Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2024

Hierdie unieke staalbome met hulle lappieskomberse doen uiteindelik meer as om mense te verwonder, dit bring ook hoop en vreugde, noem Reinette Rautenbach van Hoopstad waar hierdie Kersboom staan. Foto: Cornell Terblanche

Tamaaie Kersbome oortrek met wollappies skyn lig van hoop en vreugde


’n Oproep vir wollappies het inwoners van twee plattelandse gemeenskappe, een in die Vrystaat en die ander in Noordwes, bymekaar gebring om op hierdie manier lig en vreugde te bring met tamaaie Lappiekersbome kleurvol oorgetrek met gebreide blokkieskomberse.

In Lichtenburg het dit drie na vier dae gevat om die staalkonstruksie van 12 m hoog vir hulle “Blokkiesboom van Liefde” op te rig, vertel Nadi Duvenage van Lichtenburg in Noordwes. Dit staan op die terrein van die NG Moedergemeente, Lichtenburg Klipkerk, kleurvol oorgetrek met ’n wollappieskombers gemaak van meer as 3 000 lappies wat sowat 120 vroue op die dorp gebrei het.

Nadi Duvenage en haar jarelange vriendin Minie le Roux hoop om met hulle Blokkiesboom van liefde geld in te samel vir hulle liefdadigheidsorganisasie, Mev Licthenburg Elegant. Foto: Verskaf

Die reaksie op die projek het haar skoon oorweldig, sê Duvenage wat vertel sy het meer as 10 500 gebreide blokkies ingekry waarvan sy beplan om komberse te maak wat vir kinderhuise geskenk gaan word. 

Geborg

Sy het die idee vir die projek gekry na sy foto’s gesien het van ’n verligte Kersboom van 10 m hoog, omhang met ’n kleurvolle lappieskombers, verlede Desember op Wellington. Dit het deel gevorm van die ACVV-tak daar se Tree of Hope-projek. Sy en haar jarelange vriendin, Minnie le Roux, het dadelik ’n manier gesien om fondse in te samel vir hulle welsynsorganisasie, Mev Lichtenburg Elegant, waardeur hulle al vir 24 jaar kos en klere insamel vir arm gesinne op hulle dorp.

Wellington se Lappiesboom het ook vir ds Victor Cloete van die NG Kerk Hoopstad in die Vrystaat begeester. Hy en Lorraine Kapp, bestuurder van die Hoopstad Sentrum vir Bejaardes, het besluit dit kan ’n wonderlike projek wees waar oud en jonk mekaar beter kan leer ken. So vertel Reinette Rautenbach, ook ’n inwoner van hierdie Vrystaatse dorp, wat oor die projek geskryf het op haar Facebookblad Hoopstad.

Wellington se Lappiesboom het ook vir ds Victor Cloete van die NG Kerk Hoopstad en Lorraine Kapp, bestuurder van die Hoopstad Sentrum vir Bejaardes begeester.

Sy skryf die hekelry het gou ’n weeklikse instelling geword waar ouer inwoners vir jongmense geleer het om te hekel. Een van hierdie leermeesters was Ouma Japie Olwag van 102 wat haar 16-jarige agterkleinkind, Janco le Roux, leer hekel het. Selfs beurtkrag kon nie van haar werknemers stop om te hekel nie, al was dit dan by kerslig, het Kapp vir haar vertel, skryf Rautenbach. By een restaurant was daar selfs ’n hekelhoekie ingerig waar klante kon sit en hekel en dit dan los vir ’n ander om te voltooi.

Op hierdie manier is 10 000 gehekelde blokkies ingesamel wat veel meer is as waarvoor aanvanklik gehoop is. Daar is selfs blokkies aangestuur deur bejaardes se kinders wat in ander provinsies woon.

Hoopstad se Kersboom van ses meter hoog is Saterdagaand 18 November as deel van die dorp se Liggiefees aangeskakel. Mense kon ook ’n kaartjie aan die struktuur ophang met die naam van ’n geliefde daarop wat nie meer daar is nie. 

Hierdie unieke staalbome met hulle lappieskomberse doen uiteindelik meer as om mense te verwonder, dit bring ook hoop en vreugde. Foto: Marizaan Henning

Lichtenburg hou weer Vrydagaand 24 November ’n aandmark met stalletjies. Daar is ook ’n kompetisie met pryse soos ’n skaap en ’n vakansie waar mense kan ook raai hoeveel blokkies aanmekaar gewerk is om hulle staalboom se kombers te maak. Kontak vir Nadi Duvenage by 82 774 0133 om deel te neem of ’n donasie te maak aan Mev Lichtenburg Elegant.

Hierdie unieke staalbome met hulle lappieskomberse doen uiteindelik meer as om mense te verwonder, dit bring ook hoop en vreugde, noem Rautenbach. Soos sy skryf, “Soveel mense se persoonlike stories is ook in hierdie projek ingeweef. Dit was oor soveel meer as net gehekelde blokkies. Dit was oor stilstaan en tyd saam met jou medemens spandeer en nuwe vriendskappe smee.”

Geborg

Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top

Ondersteun Kerkbode se joernalistieke projek

Ons redaksionele invalshoek is “Meer lig as hitte”. Ons hou jou op hoogte van kerknuus en bied ’n platform vir verhelderende lesersdeelname.
Teken in op ons weeklikse elektroniese nuusbrief of ondersteun ons werk vir so min as R20 per maand

Your Image Your Image Your Image

Die Kerkbode-toepassing (app) is beskikbaar op jou selfoon. Installeer dit vandag nog.

LUISTER - Kerkbode se weeklikse podsendings.