’n Volle 100 stappers asook ’n hele gemeenskap van virtuele deelnemers word uitgenooi om deel te neem aan 2024 se Red ’n plaas, Red ’n gemeenskap Camino wat plaasvind op 6-12 April in die omgewing van Victoria-Wes in die Noord-Kaap.
“Ons is trots daarop om vanjaar hierdie inisiatief in bereik van almal te bring,” lui ’n verklaring wat pas uitgereik is namens die twee vennote in hierdie projek, die Sinode van Noord-Kaapland en die landbouorganisasie, Agri Noord-Kaap.
Die twee het ’n bewese rekord van hulpverlening in hierdie streek. Die Ned. Geref. Kerk in Noord-Kaapland het in Oktober 2019 ’n ad hoc taakspan gemeenskapsversorging in samewerking met Caritas gemeenskapsfokus NPC as gevolg van die droogte wat groot dele van die Noord-Kaap teister, daargestel. Die projek se naam was “Red ’n Plaas”. Grootliks te danke aan hierdie inisiatief is meer as R13 miljoen ingesamel. Luidens die verklaring is elke sent daarvan versprei om verligting te bring aan droogtegeteisterde gemeenskappe in die Noord-Kaap, hoofsaaklik deur boere te help met skoolfondse en studiegeld vir hulle kinders.
Lees meer: Sinode Noord-Kaapland : Geld stroom in vir droogtehulp, gesprek oor kerkverband duur voort
Vanjaar skuif die fokus na hulpverlening wanneer rampe plaasvind. Die Noord-Kaap en omliggende streke is die afgelope paar jaar geteister deur ’n verskeidenheid rampe, veral die uitmergelende droogte, sprinkaanplae en verwoestende veldbrande.
Hierdie rampe het veral voltydse boere en kleiner landelike gemeenskappe geknou. Soos in die verlede sal gemeentes vanuit die hele geografiese gebied van die Noord-Kaap kan aansoek doen om hulp by die fonds, het ds Deon van der Berg, een van die organiseerders aan Kerkbode bevestig.
So kan jy deelneem
- Stap die 139 km Victoria-Wes Camino saam met ongeveer 100 stappers. Voornemende stappers word aangemoedig om hul deelname aan die camino te gebruik om fondse in te samel vir die rampfonds. Inskrywings kan gedoen word op die webwerf van Tankwa Camino by https://www.tankwacamino.com/caritas-red-n-plaas-camino
- Word deel van die Virtuele Stappers Gemeenskap. Kerke, skole, besighede, aftreeoorde, sportklubs en individue word uitgedaag om in te skryf. Sodoende kan enigeen vanaf enige plek deelneem deur saam te stap, ’n fiets te trap of selfs met ’n rolstoel te ry. (Soos die 92-jarige Jannie Roodt van Koster wat verlede jaar in ses dae 504 keer met sy elektroniese rolstoel rondom die Gereformeerde kerkgebou op sy dorp gery het en so meer as R30 000 vir die projek ingesamel het.)
Vir meer inligting gaan op Facebook na https://www.facebook.com/rednplaasredngemeenskap of maak direk kontak met die projekkoördineerders: ds Kobus van Tonder (+27 76 530 4028, kobusvt04@gmail.com), ds Deon van der Berg (+27 83 448 3791, deon@ngstella.co.za) en Janine Byleveld (+27 73 291 0557, janine@agrink.co.za).
- Bronne: Verklaring uitgereik deur NG Kerk in Noord-Kaapland en Agri Noordkaap; Agri Noordkaap se webblad
- Het jy nuus? Kontak ons gerus per e-pos: kerkbode@tydskrifte.co.za