Bono se outobiografie is deurtrek met Bybelse verwysings, geloofsworstelinge en nederige geloofsbelydenisse, skryf Francois Mulder met die verskyning van Surrender: 40 songs, one story deur die hoofsanger van die Ierse rockgroep U2.
Vir meer as 40 jaar is dit Bono (doopnaam Paul David Hewson) se lirieke en melodieë saam met Larry Mullen jr (tromme), Adam Clayton (baskitaar) en Dave Evans (kitaarspeler bekend as ‘The Edge’) wat sy binneste poëties en melodieus weergee. Nou vir die eerste maal met hierdie boek omskryf hy die poësie van sy lirieke met uitgebreide vertellings en stories.
Deur die 578 bladsye leer ken ons die mens agter die rockster-persona met sy donkerbril. Ons lees ’n lewensverhaal gevul met vriendskap, verlies, vrees en vertroue.
Hy vat ons agter die gordyne en verhoog na die aantrekkamers en leefkamers van sy lewe. Elkeen van die 40 hoofstukke is vernoem na een van U2 se liedere.
Sy rol as eggenoot, pa, vriend, aktivis, gelowige, soeker en sanger is regdeur die boek verweef. Ons beleef sy troue met sy hoërskoolliefde Alison Stewart in 1982 (wat hy ontmoet in dieselfde week as die ander lede van U2), die geboorte van sy vier kinders asook die geboorte, byna-opbreek, uitdagings en suksesse van U2 deur die jare.
Vir Christene wat hom en sy rockgroep U2 al dekades met belangstelling dophou, is die boek inspirerend maar beslis ook uitdagend.
Met ’n Katolieke pa (Bob) en Protestantse ma (Iris) in die noordekant van Dublin, Ierland tydens die struwelinge van die sestiger- en sewentigerjare, móés daar ’n eklektiese en konfronterende geloofskreet wurg uit sy binneste.
Die boek is deurtrek met Bybelse verwysings, geloofsworstelinge en nederige geloofsbelydenisse. In die bedankings aan die einde van die boek bedank hy die “Onsterflike, Onsienlike” vir toestemming om vanuit verskillende weergawes van sy Heilige Boek te mag aanhaal. Dan bedank hy sy vriend – die oorlede skrywer Eugene Peterson – vir sy unieke “The Message” vertaling (p 564).
Geloofspad
Mount Temple is ’n nie-denominasionele hoërskool – ’n merkwaardige eksperiment vir destydse Ierland. Hier beleef Bono en vriende in die sewentigs ’n “herlewing” met Bybelstudie en bidure in dieselfde klaskamer wat dien as hulle rockgroep se oefenkamer. Dit is hier waar hulle “What a friend we have in Jesus” sing. Waar hy vriendskap ontdek as ’n sakrament.
Die charismatiese gemeente Shalom word aanvanklik ’n geestelike tuiste vir drie van U2 se vier lede. Maar, alles is nie wel nie. Die leierskap van die kerk begin al hoe meer druk plaas op hulle om die musiekwêreld vaarwel toe te roep. Hulle worstel met roepingsvrae: “Kan ons ’n rockgroep én gelowiges wees? Is ons kuns bruikbaar vir God? Sendelinge of musikante? Een of die ander?”
Hulle probeer tevergeefs hulle kerkleiers oortuig dat hulle geroep is om hulle Godgegewe musiektalente te gebruik. Daarom skei hulle paaie noodgedwonge in 1981 met hulle teleurgestelde kerk. Met die gevolg dat die unieke vermenging van roeping, passie, evangelie en rockmusiek wat U2 kenmerk, voortleef. Bono skryf: “Om ‘in die wêreld maar nie van dit’ te wees nie (Johannes 17:15-16) was die uitdaging van die Skrif wat ’n leeftyd sou neem om uit te pluis.“ Meer as veertig jaar later bid U2 steeds voor elke vertoning dieselfde gebed: “Maak ons bruikbaar” (p 8).
Sondag, bloedige Sondag
Die “Troubles” in Noord-Ierland is deel van die Ierse onderbewussyn. Dit is die olifant in die vertrek. Die pyn van lewensverlies tydens Paasfees 1916, in Januarie 1972 en op 17 Mei 1974 – toe Bono net-net die bomontploffings in Dublin vrygespring het – gee geboorte aan U2 se mees gewaagde lied: “Sunday, bloody Sunday.” Dit is ’n pleidooi vir vrede, versoening, politieke kompromieë en geweldloosheid, maar word gekaap deur sektariese republikeine vir hulle gewapende stryd teen die Britse oorheersers. Daarom skeur Bono aanvanklik tydens optredes die groen en oranje van die Ierse vlag af om net die wit gedeelte te waai as ’n kreet om vrede en ’n teken van geestelike oorgawe. Die lirieke praat van “the victory Jesus won” op die eerste bloedige Sondag in 33 nC. ’n Oorwinning vir vrede vind plaas op Goeie Vrydag in 1998 toe ’n vredesverdrag onderteken word en die twee leiers van die strydende partye vir die eerste maal bladskud op ’n konsertverhoog saam met Bono.
Die Josua-boom
U2 se 1987-album The Joshua Tree het my lewe verander met hulle lied “I still haven’t found what I’m looking for.” Dié lied het my roeping bevestig om in 1988 Teologie te gaan studeer. Bono vertel van die neem van die foto’s vir “The Joshua Tree” in die Mojave-woestyn in Kalifornië en Nevada deur hulle Nederlandse fotograaf Anton Corbijn. Laasgenoemde se vreemde uitspraak van die woord “Yoshua” – vind hulle later uit – is nader aan die oorspronklike Hebreeuse uitspraak van die Bybelse karakter Joshua waarna die “Yucca brevifolia” plantspesie vernoem is. Bono skryf oor sy verbasing toe hulle jare later besef dat Jesus en Josua dieselfde Hebreeuse/Aramese naam deel wat ‘verlossing’ beteken – net die uitspraak verskil.
“We called our most popular album The Jesus Tree. Typical …”
Liefde is groter as enigiets in die pad daarvan
Rakende die Bybel bly Bono ’n ewige student. “I am in awe of the poetic power of the Scriptures, how you can’t approach the subject of God without metaphor” (p 511).
Waarom praat Hy altyd oor die Skrif? Omdat dit hom gevoed het in die moeilikste jare van sy lewe én “they remain a plumb line to gauge how crooked the wall of my ego has become” (p 529).
In hoofstuk 37 haal hy 1 Korintiërs 13 uit The Message-vertaling aan en noem dit “the greatest ode to love in two thousand years.” Oor Paulus bely hy dat hy nog soveel te leer het by hierdie apostel wat deur die Gees getransformeer is vanaf ’n fundamentalistiese vervolger na iemand wat skryf: “No matter what I say, what I believe, and what I do, I’m bankrupt without love” (p 529).
Aktivisme
Sy aktivisme deur die jare fokus onder andere op MIV/Vigs en armoedeverligting. Hy fundeer sy betrokkenheid vanuit die meer as 2 000 Bybelverse oor armoede en ons as Christene se verantwoordelikheid. Op bladsy 215 haal hy Matteus 25:44-45 aan:
“Dan sal hulle ook antwoord: ‘Here, wanneer het ons U honger of dors of ’n vreemdeling of sonder klere of siek of in die tronk gesien en U nie gehelp nie?’ En Hy sal hulle antwoord: ‘Dit verseker Ek julle: Vir sover julle dit aan een van hierdie geringstes nie gedoen het nie, het julle dit aan My ook nie gedoen nie.’”
Selfs in die VSA in gesprekke met konserwatiewe politici, is dit sy Bybelse verwysings na naasteliefde as ’n opdrag en nié ’n voorstel nie, wat gedagtes en harte verander.
Oor oorgawe
Hoe lyk ’n lewe van oorgawe vir Bono?
“If I was in a café right now and someone said, ‘Stand up if you’re ready to give your life to Jesus,’ I’d be the first to my feet. I took Jesus with me everywhere and I still do” (p 48).
Dit is CS Lewis wat in sy boek The abolition of man die uitdaging stel om jou siel op te voed. Met die lees van Surrender ís my siel gevoed met musiek, humor en die voorbeeld van ’n diep, deurleefde spiritualiteit. Bono die rockster se voete van klei is duidelik sigbaar, maar Paul David Hewson se omgeehart skyn deur.
- Surrender – 40 songs, one story deur Bono. Uitgewer: Penguin Randomhouse. Beskikbaar in Suid-Afrika via Exclusive Books, Loot & Takealot: 2 December 2022. Hardeband Prys: R400-R600.
- Ds Francois Mulder is predikant van die NG Gemeente Blanco op George.
Uitstekende artikel! Uiters goed geskryf!
Dié artikel is ‘n móét-lees. Daarna sal jy definitief Bono se boek wil lees: Surrender – 40 songs, one story.
Uitstekende artikel!!
Gee mens soveel insig dat die boek ‘n Moet Lees is!! Dankie Francois
Wow, Ons sit hier in Cambridge, Engeland en Ek dink Baie vêr terug na U2 se optrede wat Ek en my Boetie gaan kyk het in Johannesburg!!! Ek’s nie Groot op Boek lees nie, maar gaan definitief die “audio” book soek na hierdie artikel!!!
Dink net mooi of julle rerig n man wil onderdteun wat saam met Julius Malema se “kill the boer” liedjie verdedig het. Gaan loer bietjie na 2011 artikels.
Hoekom word hierdie ongelooflike kunstenaar se verhaal nou eers vertel ? Dan praat ons nie eens van die talle projekte waarby hy deur die jare betrokke was of befonds het nie .
Thoroughly enjoyed this!! Baie interessant om meer van Bono se geestelike lewe te hoor.
Musiek word dikwels die taal van emosie genoem! Inspirerende artikel met n God storie wat elke leser se hart in God se trou sal anker .
Dankie Francois
@Klara – Jy kén mos van sensasie-joernalistiek-buite-konteks-aanhalings 😎😇? Gaan kyk die artikel in dailymaverick ( https://www.dailymaverick.co.za/article/2011-02-14-bono-malema-and-the-headlines-that-stirred-all-the-rage/ ) en lees die regte feite van destyds: “…music journalists stepped forward to say Bono had been horribly misquoted by the media.“ Bono het slegs vertel van die “oorlogsliedere” destyds in Ierland en dat hy dus die konteks in Suid-Afrika verstaan (dink aan ‘n kinderlied soos Siembamba) MAAR dat dit nie behulpsaam is in die bewerking van vrede en versoening om steeds vas te hou aan “struggle” liedere nie. Lees in my artikel oor die lied “Sunday Bloody Sunday..
Maak ons bruikbaar Heer
….. in die klaskamers sowel as in die oefenkamers,
….. in vriendskappe, verliese, vrese asook om vertroue te herstel.
We truly are ALL bankrupt without love.
Uitstekende artikel Francois! Wag op meer!