‘Wanneer kom die oordeelsdag? is ’n vraag waaroor die mensdom al vir eeue nuuskierig is en daarom het die kerk ’n eindtydbeskouing nodig wat weet hoe God met tyd werk sê prof Stephan Joubert op die eerste dag van ’n jaarlikse instelling in Pretoria, Excelsus se Lentekonferensie vir predikante en teoloë van die NG Kerk.
Die stigter van ekerk en gewilde skrywer het tydens ’n kort video-onderhoud met Kerkbode na sy aanbieding gesels oor ’n Christelike perspektief op God, tyd en die oordeelsdag, en ondermeer gesê: “Mense hou daarvan om slegte gebeure aan die wederkoms te koppel … maar Jesus is op rekord dat die einde deel is van die realiteit maar dat die einde oop is. Die Nuwe Testament draai nie doekies om nie dat Christene rolspelers is in die bepaling van die einde en daarom is die Nuwe Testament nie behelp met ’n dag en ’n datum nie”.
KYK die volledige aanbieding:
Joubert asook glanspersoonlikheid Amore Bekker en uittredende Excelsus-hoof, dr Andre Bartlett, is die drie hoofsprekers by vanjaar se konferensie wat strek van 19-21 September. Die tema is ‘As it is in heaven. Kerkwees hier en nou’ en word aangebied deur Excelsus, die NG Kerk se sentrum vir bedieningsopleiding in samewerking met die Hervormde Teologiese Kollege en die VBO-Forum van die NG Kerk.