Die Suid-Afrikaanse Raad vir Kerke (SARK) doen ’n beroep op die land se burgers om saam te bid vir die 2024 algemene verkiesing, wat op 29 Mei sal plaasvind.
Die kerk se missie tydens die verkiesing is om vir hoop te pleit in die aangesig van hopeloosheid, het die SARK-president aartsbiskop Thabo Makgoba in ’n onlangse verklaring verduidelik.
LEES OOK: Elders gesien: Wat kan gemeentes nou prakties rondom die komende verkiesing doen?
“Ons mense dra steeds die pynlike letsels van die gewelddadige uitbarstings van ons land se geskiedenis en ons kan nie ’n houding van blindheid aanneem vir die tekens van ons tyd nie. Daarom is ons oproep vir ’n Nasionale Dag van Gebed vir die 2024 Algemene Verkiesing ’n herinnering aan die kernmissie van die kerk, wat is om te pleit vir hoop in die aangesig van hopeloosheid,” het hy gesê.
Die besluit vir ’n nasionale dag van gebed is eenparig geneem tydens die eerste kwartaallikse saamkoms van hierdie ekumeniese liggaam se uitvoerende komitee, luidens die verklaring.
LEES OOK: Pastorale brief ná die vierde vergadering van die Algemene Sinode Moderamen
By hierdie geleentheid is ook oor die oorlog in Gasa gepraat. Die SARK se leierskap het hulle verbindtenis herbevestig tot die vind van ’n vreedsame oplossing van hierdie verwoestende konfliksituasie in die Heilige Land. In lyn hiermee word die Global Israel anti-Apartheid Conference beplan vir 10-12 Mei in Johannesburg. By hierdie geleentheid sal lidkerke van die SARK (waaronder die NG Kerk tel) saam met Palestynse kerkleiers en globale rolspelers na oplossings soek.
In die week vooraf, 3-9 Mei, sal Palestynse Christenleiers Suid-Afrika besoek. “Dit is dus ’n eer vir die SARK om die afstammelinge van die inheemse Arabiese Christene in ons land te huisves, en om saam met hulle in geloof te staan gedurende hierdie tydperk in hul geskiedenis,” het eerw. Mzwandile Molo, waarnemende algemene sekretaris van die SARK bygevoeg.