer.
Ondersteuning behoort nie beperk te word tot slegs die afsluitingsproses ten opsigte van die verlede nie. Toerusting om effektief met die huidige stresvolle lewe in ’n veranderende Suid-Afrika te kan omgaan behoort ook deel van die ondersteuningsproses te wees. Plaaslike gemeentes kan hier ook ’n bydrae lewer en kapelane beskikbaar stel om in samewerking met veterane-organisasies soos die Suid-Afrikaanse Weermagvereniging ondersteuningsgroepe vir veterane en hulle families te ontwikkel wat mekaar kan ondersteun.
- Dr Roelf Schoeman is die hoof en stigter van Elèhos Bediening wat fokus op die ontwikkeling van ondersteuningsisteme vir persone wat emosionele seer en trauma ervaar het. Hulle ondersteuning sluit in konsultasie, opleiding en kursusse aan gemeentes en ander instansies in die gemeenskap. Hy is ook die hoof van die Suid-Afrikaanse Weermagvereniging se Projek Gompou wat fokus op die ondersteuning van veterane en hulle families om oorlogsverwante trauma te verwerk.
- Hierdie artikel vorm deel van ’n promosie wat ook in die gedrukte Kerkbode van 11 November 2022 verskyn.