Die nuus van die afsterwe op Dinsdagmiddag 3 September van oud-weermaghoof genl. Georg Meiring in sy huis in Pretoria is wyd met hartseer ontvang. Hy was 84.
Genl. Meiring was die laaste hoof van die Suid-Afrikaanse Weermag (SAW) en ook die eerste hoof van die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag (SANW). Die Suid-Afrikaanse Weermagvereniging (SAWV) is een van vele wat op sosiale media in huldeblyke simpatie betuig het. Hy was hierdie vereniging se beskermheer.
Hy en sy vrou, Ännchen was ook vir meer as 30 jaar deel van die NG Familiekerk Kameeldrift. Hy was ondermeer leierouderling hier en betrokke by die 50+ mannegroep. Die egpaar het vyf kinders.
Kerkbode het verlede September met hierdie gebore Vrystater ontmoet om meer van sy merkwaardige lewensverhaal te hoor. Ons het gesels oor geloof, die kerk en in sy woorde, die “absoluut ondenkbaar onmoontlike” taak wat hy in 1994 gehad het om ’n nuwe weermag te moes bou. Dit te midde van vrese dat ’n burgeroorlog kon uitbreek. Dit was ’n tydperk wat “almost superhuman demands” aan enigeen in ’n leierskapposisie sou stel, in die woorde van die militêre kenner, prof Abel Esterhuyse. Op die vraag wat hom destyds gehelp het om moed en koers te hou, was sy antwoord sonder huiwering. “Bid!”
Luidens ’n verklaring deur sy familie waardeer hulle die wye belangstelling en simpatie. Meer besonderhede oor die begrafnisreëlings sal later volg.