Bless My Bag se groei is ’n “opwindende reis van Woodstock in die Wes-Kaap tot in die verre noorde van Namibië”, vertel Thamar Jacobs oor dié projek wat val onder die beskerming van Bloubergstrand Maatskaplike Dienste by die NG Kerk Bloubergstrand en ten doel het om weerlose vroue te help. “Ons droom is om uiteindelik in elke provinsie aktiewe vrywilligers betrokke te kan hê.”
Bless My Bag het baie jare gelede begin deur my deelname destyds aan Mev Suid-Afrika waar ek onder die top-10-finaliste geplaas is. Ek voel sterk daaroor om ’n vrou met doelgerigtheid in die lewe te wees. Bless My Bag het onder andere die platform hiervoor begin skep en dit nooi vrywilligers uit om óf ’n handsak te skenk (wat goed opgepas en skoon is), en/of die vyf items wat binne die handsakke geplaas word te skenk, naamlik:
- sanitêre doekies
- lipsalf (lip ice)
- deodorant
- sneesdoekies (tissues)
- handreiniger (hand sanitiser)
Jy kan ook vir ons help deur op ’n meer permanente basis ’n vrywilliger te word. Lees meer by blessmybag.org.za.
Waar alles begin het
Ek het aanvanklik ander vroue genader wat dieselfde passie as ek deel om weerlose vroue se menswaardigheid te help herstel, en hulle het as vrywilligers by my ingehaak. Ons het toe Bless My Bag, ’n nasionale projek in Suid-Afrika, ses jaar gelede begin en op 12 Maart 2023 dit oor die landsgrens in Namibië bekendgestel.
Iets baie eenvoudig soos nuwe en tweedehandse handsakke word hiervoor gebruik. Die krag van “Iets van myne word joune” en “Ek het aan jou gedink” wanneer iemand deur ’n moeilike tyd gaan, is soos ’n goue draad deur hierdie projek geweef.
Daar is ander inisiatiewe wat min of meer dieselfde doen, maar die projek is uniek deurdat daar by organisasies/kerke betrokke geraak word wat direk met hierdie vroue werk. Ons glo dat ’n mens nie net liefdadigheid van ’n afstand af doen nie.
Die weerlose vroue met wie ons te doen kry beleef dat die lewe ’n mens nie altyd regverdig behandel nie en as gevolg hiervan is hulle weerloos. Voorbeelde is vroue wat slagoffers is van seksuele molestering, verkragting en geweld, en die skaamte en vrees hou hulle vir ’n baie lang ruk gevange. Ons dink ook aan werkloosheid wat in vandag se tyd al hoe meer aan die orde van die dag raak en sekuriteit van jou kom wegskeur, en dan jou menswaardigheid kom bevraagteken. Daar is nog ’n magdom ander voorbeelde.
Ons groei en brei uit
Ná ons ontstaan in die Kaap het ons intussen uitgebrei tot in Namibië. Daar het vroue van tradisionele stamme nog nooit eens ’n handsak in hulle lewe besit nie. Ook so in die suide van Libanon met die Jnoubi-projek, waar vroue nou weet dat hulle waarde het en dat Jesus ook vir hulle lief is.
Ons was bevoorreg om deel te kon wees van die amptelike opening van ’n splinternuwe SAPD-eenheid vir GKS (Gesinsgeweld, Kinderbeskerming en Seksuele Misdrywe) in die Koue Bokkeveld in die Wes-Kaap. So het ons verseker dat elke vroulike slagoffer ’n handsak met ’n boodskap van hoop ontvang met aanmelding by die polisiekantoor.
Ons mees onlangse uitreik was in Augustus vanjaar met Vrouemaand en ons het hande gevat met Solidariteit Helpende Hand in die Wes-Kaap met ’n uitreik by die Stellenbosch Nagskuiling.
Pragtige stories is volop en ’n besondere een dié van Anna (skuilnaam), wat op straat gewerk het en tydens ’n uitreik saam met Straatwerk in Kaapstad ’n handsak ontvang het. Twee jaar later woon Anna ’n vroue-oggendtee by waar ek die gasspreker is. Ek vertel die gehoor van die spesifieke uitreik en agter in die gehoor steek Anna haar hand op. Sy staan op en wys haar handsak wat sy ontvang het. Dit het so ’n indruk op haar gemaak met ons vertelling hoe Jesus nou na haar kyk – nuut en sonder ’n verlede, net soos ons na die handsak kyk en dit het die koers van haar lewe verander.
Soeke na vrywilligers
’n Ander pragtige storie is die werklose vrou wat met een van die uitreike so verstom was toe sy die inhoud van haar handsak sien. Sy het nie geld gehad om sanitêre doekies te koop nie en wou met trane in haar oë weet hoe ons geweet het dat sy dit nodig het.
Ons is altyd op soek na vrywilligers wat ons wil help om in nuwe plekke gevestig te raak. Ons het nodig om hande te vat met ander wat ook passievol oor die saak is om ’n verskil te help maak.
Dit maak nie saak waar in die land jy jouself bevind en hoe oud jy is nie. Ons het selfs ’n twaalfjarige in die Noordwesprovinsie wat haar merk maak om weerlose vroue by te staan met behulp van Bless My Bag.
Neem gerus die vrymoedigheid om Thamar te kontak by thamar@blessmybag.org.za indien jy wil help om ’n verskil te wees.
- Bron: via skakelbeampte.
- Hierdie artikel is ’n mediavrystelling of storie wat aan Kerkbode gestuur is. Dit is geredigeer vir lengte, maar basies gepubliseer soos dit ontvang is.
- Het jy nuus? Kontak ons gerus per WhatsApp by 072 149 1969 of e-pos: kerkbode@tydskrifte.co.za.