Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2024

Teoloog Peter Nagel kry ná ‘belyning’ predikantsbevoegdheid terug, sê kuratorium op Stellenbosch


Die tydelike opskorting van die predikantsbevoegdheid van ’n senior lektor aan die Universiteit Stellenbosch se Fakulteit Teologie is deur ’n “evaluasietaakspan” van die kuratorium van die Wes-Kaap opgehef.

“Dr (Peter) Nagel is bewus van die feit dat akademiese integriteit en kerklike integriteit belyn moet wees en nie in stryd met mekaar moet wees nie en dat akademiese vryheid nie los kan staan van kerklike opsig en verantwoordbaarheid nie,” luidens ’n verklaring namens lede van die kuratorium, ’n koppelvlak tussen kerk en akademie. (Lees die verklaring onderaan dié berig. – Red).

Dr Peter Nagel. Foto: Le Roux Schoeman / Kerkbode-argief

LEES OOK: ‘Die doel is om die waarheid en die feite aan die lig te bring’ – Kuratorium oor optrede teen dosent

Geborg

Die opskorting het gespruit uit ’n ondersoek wat gevolg het op ’n navraag oor dr Nagel se standpunt oor die godheid van Christus.

Nagel wou nie Dinsdag (5 Desember) kommentaar lewer nie.

LEES OOK: ’n Agtermiddag by Peter Nagel: Oor teologie, tug en Griekse tragedie

Nagel se legitimasie is tydelik opgeskort “hangende die uitkoms van ’n proses van kundige en begeleidende gesprekke met die oog op die regstelling van sy standpunte,” het die kuratorium in Januarie vanjaar verduidelik.

Die doel (van ’n kerklike tugondersoek) is gerig op die heil en welwese van die persoon sowel as van die geloofsgemeenskap,” luidens ’n vroeëre verklaring deur lede van die kuratorium. “Dit is ’n poging om die een oor wie se leer en lewe daar gerugte en vrae ontstaan, op ’n broederlike wyse te begelei en te ondersteun, ten einde daardie optrede of leer weer te belyn met die belydenisskrifte, die legitimasie-eed en die gedragskode vir gelegitimeerdes.” 


Verklaring soos ontvang op 4 Desember 2023

Die kuratorium van die NG Kerk Wes-Kaap het die verslag van die gevolmagtigde evaluasietaakspan van die Ring van Stellenbosch insake die bevinding en besluit na beweerde leerdwaling teen dr Peter Nagel aan die hand van Reglement 22 vir tug en vermaning van die Kerkorde 2019, ontvang.

Geborg

Die evaluasietaakspan het die tydelike opskorting van dr Nagel se predikantsbevoegdheid opgehef.

Dr Nagel is bewus van die feit dat akademiese integriteit en kerklike integriteit belyn moet wees en nie in stryd met mekaar moet wees nie en dat akademiese vryheid nie los kan staan van kerklike opsig en verantwoordbaarheid nie. Dr Nagel verklaar dat hy steeds die legitimasieverklaring, soos deur hom afgelê en onderteken, onderskryf en dat hy hom opnuut daartoe verbind.

Die kuratorium aanvaar die integriteit van die proses en bevestig dat dr Nagel gedurende die hele proses egtheid en gelowige deernis uitgestraal het. Al die betrokke begeleiers bevestig sy samewerking en toewyding as lidmaat van die NG Kerk.

Die kuratorium bedank almal wat deur hulle benadering en optrede gehelp het dat hierdie ’n opbouende en helende proses kon wees.”

  • Uitgereik deur dr Pieter van der Walt, skriba van die kuratorium gesetel aan die Universiteit Stellenbosch.

Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top

Ondersteun Kerkbode se joernalistieke projek

Ons redaksionele invalshoek is “Meer lig as hitte”. Ons hou jou op hoogte van kerknuus en bied ’n platform vir verhelderende lesersdeelname.
Teken in op ons weeklikse elektroniese nuusbrief of ondersteun ons werk vir so min as R20 per maand

Your Image Your Image Your Image

Die Kerkbode-toepassing (app) is beskikbaar op jou selfoon. Installeer dit vandag nog.

LUISTER - Kerkbode se weeklikse podsendings.