Die storie van die geboorte van Christus word op ’n baie besonderse manier vertel deur koorsang. Met sy nuwe Afrikaanse Kersoratorium, Lig van waarheid, wil hy die luisteraars neem na ’n magiese plek waar gehore hulleself in die storie kan verdiep, vertel komponis Franco Prinsloo.
Die premiere is op Sondag 27 November om 16:00 in die Groote Kerk in Kaapstad maar vir Gautengse gehore word ’n spesiale voorkonsert uitgevoer op Sondag 20 November om 15:00 by die Universiteitsoord-kerk in Pretoria.
Hierdie is sy tweede oratorium, ’n musiekterm wat beteken dit is ’n komposisie vir ’n orkes, koorsang en soliste. Kruis van liefde was sy eerste. Dié komposisie was ook die eerste Afrikaanse Paasoratorium en is vroeër vanjaar vir twee SAMA-musiektoekennings benoem.
Prinsloo skryf die koorsang vir die Vox Chamber Choir, sy eie koor wat hy in 2017 gestig het spesifiek met die doel om sy komposisies uit te voer. Die koor oefen by die NG Tygerpoort in Pretoria waar hy en hulle leraar, ds Wouter van Wyk, ’n baie goeie vriendskap het, vertel Prinsloo. Van Wyk sing ook een van die solo-rolle (Josef) in die Kersoratorium. “Die koor bestaan uit ervare koorsangers wat jare al hulleself in die koorkuns verdiep. Dit is ’n eer om met so ’n spesiale instrument te werk,” voeg Prinsloo by.
Sy uiteindelike oogmerk is om ’n trilogie van oratoria te komponeer: Kruis van liefde, Lig van waarheid en Kroon van wonders. Laasgenoemde se libretto (sangdeel) is reeds gedeeltelik deur die skrywer en digter, Hans du Plessis, voltooi.
Vir die Kersoratorium se libretto het Prinsloo en die bekende bariton, Chris Vale, ’n paar geliefde ou liedereboeke gaan afstof, by name die Halleluja-sangbundel, die Koraalboek van 1956, en ook enkele tekste uit die Sionsgesange van 1945. Die teks vir die resitatiewe is uit die 1953- en 1983-vertaling van die Evangelie van Lukas geneem.
Prinsloo vertel hy het opnuut ontdek watter ongelooflike poëtiese waarde hierdie liedtekste het. “Die tekste besit ’n besonderse ritmiese vernuf omdat dit juis geskep is om gesing te word. Dit is ongelooflik opwindend om nuwe lewe in hierdie soms vergete tekste te blaas met nuwe toonsettings,” vertel hierdie jong komponis van Pretoria wat Saterdag 12 November sy 35ste verjaardag gevier het.
Van Wyk deel die opgewondenheid. “Ek dink regtig hierdie gaan ’n toevoeging tot die Afrikaanse liedereskat wees en iets wat baie gelowiges nog vir baie lank gaan inspireer,” het hy in ’n e-pos aan Kerkbode geskryf.
Vir die Gautengse gehore gaan die bekende orrelis Isabelle van Rensburg ’n verwerking speel van die deel bedoel vir ’n strykorkes. Magdalena de Vries sal die timpane bespeel, Richard Kingon en Alex Urban die twee trompette en Esther Watkinson op die fagot. Kaartjies vir dié konsert is beskikbaar by www.tixsa.co.za of deur op hierdie skakel te klik: https://tickets.tixsa.co.za/event/lig-van-waarheid-pretoria
Kaartjies vir die Kaapse opvoering saam met die Kaapstadse Filharmoniese Orkes is by Computicket beskikbaar.