Die dogter van dr Jannie Theron sal op Sondag 19 November die oggenddiens lei by Aan-die-berg NG Gemeente in Johannesburg, waar Theron volle demissie met eerbetoon (tree uit bediening maar behou NG predikantstatus) sal ontvang ná hy in ’n ongeluk ernstig beseer is.
Lees meer: Leraar se toestand steeds ‘ernstig’ na vermeende tref-en-trap
Ds Sunell Ribbens het aan Kerkbode gesê dit is vir haar ’n groot voorreg om haar pa se demissiediens te lei, “maar dit kom ook met ’n groot stuk seer,” het sy bygevoeg.
Theron (62) is sowat nege maande gelede tydens ’n oggenddrafsessie raakgery en so ernstig beseer dat hy lank in ’n koma was. Hy is sedertdien ontslaan, maar is in ’n rolstoel en moet voltyds deur sy vrou Annelize, ’n opgeleide verpleegkundige, versorg word.
Ribbens is ’n gemeenteleraar by NG Gemeente PE Hoogland in Gqeberha en sê haar pa was haar inspirasie om self predikant te word.
Die ongeluk het vanjaar op 13 Februarie gebeur, skaars twee weke na sy medeleraar, dr Jurie Schoeman, se aftrede. Schoeman het sedertdien op versoek van die kerkraad weer as leraar waargeneem tot daar duidelikheid kom oor die pad vorentoe. Hy en Theron was die afgelope sowat vier jaar medeleraars by hierdie groterige stadsgemeente van sowat 700 lidmate.

Schoeman het Kerkbode vertel dit is vir hom ’n voorreg om steeds in die gemeente te dien. Hy is ook dankbaar oor die liefdevolle wyse waarop die kerkraad en gemeente sy kollega en gesin ondersteun het. “Daar is met soveel deernis en toewyding gekyk of Jannie gehelp kan word. Dit het die gemeente saamgesnoer soos jy nie kan glo nie,” voeg Schoeman by wat as leraar aanbly tot ’n nuwe predikant hopelik vroeg in volgende jaar kan oorneem.
Lees ook: Gebede vir dominee wat steeds in intensiewesorgeenheid is ná ongeluk tydens oggenddrafsessie
Ribbens het oor hierdie gemeente van Aan-die-berg gesê dat hulle as gesin so dankbaar is vir hierdie geloofsfamilie wat hulle as gesin veilig laat voel het in hierdie tyd van seer.
Die Theron-egpaar het intussen verhuis na ’n aftree-oord in Linden. Ribbens het vertel hier is ’n netwerk van mense wat haar ma kan ondersteun, want haar pa was vir 10 jaar gemeenteleraar by die NG gemeente daar tot dit in 2018 met nog ’n NG gemeente, Aasvoëlkop, in Northcliff saamgesmelt het om Aan-die-berggemeente te vorm.
Een van haar en haar twee broers, Coetzee en LJ, se grootste verliese is dat hulle nie meer kan praat soos vroeër nie, sê Ribbens oor hulle pa. “Hy was ons klankbord, maar nou moet ons staatmaak op wat ons by hom geleer het.”