Sy sosiale media voer is groen en dit bruis van vreugde, maar so lekker soos wat dit is om alles te (probeer) kyk, voel hy elke nou en dan oorweldig deur emosie. Dan haal hy maar eers weer diep asem en sê stilletjies dankie vir hierdie genade, skryf Rudi Swanepoel na aanleiding van die Springbokke se historiese vierde wen van die Wêreldbeker die afgelope naweek.
Lees hier verder:
Dis ’n goue Maandag.
Die mense by die winkel skerts oor hulle ekstra breë glimlagte en iemand vertel dat hulle amper-amper nie gaan werk het nie weens die gerug dat Suid-Afrikaners vandag ’n vakansiedag (president Cyril Ramaphosa het intussen Vrydag 15 Desember as ’n openbare vakansiedag aangekondig. Red.) sou kry omdat die Bokke so briljant gespeel het.
Die hele land bars van trots.
My sosiale media voer is groen en dit bruis van vreugde. Hier en daar is daar ’n video van die haka en daai intimiderende man met sy houtswaardjie, maar ons weet almal hoe die fliek geëindig het.
So lekker soos wat dit is om alles te (probeer) kyk, voel ek elke nou en dan oorweldig deur emosie. Dan haal ek maar eers weer diep asem en sê stilletjies dankie vir hierdie genade.
En dan onthou ek die kompleksiteit van ons land, van wat dit verg om ’n Suid-Afrikaner te wees.
Want beurtkrag is bv. terug. En Donderdag en Vrydag wanneer die triomftogte van die Bokke (o heiden, EK KAN NIE WAG NIE) in onse land se stede iets van die verlede raak, gaan ons weer ons land moet face.
En ons gaan mekaar moet face: die gewone Suid-Afrikaners (en ander wat hier bly) wat loop en ry en stry en verkoop en handel dryf en onderhandel en sukkel.
Ons gaan moet dink oor hoe ons met mekaar werk, want Siya – daardie totaal en al merkwaardige kind van God en al sy ander spanmaats en die uitgebreide span wat hierdie glorie moontlik gemaak het – het nie verniet gedoen wat hulle gedoen het nie.
Die vet weet.
As hulle hulle harte kon leeg speel en hulle oogbanke laat bars het en as PSDT (Pieter-Steph du Toit) 28 moerse tackles kon doen en die oorsaak van PTSD (posttraumatiese stressindroom) vir talle teenstanders is, moet ek dalk ook oorweeg om my deel te doen.
As ek lief is vir my land, is dit nou die tyd om ook hard te speel.
As ek lief is vir my land, is hier nou ’n kans om te heroorweeg hoe ek na my naaste kyk.
As ek lief is vir my land, moet ek mooi dink hoe ek praat en met wié ek praat (of nie praat nie).
As ek lief is vir my land, behoort ek almal wat ek ken aan te moedig om te registreer om te stem in volgende jaar se verkiesing.
As ek lief is vir my land, sal ek nie moed verloor nie.
As ek lief is vir my land, mag ek aanhou om grappe te forward en myself nie te ernstig opneem nie.
As ek so lief is vir my land soos Siya en Kwagga en Pieter-Steph en Deon en Bongi en Jacques en Rassie (en die res), sal ek nie ophou tot die fluitjie die laaste keer geblaas het nie.
Uit die blou van onse hemel, Nkosi Sikelel’ iAfrika.
- Ds Rudi Swanepoel is leraar van NG Andrew Murray in Johannesburg.
- Hierdie artikel is ’n mediavrystelling of storie wat aan Kerkbode gestuur is. Dit is geredigeer vir lengte, maar basies gepubliseer soos dit ontvang is. Bron: Facebook