Een Oos-Kaapse stadsgemeente het deesdae ’n goeie probleem …
Hulle eksperiment om kwartaalliks ’n diens in die kerksaal te hou waar oud en jonk saam om tafels sit word só goed bygewoon dat daar nie altyd vir almal plek is nie.
Só vertel ds Robert-John de Kock van die NG Gemeente Nooitgedacht in Gqeberha. Die eksperiment is een van ’n paar waarmee hulle gemeente besig is om eredienste meer verwelkomende ruimtes vir kinders en hulle ouers te maak.
De Kock is een van Gqeberha se drie ringskriba’s wat Kerkbode vandeesmaand besoek het. Ons doel is om meer uit te vind oor ’n omvangryke inisiatief in daardie deel van die wêreld wat vroeër vanjaar sowat 240 mense vanuit 24 gemeentes in die stad by ’n reeks gesprekke betrek het. Die kern van die saak? Al meer Baaise gemeentes sê: “Ons wil ’n kultuur vestig dat kinders welkom is in eredienste”.
Die dryfveer agter die inisiatief is ds Danie Mouton, direkteur van die NG Kerk in Oos-Kaapland. Die doel was om meer oor elke gemeente se reis met jongmense te hoor en uit te vind hoe hulle bediening werk, het Mouton verduidelik.
Mouton benadruk die hoë bywoning en gemeentevlak-inkoop by hierdie ingryping as bewys dat krimpende kinderbedienings en min jongmense by eredienste inderdaad ’n groot probleem vir baie gemeentes is.
Lees ook: Te midde van kommer oor klimaatsverandering en ontnugtering onder jonger geslag bind Afrika ons saam
Groepe van 20 mense (10 per gemeente) het bymekaar gekom en leraars het gehelp om die gesprekke te lei. Ouers kon by hierdie geleenthede, byvoorbeeld, praat oor hulle vrees dat hulle jong kinders ander by eredienste sou pla. Die oplossing wat die kerk van weleer hiervoor bedink het, was om Sondagskool samelopend tot eredienste aan te bied. Maar hierdie skeiding van kinders in kinderbedienings blyk ’n fout te wees. Mouton verduidelik dat jongmense gevolglik dikwels nie deel gevoel het van eredienste nie. En ná hulle belydenis van geloof afgelê het, het vele “verdwyn”. Hulle verskyn net weer met troues en doopgeleenthede, voeg Mouton by.
Waar staan sake nou? ’n Verslag is opgestel en opvolggesprekke sal binne ringsverband volg. Dinsdag 10 September was Mouton by een so ’n ringsvergadering wat 100 mense bygewoon het. Leiers soos Mouton wil die klem plaas op leerbaarheid in die algemeen. Wat minder druk op predikante sit om alleen met oplossings vorendag te kom.