Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2024

Baie het gebeur in die nege jaar ná Stefaans Coetzee vrygelaat is. Jaco Strydom vra hom wat was groot draaipunte.
Baie het gebeur in die nege jaar ná Stefaans Coetzee vrygelaat is. Jaco Strydom vra hom wat was groot draaipunte. Foto: Jaco Strydom

Jaco Strydom gesels met Stefaans Coetzee : ‘Boeke is hoe ek asemhaal en my huis is vir my Eden’


Stefaans Coetzee se lewe lees soos ’n storie

Sy lewe lees soos ’n storie vol erg uiteenlopende genres. En dit is ’n verhaal vol eens ondenkbare verrassings wat steeds besig is om geskryf te word.

Baie het gebeur in die nege jaar ná Stefaans Coetzee vrygelaat is.

Daar was ’n tyd toe jy, as jy sy naam hoor of iewers iets oor hom raaklees, dadelik gedink het aan die verregse tienerbomplanter wat lewenslank in die tronk sit. Toe breek daar ’n nuwe tydperk aan. ’n Tydperk waarin hy bekend word as die ou wat ’n nuwe lewe begin het, wat groentetuine plant in die plakkerskampe en opstaan teen rassisme en ongeregtigheid in Suid-Afrika – Stefaans is na 18 jaar vrygelaat toe van sy slagoffers en hulle familie hom bevriend het en ’n versoek gerig het vir sy parool.

Vandag wanneer iemand die naam Stefaans Coetzee hoor is die kans goed dat hy of sy dink “dís mos die boekeman!”

Lees ook: Boek: Oor wanhoop, aanpassing en ’n reis met genade

Passie vir boeke en skryf

Amper elke dag is daar op sosiale media ’n video van Stefaans wat ’n nuwe boek wat deur ’n legio uitgewers aan hom gepos word unbox. Of van die vele boekresensies wat hy doen op Netwerk24 en Litnet.

Vroeër die jaar is hy bekroon as Netwerk24 se Boeke-smaakmaker van die jaar.

Sy liefde vir lees het destyds in die tronk begin. “Dis al wat ek kon doen,” sê hy, “ek het dag en nag in my sel gesit en lees.”

Vandag is sy passie vir boeke sterker as ooit.

“Boeke was nog altyd deel van my bestaan. Dit is hoe ek asem haal. In woorde. Omdat ek soveel jaar nie in my eie taal kon lees nie, is dit lekker om aandag te gee aan Afrikaanse skrywers. Dit is tog waarom my resensies gaan, onderhoude voer – om boeke te bemark. Ek gaan tog nie ’n resensie oor ’n boek skryf wat ek nie geniet het nie, al is daar een of twee punte waarmee ek en die skrywer verskil,” sê hy.

Stefaans is self ’n kranige skrywer. Hy was betrokke by die skryf van ’n hele lot boeke en daar is toenemend van sy kortverhale in tydskrifte soos Huisgenoot.

Wit Wolf, die Worcester-bomplanter se storie van bevryding, was sy eerste boek. Sy lewensverhaal wat hy saam met Alita Steenkamp geskryf het. Daarna het hy en Anemari Jansen die boek Suiker Britz (nie-fiksie), geskryf. Hy is die samesteller van Op pad na Grysberg – ’n roman waaraan 22 bekende skrywers saam geskryf het – en het meer onlangs ’n kortverhaalbundel saam met Anschen Conradie saamgestel.

Oor Onbeskryflike genade, sy mees onlangse boek wat laasjaar verskyn het, sê hy: “Dit gaan oor ’n ou wat meer as net van sy verlede wou weghardloop, oor ’n man wat net man en pa wil wees. Dit dra lewenslesse oor aan mense wat nie meer hoop het nie. Wat lankal ophou droom het.”

Hy is besig met ’n nuwe boek wat binnekort op die rak sal wees. “Sel Ses is ’n kortverhaalbundel, maar as jy die stories van 1 tot 8 lees, dan is dit een storie. In elke monster is daar ’n mens. En in elke mens is daar ook ’n monster. Baie monsters sit in die tronk, maar ander mense se monster word op sosiale media losgelaat. Dit is amper soos met The Shack, daar waar die pa sy pa as seuntjie sien. Gebroke, mishandel. Hopelik kan ons meer na mekaar kyk deur Jesus se oë. Veral teenoor mense wat van ons verskil.”

‘Grootste draaipunt was my gesin’

Ek vra hom oor die groot draaipunte die afgelope nege jaar.

“Die grootste goeie draaipunt is my gesin. Ek, my vrou, drie seuns en drie katte bly op Klerksdorp. Ek het met ’n baie, baie mooi vrou getrou en geniet pa-wees regtig baie. Omdat ek nie ’n liefdevolle gesin as kind geken het nie, is my huis vir my Eden. Slegte punt, wat ten goede uitgedraai het, is toe ek weg is as voltydse werknemer by LifeFM om voltyds in die bediening in te gaan. Nou het ek meer tyd om my talente te gebruik om ander mense te help om hulle storie neer te pen.”

Stefaans is steeds deeltyds betrokke by LifeFM, die plaaslike radiostasie op Klerksdorp. Op Vrydae is hy die mede-aanbieder van die boekgesprek, “Leesd!t”.

Behalwe vir sy doenigheid met boeke, is hy steeds betrokke by opheffingswerk in die gemeenskap. Hy bied ook gereeld kampe aan en word dikwels genooi om op te tree as spreker by gemeentes en by ander geleenthede.

Stefaans se raad: Skep geleenthede

Watter raad het hy vir mense wat moedeloos raak en vasgevang voel in die verlede?

“Die Bybel praat van die sewe dodelike sondes. Maar daar is ’n agtste een, geleenthede wat nie gebruik word nie. Soveel mense droom nie meer nie. Dromers waag kanse. Skep geleenthede. Soveel mense gaan met soveel versteekte talente dood. As jy een liedjie moet sing, sing hom. As jy tien gedigte moet skryf, skryf dit. Wat ook al God binne jou geplaas het, gee dit aan die mensdom. Moenie vol graf toe gaan nie. As ek soveel na nege jaar kon doen, wat keer jou wat nooit in die tronk was nie? Leef voluit en droom groot!”

‘My tronkkaartjies gee my hoop’

“My vrou. Sy is die steunpilaar in die Coetzee-huis. My seun David wat so vol lewe is. Wat net in liefde na my kyk. Wat my laat lag. Wat van die sitkamerbank af sal spring, wetend dat ek hom sal vang. My twee ouer seuns wat uit bokse karre kan bou. Wat teken en skilder. Wat droom. En mense wat ten spyte van die storms nog glo. Nie net in God nie, maar ook in mekaar. Suid-Afrika. Al vloek hulle ook oor beurtkrag of potholes. En my tronkkaartjies. As God daai monster se lewe kon omkeer, is niks onmoontlik nie. Ek kyk gereeld daarna.”

Ds Jaco Strydom is verbonde aan die Echo-Jeugontwikkeling en die NG Gemeente Villieria.

Vriende van Kerkbode

Ons benodig jou ondersteuning om ons digitale reikwydte te vergroot deur woord, video en die Kerkbode-podsending…

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…

Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.