Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2024

Kerkbode-lesers sal uit vorige beriggewing verhale soos dié van Kosie en Lize van Zyl asook Johan Erasmus van Betereinders ken. Hulle is van die sprekers by Landbouweekblad en Senwes se konferensie met die tema ‘Oplossings vir Suid-Afrika se platteland’ by Nampo-Park, Bothaville op 20,21 Februarie. Foto: Kerkbode-argief / Robert Cable

Elders gesien: Stories by dosyne oor oplossings vir Suid-Afrika se platteland


Landbouweekblad en Senwes sal op 20 en 21 Februarie 2024 ’n konferensie met die tema ‘Oplossings vir Suid-Afrika se platteland’ by Nampo-park op Bothaville aanbied. 

“Deur meer as 60 sleuteldeelnemers saam te bring en suksesverhale van opheffing en hoop te deel, wil ons Suid-Afrikaners inspireer om die bul by die horings te pak en seker te maak landelike Suid-Afrika oorleef nie net nie, maar floreer,” sê ’n woordvoerder van dié landboutydskrif se Spesiale Projekte-afdeling. 

Kerkbode-lesers sal uit vorige beriggewing verhale soos dié van Kosie en Lize van Zyl asook Johan Erasmus van Betereinders ken. 

Geborg

Die Van Zyls is boere verbonde aan die Agri Dwala-bemagtigings- projek en Kingdom Ambassadors-kinderhuis. “As ’n voormalige plaaswerker verstaan Kosie van Zyl die lot van die grondloses beter as die meeste,” luidens die lys met sprekers vir die geleentheid. (Lees die volledige program hieronder, met biografiese inligting oor die sprekers. – Red). 

“Toe ’n plaaslike kommersiële boer met ’n buitengewone daad van welwillendheid, vir Kosie help om sy plase te koop, het die jong man besluit om sy goeie geluk terug te ploeg en begin om opkomende boere wat op dorpsveld sukkel, te mentor. Jare later is Agri Dwala, ’n volledig swart-eienaarskap- gediversifiseerde boerderyonderneming, ’n getuienis van Kosie se visie. En sy groep swart boere mentor nou self ander groepe opkomende boere. Intussen het Kosie se vrou, Lize, ’n pleegsorgprogram op die familieplaas begin, wat uiteindelik gegroei het tot ’n volwaardige kinderhuis wat benadeelde kinders al die voordele van ’n gesonde plaasopvoeding bied. Soos die Van Zyls ferm glo, as jy bereid is om van diens te wees, is die stryd reeds 90% gewen. 

Van die ander sprekers by die geleentheid is: 

Pastoor John Mathuhle, Senekal-Matwabeng Gemeenskapsforum

Toe emosies in die klein Vrystaatse dorp Senekal dreig om in openbare geweld te ontaard by die hofverskyning van die vermeende veediefstal-sindikaat- verdagtes wat beskuldig is van die moord op die jong plaasbestuurder Brendin Horner, het pastoor John Mathuhle begin bid. Hy sê sy gebede is dubbel en dwars beantwoord. Vandag het die Senekal-Matwabeng Gemeenskapsforum wit en swart inwoners verenig met ’n gemeenskaplike doel om rasseverdelings te herstel deur hul moue op te rol en die dorp reg te maak, en sodoende orde te herstel.

Johan Erasmus, Betereinders

Betereinders het een doel voor oë: nasiebou. Beman deur gewone Suid- Afrikaners, soek dié organisasie altyd na maniere om ’n beter – eerder as ’n bitter – toekoms te verseker. Die leuse? Hou op kla, doen goeie dinge en werk saam. Betereinders glo dat armoede oorwin kan word deur restitusie en versoening. Met ander woorde, deur gesonde verhoudings te bou deur tyd en hulpbronne te deel. Suksesvolle projekte sluit die liefdadigheidswinkel Bring en Gee, die opleidingsentrum Vision in Action en die slaggat-inisiatief Gatvol? Maak ’n gat vol.

Geborg

Petrus “Veer” van der Walt, boer, Boulust-plaas tussen Alldays en Lephalale

Geseën met omstandighede om groentegewasse van hoë waarde rypvry in die winter langs die Limpopo-rivier te produseer, het boere aan die uithoeke van hierdie verre provinsie besef dat die haglike toestand van die paaie hul kritieke bemarkingsvoordeel bedreig. Met kleinhandelaars wat nie meer bereid was om voertuie te stuur om produkte af te laai nie, het boere dit op hulself geneem om paaie begaanbaar te hou. Petrus “Veer” van der Walt onderhou honderde kilometers se pad, wat nie net tot die landbou bydra nie, maar ook tot almal wat die paaie gebruik.

Datum: 20 en 21 Februarie 2024
Venue: Nampo-park, Bothaville
Kaartjies: R1 750 (BTW ingesluit, dié bedrag sluit in die konferensie, etes en verversings op albei dae, ’n aandgeselligheid op die eerste aand, en alle inligtingsessies). ’n Kaartjie sluit ook 12 maande se toegang tot Landbou.com ter waarde van R1 800 in. Kaartjies is beskikbaar op Quicket by https://qkt.io/Platteland.

Besighede/instansies kan ook ’n tafel vir TIEN mense koop teen R15 000. Stuur ’n e-pos na events@landbou.com indien jy belangstel.


Sprekerslys – Oplossings vir Suid-Afrika se platteland

Volledige Landbouweekblad-verklaring:

 

Konferensie wil wys hoe gewone Suid-Afrikaners beter dorpe bou

Sonder boere kan daar nie ’n Suid-Afrika wees nie, maar sonder ’n gemeenskap kan daar ook geen boere wees nie.

Geborg

Die geleidelike agteruitgang van landelike Suid-Afrika getuig van die breër maatskaplike probleme in Suid-Afrika. Van onderwys tot gesondheid; paaie tot watervoorsiening; maatskaplike samehorigheid tot indiensneming – as dit ’n Suid-Afrikaanse probleem is, is dit waarskynlik erger in die landelike gebiede van ons uitgestrekte platteland.

Dit word verder aangeblaas deur swak munisipale bestuur en ’n skrikwekkende tekort aan vaardighede. Selektiewe wetstoepassing vererger ’n reeds benarde situasie.

Hoe maak ons seker dat plattelandse gemeenskappe nie net oorleef nie, maar ook floreer?

“As ’n publikasie wat al vir meer as ’n eeu landelike Suid-Afrika dien, het Landbouweekblad nie net ’n verantwoordelikheid om landelike Suid-Afrika te help herleef nie, maar ken ons ook die mense wat reeds ’n verskil maak deur beter, ryker en meer inklusiewe landelike gemeenskappe op te bou,” sê Chris Burgess, hoofredakteur van Landbouweekblad.

“Suid-Afrika se verval kan eenvoudig nie langer geduld of bekostig word nie. Dit is waarom ons op 20 en 21 Februarie 2024 die konferensie met die tema ‘Oplossings vir Suid-Afrika se platteland’ op Nampo-park, Bothaville, aanbied.”

Francois Strydom, uitvoerende hoof van Senwes, hoofborg van die konferensie, meen die probleme wat die Suid-Afrikaanse platteland in die gesig staar, is nie nuut nie.

“As ons nie daadwerklik optree om oplossings vir die platteland te bedink nie, gaan niks verander nie. Die landbou is en bly die lewensaar van die platteland en Senwes as belanghebbende in die sektor het ’n wesenlike taak.

Geborg

“Ons wil met dié konferensie belanghebbendes uit alle oorde betrek – van besighede, plaaslike drukgroepe en die burgerlike samelewing – om ’n ommekeer teweeg te bring,” sê hy.

Gegrond op die formaat van Landbouweekblad se hoogs suksesvolle Bela-Bela-grondberaad in 2018, sal die suksesvolste gevallestudies van waar gewone Suid-Afrikaners besig is om beter gemeenskappe op te bou, ten toon gestel word.

“Ons hoop om deur hierdie platform groot momentum vir samewerking en vennootskappe te skep. Die landbou, as ’n reservoir van groot bestuurs- en tegniese vaardighede, sowel as die vermoë om as ’n ekonomiese vermenigvuldiger op te tree, speel dikwels ’n deurslaggewende rol om die gety van landelike verval te keer,” sê Chris.

“Alle inhoud van die konferensie sal in ’n enkele, interaktiewe, digitale knooppunt saamgevat word. Laasgenoemde sal in sinergie werk met ’n stuurgroep van ‘oudstes’ om te verseker ons behou momentum.”

“Deur meer as 60 sleuteldeelnemers saam te bring en suksesverhale van opheffing en hoop te deel, wil ons Suid-Afrikaners inspireer om die bul by die horings te pak en seker te maak landelike Suid-Afrika oorleef nie net nie, maar floreer.”

 

 

 


Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top

Ondersteun Kerkbode se joernalistieke projek

Ons redaksionele invalshoek is “Meer lig as hitte”. Ons hou jou op hoogte van kerknuus en bied ’n platform vir verhelderende lesersdeelname.
Teken in op ons weeklikse elektroniese nuusbrief of ondersteun ons werk vir so min as R20 per maand

Your Image Your Image Your Image

Die Kerkbode-toepassing (app) is beskikbaar op jou selfoon. Installeer dit vandag nog.

LUISTER - Kerkbode se weeklikse podsendings.