Sexual reformation? Theological and ethical reflections on human sexuality
Uitgewer: Pickwick Publications, 2022
Resensent: Le Roux Schoeman
Daar is min publikasies met ’n tema en aanslag waarin beide Tinder en Luther figureer. En nog minder publikasies waarin jy Luther, Tinder, Netflix en ART (Assisted Reproductive Technologies) sal raaklees. Sexual reformation? is so ’n boek … en een met ’n belangrike vraagteken in die titel, verduidelik dr Manitza Kotzé, een van die drie redakteurs van hierdie nuwe bundel.
Al drie redakteurs (drr Kotzé, Nina Müller van Velden en Nadia Marais) lewer bydraes en in Oktober op Stellenbosch het Marais op bondige wyse die doel van die projek by ’n bekendstelling verwoord as ’n ondersoek “na wat ’n seksuele reformasie binne Christelike dialoog mag behels.”
Marais het ook van haar medeskrywers via videoboodskappe aan die woord gestel by die geleentheid. Die insette was kort maar het luisteraars tog ’n voëlvlug gebied van die onderwerpe asook iets van die dryfkragte vir die artikels wat volg in die 246-bladsye sagtebandbundel, met ’n swart stofomslag waarop ’n goue appel pryk, in doringdraad omhul.
Twee refreine uit daardie videobydraes was ’n inklusiewe benadering en liggaamlike belewing as vertrekpunt eerder as nagedagte in teologiese nadenke.
Die leser verken via altesaam veertien bydraes deur Suid-Afrikaanse akademici menslike seksualiteit vanuit drie invalshoeke: Sistematies-teologiese nadenke, Bybelse nadenke en etiese nadenke. Daar is vir die kranige leser van hoogs akademiese teologiese skryfwerk soos hierdie bekende stof (Luther, Paulus, baie Barth, omvattende James B Nelson) asook – berekend so – besprekings van goed wat dikwels stil, eenkant – selfs geheim – gehou word in geloofsgemeenskappe waar mense, soos Müller van Velden uitwys, dikwels tegelyk huiwerig én oorgehaal is om vanuit ’n sekere perspektief oor seksualiteit te praat.
LEES OOK: Nadia Marais | Die taal van vasgelooptheid
“Just like the Reformation, the sexual revolution is not yet over,” hoor ’n mens by dr Jacob Meiring, wat skryf oor die teologiese nadraaie wat volg op die 1960’s se ineenstorting van voormalig normatiewe standaarde. Die leser word elders bekendgestel aan ’n prakties-teologiese nadenke oor infertiliteit, die emosionele krisis wat dit is en die stigmas wat daar rondom heers. Dr Nonthando Hadebe beskryf op boeiende wyse hoe die skandaal rondom seksuele mishandeling in die Katolieke Kerk, byvoorbeeld, drastiese skuiwe teweeg bring rondom die eeue oue “clericalism” en die geneigdheid om priesters op te hemel tot ’n punt waar hulle self begin glo hulle is iets bo almal anders in die kerk en dat hulle woord die laaste woord is. Hierdie taboe rondom die mag van ampsdraers (clergy) en institusionele kultuur, skryf Hadebe oop. Kotzé skryf oor reproduktiewe tegnologie en prof Juliana Claassens kom tot die slotsom: “Every woman who has ever suffered miscarriage or a failed in-vitro procedure knows that one has to go on. As one goes on,” skryf Claassens, “whether one ultimately succeeds in one’s effort to become a mother, or finds ways to mother in some other way, voicing reproductive loss is vital for all women and men as they are seeking to recover from reproductive loss.”
LEES OOK: Ons kort dieper vrae oor wat normaal nou eintlik is
Ashwin Afrikanus Thyssen skryf in sy bydrae (getiteld “Swipe right for love”) oor die belewenis van veral born frees in die digitale era waar sosiale media, die inhoud-aanbod op stroomdienste soos Netflix asook die gewildheid van koppelwerwe (dating apps soos Tinder) vormend vir vele is. Thyssen maak die punt dat kerk en akademiese instellings deur die tydsgees geroep word om te reageer op die tekens van die seksuele reformasie wat rééds aan ’t plaasvind is. Teen hierdie agtergrond skryf hy (met verdere verwysing na ’n publikasie waarin slegs twee vroulike bydraers deelgeneem het): “Public theology continues to remain the intellectual home of cis-gender heterosexual men, who determine both its present focus and future …” Hy gaan voort: “We ought to question why women and queer theologians choose not to use public theology as helpful theological framework.”
Lesers hoor ook name soos Pumelela “Push” Nqelenga, ’n teatermaker wie se gedig aangehaal word deur prof Charlene van der Walt, in laasgenoemde se artikel “The bra is wearing a skirt!”. Van der Walt gooi wal teen wat sy beskryf as lewe-ontnemende kompleksiteite wat ook binne geloofsgemeenskappe bestaan. “Those who find themselves embodied outside the heteronormative script’s confines often experience attempts at correction that varies from name-calling and being made fun of, to violent annihilation … Rather than being spaces of safety, care and hospitality, faith institutions often contribute to the stigmatization and violence committed to LGBTIQA+ people in the African context.” Haar reaksie is die bevraagtekening van dominante idees wat in heteronormatiwiteit gewortel is en hegemonie wat bestaan in die gebruik van Bybeltekste.
Van der Walt se betoog weerklink deur die bundel. Dat méér belewenisse in die interpretasieproses sal tel.
- Die boek kan HIER aanlyn bestel word.