Hoop is ’n strategie…Só verduidelik Hendri Truter wat betrokke was by die uitbou van ’n klein plattelandse besigheid met vyf mense in diens in 1990 tot die maatskappy Deli-Co wat vandag sowat 700 mense werk gee en 25 vragmotors op die pad het. Van “bakkiesmous” tot gevestigde besigheid … Dis die storie wat Truter in tien minute kom vertel het as eerste van ’n reeks sprekers by ’n twee dag-saamtrek by Nampo-park in die Vrystaatse platteland wat volgens organiseerders ’n inspuiting van hoop aan die land wil bied.

Landbouweekblad se “Oplossings vir Suid-Afrika se platteland”-projek behels ’n “heeltemal onredelike” program, volgens touleier en Landbouweekblad-redakteur Chris Burgess: 77 sprekers in twee dae. En met die afskop van die eerste dag was dit moeilik om te besluit of dit meer indrukwekkend is om al die sprekers en ’n gehoor van ’n paar honderd op ’n mooi weeksoggend in die Fanie Ferreira-saal sowat 20 km buite Bothaville byeen te bring en of die eer aan die ontwerpspan moet gaan wat dit regkry om die sprekers se reuse-stories tot tien minute te distilleer en verpak.
LEES MEER: Oplossings vir die Suid-Afrikaanse Platteland
Jannie de Villiers, bekende in landboukringe, het die opening van die geleentheid behartig en verskilmakers as geloofshelde bestempel. Uit die Bybel het hy verwys na die gevaar om jou talente te begrawe uit vrees. “My Whatsapp-status sê ‘agriculture can heal this country’. En wat ons vandag doen, is deel daarvan.”

Jaco Oosthuizen, derde spreker, het gepraat oor hoe die landboureus ZZ2 en die RSA Groep saamwerk om “streeksmarkte as ekonomiese spilpunt” te ontwikkel. “Dit gaan oor oplossings – nie ‘foplossings’,” het hy verduidelik. “The cost of the wrong price far exceeds the cost of commission.”
Kallie Schoeman van die Schoeman-groep op Delmas het so paar riglyne gebied vir as jy moeg of “sommer net gatvol is”. Leierskap is om positiewe energie te skep, meen hy. Vra mense om te lei, te volg of uit die pad te kom, het Schoeman gesê. Hy het ook die lof van vroulike boere besing, soos blyk uit die Zamukele projek wat boontjieboere ondersteun. – een van die projekte wat die Schoeman-Groep dryf.
“Wins is nie ’n vloekwoord nie,” het Francois Strydom van Senwes, een van die saamtrek se borge, gesê. “Regmatige opbrengs op jou arbeid was nog altyd die beginsel wat gemeenskappe gedryf het,” het Strydom gesê, ’n opmerking wat ge-eggo is deur ander sprekers wat die privaatsektor se kritieke rol benadruk.
Kerkbode woon die geleentheid by en sal berig by www.kerkbode.co.za.