Die amptelike persverklaring wat hieronder ingesluit word, is nie 'n nuusberig deur Kerkbode nie. Die persverklaring word in sy geheel hier gepubliseer vir die rekord en ter wille van lidmate se vrye toegang tot amptelike inligting in die kerk.
Ds Rodney van Wyk is onlangs as die tussentydse uitvoerende hoof van die Bybelgenootskap van Suid-Afrika (BSA) aangewys. Hy het op 1 November die leisels by ds Dirk Gevers oorgeneem wat nou die posisie van Sekretaris Generaal van die Wêreldbond van Bybelgenootskappe beklee.
Lees meer in BSA se mediaverklaring.
MEDIAVERKLARING
9 November 2022
Bybelgenootskap van Suid-Afrika wys nuwe Tussentydse Uitvoerende Hoof aan
BELLVILLE, KAAPSTAD – Ds Rodney van Wyk is onlangs as die Tussentydse Uitvoerende Hoof van die Bybelgenootskap van Suid-Afrika aangewys.
Hy neem die leisels oor by ds Dirk Gevers wat nou die posisie van Sekretaris Generaal van die Wêreldbond van Bybelgenootskappe beklee. Albei dien reeds sedert 1 November 2022 in hul onderskeie posisies.
Ds Van Wyk dien al sedert 2008 op die Bybelgenootskap se Raad van Direkteure en dra aansienlike kennis oor die Bybelmissie en die werksaamhede van die organisasie. Hy is in 2012 tot voorsitter van die Raad verkies en het vir twee agtereenvolgende termyne (ses jaar) gedien. Hy was daarna vir nog twee jaar ’n lid van die Raad.
“As ’n ware transformasionele leier het Dirk die vermoë om deur die mistigheid te sien en duidelikheid te kry rondom die eindbestemming vir die visie wat die Raad gehad het,” het ds Van Wyk sy voorganger geloof. “Die harde werk wat daar by die BSA ingeploeg is, het dit moontlik gemaak dat hierdie lewendige, energieke en talentvolle organisasie nou, met die Here se hulp, vir groot dinge bestem is,” het ds Van Wyk bygevoeg.
“Ons het die onlangse herstrukturering van die Bybelgenootskap gebruik om ons diens en aanbieding aan kerke te verbeter en uit te brei. Ons is tans besig met die vertaling van vyf nuwe eerste-vertaling Bybels en die hersiening van nog ses. Ons het ook die digitale era ten volle aangegryp en onsself geposisioneer om ’n groeiende aanlyn Bybelleesplatform te akkommodeer,” het hy verduidelik.
Ds Van Wyk se vooruitsigte vir die Bybelgenootskap is gegrond in die visie van ’n groot terugkeer na die Woord van God.
“Ons is dankbaar dat ons die Bybel in al die amptelike tale van ons land beskikbaar kan maak. Met ons nuwe, bekwame en passievolle span, wat die Woord van God lief het, wil ons nog meer mense in Suid-Afrika met die Bybel bereik. Ons is deeglik bewus van die belangrikheid van verlossing en ons glo die Bybel is die riglyn vir die talle probleme wat ons land in die gesig staar,” het hy bygevoeg.
Die aanstelling van die nuwe Uitvoerende Hoof sal in April 2023 aangekondig word.
EINDE