Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2024

Kerkbode Kollig Episode 4: Op reis met God


“Die beeld wat ek het is partymaal as jy nie ’n huis het nie, is dit soos om water te soek in die woestyn en dit nie te kry nie. Die tradisie wat ek nou kry binne die NG Kerk is soos om in ’n put in te gaan en tot op die watertafel te kom.”

So sê dr Tom Smith van Fontainebleau Gemeenskapskerk in Randburg. Hy neem op 1 April oor by dr André Bartlett as hoof van Excelsus, die NG Kerk se Sentrum vir Voortgesette Bedieningsontwikkeling in Pretoria.

Waarna hy verwys is sy eie jarelange geloofsavontuurreis op soek na ’n geestelike tuiste. Hy het hieroor met Kerkbode Kollig gesels asook die twee bekeringservarings in sy lewe, waarna hy uitsien in sy nuwe pos en so ’n bietjie vertel oor sy nuutste boek, Vind God in die gewone.

Geborg

Lees ook: Tom Smith oor armoede en rykdom en sy terugkeer na die NG Kerk

Dr Tom Smith en sy vrou Lollie en kinders Tayla en Liam.
In dié podsending gesels Tom ook oor sy jongste boek oor God in die gewone dinge van die lewe.

Tom het vertel dat hy as 16-jarige sy eerste verdiepende geloofservaring gehad by ’n koffiekroeg aangebied deur ds Jaco Strydom “en van sy vriende”. Dit was by dieselfde kerk waarvan hy vandag medeleraar is. “Ek kan onthou hoe my lewe ingrypend verander is en ek heeltemal oorrompel is deur Christus se liefde. Daai ontwaking het my op hierdie avontuur gesit,” vertel Tom.

Maar toe plaas die kerk hom onder sensuur in sy matriekjaar omdat hy vrae gevra het oor wat dit beteken om belydenis van geloof af te lê. Dit het seer gemaak. Hy het lank hierna nog geworstel oor wat kerk werklik moet wees.

In 2003 keer hy en sy vrou, Lollie, terug vanuit Amerika en begin ’n multikulturele gemeente met die naam Kleipot in Johannesburg. Tom vertel “ek noem dit baie keer my tweede bekering want ek het tot toe omtrent net in blanke gemeentes en kontekste gewerk. Ek het ontdek ons land is baie divers met baie geskenke”.

Nog later in 2015 voel hy geroep om deel te raak van die avontuur van waarmee die Here besig is in die kerk. In 2020 is hy gelegitimeer as een van die eerste diensleraars van die NG Kerk en voltooi die sirkel deur ’n beroep te aanvaar na Fontainebleau Gemeenskapskerk. Hy is ook medestigter van ’n organisasie Rhythm of Life en sameroeper van die In Pas-span. Beide help gemeentes met die aanleer van gewoontes en ritmes vir dieper spiritualiteit.

Kyk hy terug sê Tom “ek dink die kerk is radikaal anders. Ek dink daar is ’n baie dieper besef dat God op reis met ons is”.

Die Lampbrecht-gesin is, van links, Francois, Lea, Enél en Hernu.

Ds Enel Lambrechts en haar predikantman Francois is van die NG gemeente op Knysna. Hulle gemeente het na die Covid-pandemie besluit om nuut te dink oor hoe hulle dinge aanpak. Die In Pas-handleiding het hulle in hierdie proses gehelp.

Geborg

Onder KnysnaKerk se nuwe projekte tel ’n ondersteuningsnetwerk vir kankerpasiënte wat ook deur die plaaslike Hospice benut word asook ’n internskapprogram wat jong mense vanuit hulle sowel as die VGK-gemeente die kans bied om vir teologiese opleiding in te skryf by Hugenote Kollege.

Zhara du Toit van die NG Gemeente Strand-Noord was net 11 jaar oud toe sy verlede jaar hoor sy het ’n seldsame longvlieskanker. Maar sy het besluit om nie op die kanker te fokus nie. Haar gunsteling Bybelvers is Psalm 23. Begin vanjaar het sy die blye nuus gekry dat sy kankervry is. LiG het in November haar aangrypende getuienis gedeel op die YouTube-kanaal “God se krag in my krisis”. Dit is deur duisende mense gekyk en is steeds een van die mees gekykte videos op die kanaal.

 

  • Kerkbode Kollig is ’n nuwe saamluisterprojek. Dit bestaan uit weeklikse podsendings gevul met insetsels oor kerknuus, geloofstories en gesprekke om jou in te lig, te laat nadink en te inspireer. Elke Sondag word ’n nuwe episode op Kerkbode se webblad gelaai. Laai gerus die gratis Kerkbode-toepassing af op jou selfoon om saam te kan luister.

Deel gerus nuuswenke per e-pos na kerkbode@tydskrifte.co.za


Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top

Ondersteun Kerkbode se joernalistieke projek

Ons redaksionele invalshoek is “Meer lig as hitte”. Ons hou jou op hoogte van kerknuus en bied ’n platform vir verhelderende lesersdeelname.
Teken in op ons weeklikse elektroniese nuusbrief of ondersteun ons werk vir so min as R20 per maand

Your Image Your Image Your Image

Die Kerkbode-toepassing (app) is beskikbaar op jou selfoon. Installeer dit vandag nog.