Die NG Gemeente Proteahoogte in Brackenfell se jaarlikse Wintermark, vanjaar van 28 Junie tot 6 Julie 2024, bring nie net fondse in vir die gemeente nie maar bied ook vir plaaslike entrepreneurs die geleentheid om hul produkte bekend te stel.
Bianca Louw van die gemeente vertel dat mense so ’n ekstra inkomste kan verdien na aftrede of kan bydra tot hulle families se begroting. Sy noem daar is talle sukses stories van entrepreneurs wat begin het by die Proteahoogte Mark en nou voltyds hul produkte verkoop.
Jongmense kan ook op die manier werksvaardighede opdoen. “Talle jongmense in ons gemeenskap is al deur die jare so gehelp om na skool ’n beter kans te hê om werk te vind,” sê Bianca. Sy voeg by dat die gemeenskap hierdie geleentheid vir samesyn geniet, of dit nou vir koffie saam ’n vriendin is of as ’n gesinsuitstappie.
Daarom, vertel sy, is Proteahoogte Gemeente baie trots om elke jaar twee markte aan te bied, naamlik die Wintermark en Kersmark. “Dit is ’n riem onder die hart om soveel gemeentelede betrokke te hê by die mark. Van die organisasie tot die restaurant. Die mark skep geleenthede waar ons die gemeenskap en ook die Here op ’n spesiale manier kan dien,” sê sy.
Vir meer inligting: Kontak 021 982 1041 of epos markte@proteahoogte.co.za of volg die gemeente op Facebook: @proteahoogtemark .
- Die artikel is ’n geredigeerde weergawe van die Wintermark-artikel soos verskaf deur Bianca Louw