Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2024

Die gemeente het na die erediens by ’n massiewe houtkruis in die tuin hardop hul geloof bely. Hierna is agt ballonne, een vir elke dekade, die lug ingelaat. Foto's: Verskaf

Elders gesien: Gautengse gemeente wil 10 organisasies help om dankie te sê vir agt dekades


Die NG Lyttelton Moedergemeente se vroue-in-diens-aksie is tans besig met ’n 80 vir 80 gemeenskapsdiensprojek om hulle agt dekades van bestaan met dankbaarheid te vier. 

Vir agt maande lank gaan hulle 80 items vir 10 projekte of organisasies insamel of vervaardig om sodoende nood in die gemeenskap te help verlig.

Hierdie voorstedelike gemeente se geskiedenis strek oor agt dekades en twintig dominees wat sedert 22 April 1944 ’n verskil maak. Só vertel prof. Christina Landman tydens die oggenderediens van Sondag, 21 April toe dié gemeente hul tagtig jaar van bestaan gevier het.  

Die derde oudste gemeente in Pretoria (naas die Grootkerk in Bosmanstraat en Pretoria-Oos oorkant Loftus), was eers as die NH- of NG Gemeente Pretoria-Suid bekend. 

Die gemeente het in 1947 begin met ’n bruidskat van R2000 kontant en twee erwe, een in Lyttelton en die ander langs die konsentrasiekampkerkhof. Op 18 Februarie 1947 is die eerste sooispitfunksie vir ’n saal gehou en is die hoeksteen op 7 Junie 1947 gelê deur die vrou van die eerste gemeenteleraar, ds Beyers Naudé.

Die argitek Hendrik Vermooten het hierna op versoek ’n ontwerp gedoen vir ’n kerkgebou met 500 sitplekke. Die hoeksteenlegging was op 20 Junie 1953. Die kerk het ’n Humansdorpsekanselmotief en ’n kerkklok wat 650 pond (± 300 kg) weeg. Dit het R510 gekos. Op 23 Februarie 1951 verander die gemeente hulle naam na NG Lyttelton Moedergemeente.

Eugené van Niekerk (diensraadvoorsitter) en ds Landi Botha sny verjaardagkoek.

Ds Landi Botha, wat sedert Oktober 2020 hier werksaam is, het tydens 21 April se diens voorgelees uit 1 Korintiërs 3: 5-17. Haar boodskap was Jesus is ons fondament, met ons wat plant, natgooi en bou, maar dis God wat groei bewerkstellig.

Sy en dr. Danie Langner het ook die nagmaal bedien. Musikale hoogtepunte het ingesluit Braam van Tonder wat trompetdiskante saam met die pyporrel speel en die Palissander-kamerkoor wat optree onder leiding van Sarita Hauptfleisch.

Die gemeente het ná die erediens by ’n massiewe houtkruis in die tuin hardop hul geloof bely. Hierna is agt ballonne, een vir elke dekade, die lug ingelaat. 

  • Lyttelton-gemeente het die storie met foto’s vir Kerkbode aangestuur. Stuur jou gemeentenuus vir oorweging na tydskrifte@kerkbode.co.za.

Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top

Ondersteun Kerkbode se joernalistieke projek

Ons redaksionele invalshoek is “Meer lig as hitte”. Ons hou jou op hoogte van kerknuus en bied ’n platform vir verhelderende lesersdeelname.
Teken in op ons weeklikse elektroniese nuusbrief of ondersteun ons werk vir so min as R20 per maand

Your Image Your Image Your Image

Die Kerkbode-toepassing (app) is beskikbaar op jou selfoon. Installeer dit vandag nog.