“Frederick het vroeg in sy lewe verstaan, as jy iets vir die koninkryk van die Here wil doen, kan jy dit nie alleen doen nie.”
Só het dr Coenie Burger op Dinsdag 28 November in ’n volgepakte, skemer-gebeurtkragde kelder op ’n wynplaas buite Stellenbosch tydens ’n afskeidsgeleentheid vir dr Frederick Marais gesê.
Burger, ’n oudkollega en jarelange medewerker van Marais, het dié se vernuf met die skep van netwerke tussen mense geprys. En, ná agt spreekbeurte en die bekendstelling van ’n “vriendskapsboek” met 18 bydraes in drie kategorieë, sou selfs die enkeles wat nie die volle omvang van Marais se betrokkenheid by NG Kerk- en teologiese opleidingstrukture besef het nie, kon sien dié aftrede los ’n leemte maar ook reuse-nalatenskap.

LEES OOK: Nuwe pelgrimsroete: Geloof, hoop en roosterkoek
Prof Elna Mouton het Marais ’n geduldige optimis genoem. “Iemand wat met kop na die son toe leef, en na God,” het die oudkapelmeester van die Andrew Murray Sentrum vir Spiritualiteit (AMSS) op Wellington gesê. “Die prentjie wat ek van jou het, het te doen met ’n pad, ’n oopeindige pad, en met water en ’n koelteboom, as metafoor vir tot ruskom en tuiskom,” het sy gesê met verwysing na Marais se stigtersrol by die AMSS asook by die Pelgrimstog van Hoop, ’n permanente netwerk van drie roetes wat ’n spirituele komponent met veeldagvoetslaan verweef in die voorbeeld van die Spaanse Camino, wat Frederick destyds met sy dogter gaan stap het.
“By Frederick se tafel is daar altyd plek … Maar dit is ook ’n plek waar ’n mens perspektiewe en vrae kan verwag wat jou diep gaan konfronteer en jou op ’n volgende vlak gaan neersit,” het Mouton voor die sowat 100 kollegas, vriende en familie van Marais gesê.
Die vestiging en uitbou van die AMSS, sowat vyf jaar gelede, as plek van afsondering, gebed en stilte, maar óók sentrum waar bedieningsgerigte navorsing kan gebeur, is volgens Mouton ’n hoogtepunt van Marais se nalatenskap.


Nuwe ‘bane’ maak meer plek by teologiese opleiding
Marais se rol by die kuratorium, wat as koppelvlak tussen kerk en universiteit dien, en by name sy hand in die transformasie van teologiese opleiding die afgelope paar jaar is uitgesonder. Die Algemene Sinode het in 2019 die vermeerdering van opleidings-“bane” goedgekeur wat meer opsies behels vir lidmate om teologies opgelei te word. “Waar daar in die verlede in beginsel net een baan van opleiding was, is daar nou voorsiening gemaak vir vyf verskillende bane van opleiding, naamlik: bedienaaropleiding; standplaasleraaropleiding; diensleraaropleiding; predikantopleiding residensieel; predikantopleiding afstandsonderrig,” luidens die verslag oor Teologiese Opleiding wat by Algemene Sinode 2023 gedien het. Oor standplaasleraars word daar geskryf: Hierdie ‘baan’ van opleiding gee aan die kerk die vermoë om opleiding te gee aan lidmate wat voorheen van opleiding uitgesluit was. Die demografiese werklikhede van Suider-Afrika het hierdie innovasie genoodsaak sodat nuwe geloofgemeenskappe in hierdie kontekste nie ten opsigte van hulle bediening onbepaald afhanklik sou bly van die “moeder” of sendende kerk nie.”
LEES OOK: Om vir aweregse redes te stap: Pelgrims vind hulle ‘hoekom’ langs die pad (en nuwe roete wink)
Ds Heerden van Niekerk was een van die sprekers wat genoem het dat Marais fasilitering tot ’n kuns verfyn het. Ds Peet Bester, ’n kollega by die kuratorium, het dit beaam: “Frederick met sy linkerhand by ’n blaaibord is sinoniem met: hier is die Gees aan die werk … Jy het formasie en transformasie verstaan … Vorming van mense. Teologiese opleiding van jonger mense … en transformasie wat deur prosesse in hulle lewe gaan,” het Bester gesê.
“Waar Frederick slim genoeg was, is hy het eintlik net nooit alleen gereis nie. Ek kan nie dink dat enige van julle wat vanaand hier is, nie ingetrek is by ’n sfeer wat hy geskep het nie,” het Bester vertel.
Prof Nelus Niemandt, rektor van Hugenote Kollege, het ook met betrekking tot die Pelgrimstog van Hoop, wat Marais weer met hulp van die joernalis Erns Grundling via kykNET populariseer het, gesê: “Ek weet vanaand en oor ’n honderd jaar gaan mense êrens op ’n staproete hierdie caminos van Suid-Afrika loop en in die nag na die sterrehemel opkyk en hulle gaan nie eens weet hulle moet vir Frederick Marais dankie sê nie. Maar as dit nie vir sy droom was, êrens op die Camino in Spanje en Portugal en sy vermoë om netwerke bymekaar te bring, het dit nie in ons land gewerk nie.”
Marais het ten slotte gesê dat hy die opmerkings met ontsettende dankbaarheid ontvang.