Ons wou bloed keer!
Met hierdie woorde het ds Freek Swanepoel, die moderator van die Algemene Sinode van 1994 die optrede van die leierskap van die NG Kerk 30 jaar gelede beskryf. Dit was op die vooraand van die geskiedkundige verkiesing wat op 27 April 1994 plaasgevind het. Aan die ander kant was daar generaal Constand Viljoen, vorige hoof van die Suid-Afrikaanse Weermag, wat oor die tydperk gesê het: “Ek het my hand op die sneller gehad”. Daarmee het hy verwys na die gewapende mag van meer as 50 000 man onder sy bevel wat gereed was om die verkiesing van 1994 te ontwrig.
LEES OOK: Oggend met moderator van die Sinode van Wes-Kaapland: ‘Moenie van fun vergeet nie’
In aanloop tot die verkiesing het die dagbestuur van die Algemene Sinodale Kommissie ’n groot rol gespeel om te keer dat die land deur geweld verswelg word. Hulle het vier keer met oud-pres Nelson Mandela ontmoet. Die gesprekke het op die geweld in die land gefokus. Aan die een kant was daar beplande gewelddadige verset teen die demokratiese proses deur regse groepe Afrikaners en aan die ander kant gewelddadige protesaksies deur ondersteuners van die ANC wat die Nasionale Party-regering met geweld omver wou werp. Op versoek van Mandela is gesprekke met leiers van al die belangrikste politieke partye gevoer en lidmate van die NG Kerk is opgeroep om hulle van geweld te weerhou en vir vrede te bid. Viljoen het op 23 April 1994, vier dae voor die verkiesing, besluit om nie voort te gaan met die ontwrigting van die verkiesing nie.
Dertig jaar later op die vooraand van die verkiesing van 2024 is dit nou weer tyd dat kerkleiers leiding neem om bloed te keer deur lidmate tot kalmte en vrede te maan. Terwyl die gedrukte en elektroniese media floreer op fopnuus en gerugte en lidmate meegesleur word in ’n stroom van emosie, is dit nodig dat die woorde van Swanepoel hard en duidelik in elke kerkleier en elke predikant se ore weerklink: “Ons moet bloed keer!” Dit is die onbetwiste opdrag van die kerk van Jesus Christus. In elke gemeente van die NG Kerk sal daar soos voor die verkiesing van 1994 gebid moet word vir vrede en gepreek moet word oor vrede en vrede geleef moet word.
LEES OOK: Stories by dosyne oor oplossings vir Suid-Afrika se platteland
’n Paar jaar gelede staan ek tydens teetyd by ’n internasionale konferensie met akademici uit Europa en praat. Toe ek op ’n vraag waar ek vandaan kom, antwoord: “Suid-Afrika” kom die kommentaar: “Oh, you are from the country in Africa where the miracle happened.” Dit is woorde wat ek nooit sal vergeet nie. 1994 was inderdaad ’n wonderwerk. Dertig jaar later mag dit in 2024 nie anders wees nie. Mag die geskiedenis oor dertig jaar die verhaal vertel van ’n kerk met leiers wat in 2024 gehelp het om bloed te keer.
Prof Johan van der Merwe doseer Kerkgeskiedenis en Kerkreg en is ’n voormalige aktuarius van die Algemene Sinode.
Waar sou genl. Viljoen 50 000 man in die hande kry in 1994? Ienand skiet spek.