Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2024

Ten spyte daarvan dat die Reformed Family Forum bestaan uit ’n groot groep gereformeerde kerke regoor Afrika, en dit ’n diverse groep mense bymekaar was, was daar ’n belewenis van onderlinge omgee en kameraadskap. Afrika bind ons saam, berig Hendrien van Vliet.

Te midde van kommer oor klimaatsverandering en ontnugtering onder jonger geslag bind Afrika ons saam


Hendrien van Vliet berig vanaf ’n saamtrek van die Reformed Family Forum (RFF) wat van 8-11 September in Benoni plaasgevind het.

 

Is ons kerk binne mure, of kerk in die strate? Dit is dalk een van die treffendste vrae wat tydens die afgelope jaarvergadering van die RFF gevra is.

Die lede van die vergadering moes worstel met belangrike kwessies wat nie net hulle eie konteks raak nie, maar eintlik ’n groot deel van Suidelike Afrika. En hulle moes worstel met een van die belangrikste kwessies van almal: dat die kerk dalk deel is van die probleem.

Is ons kerk binne mure, of kerk in die strate? Dit is dalk een van die treffendste vrae wat tydens die afgelope jaarvergadering van die Reformed Family Forum (RFF). Foto: Hendrien van Vliet

Dr Kevin Muriithi, praktiese teoloog by St Paul’s Universiteit in Limuru, Kenia, het almal uitgedaag met sy eerlike observasies en vrae, wat ontstaan het uit die onlangse jeugproteste in Kenia. Vir jongmense, nie net in Kenia nie, maar oral in die verskillende Afrikakontekste teenwoordig by die vergadering, is die tyd vir wag nou verby. Hulle is kwaad, gefrustreerd en ontnugter met die sosiale en ekonomiese mynveld wat hulle moet navigeer. Daar is grootskaalse werkloosheid onder jongmense, beide met en sonder ’n tersiêre kwalifikasie. Groot beloftes word gemaak, en tog gaan korrupsie voort met min nagevolge.

En die jongmense vra, waar is die kerk? Daar binne hulle mure, of hier by ons in die strate? So op ’n warm en winderige Maandagoggend staan ons tussen vier mure en sing Here, help ons, want daar is niemand soos U nie. Ek soek oral, daar is niemand soos U nie.

Afrika bind ons saam

Ten spyte daarvan dat die RFF bestaan uit ’n groot groep gereformeerde kerke regoor Afrika, en dit ’n diverse groep mense bymekaar was, was daar ’n belewenis van onderlinge omgee en kameraadskap. Afrika bind ons saam. Ons deel in die diep, ryk geskiedenis van ’n vasteland wat al baie seer moes deurleef. Dit syfer deur na ’n gevoel dat ons almal sukkel met dieselfde probleme en by mekaar en by ’n groot groep kenners kan leer. Dit het almal teenwoordig die hupstootjie gegee om die lewenspad vol slaggate aan te durf.

Die aarde kreun

En die pad vorentoe vir gereformeerde kerke is propvol slaggate. Terwyl ’n warm lentewind woed, praat verteenwoordigers van die Southern African Faith Communities Environment Institute (SAFCEI) met die vergadering oor die groot groen probleem: die aarde. En meer pertinent, ons kontinent, Afrika. Die vergadering is gevra om in kleiner groepe in te deel en hierdie belangrike vraag te bespreek: Waar hoor jy die gekreun van die aarde ten diepste in jou konteks? En deur die bank was die probleem: die mens. Ons is nie goeie rentmeesters nie, en daarom het aardverwarming ’n verwoestende impak op baie van ons Afrikagemeenskappe: vloede, droogtes, veldbrande en hongersnood. Korrupsie en ontbossing (deforestation), maak dat beide mense se lewensbestaan en die aarde s’n bedreig word. En hier hoor die vergadering weer: Wat doen die kerk rondom hierdie probleme?

Agt aksiepunte

Dit klink alles baie negatief, maar dit het ’n groot impak gehad op die gesprekke wat gevolg het. By hierdie vergadering het die leiers van die onderskeie kerke (wat bestaan uit moderators en algemene sekretarisse) onderneem om agt belangrike kwessies ernstig op te neem en aan te spreek, onder andere ekologie en armoede, kwessies wat jongmense raak, soos werkloosheid en veilige ruimtes in die kerk, en die volhoubaarheid van gemeentes.

Die kerk hoor dalk gereeld dat sy deel is van die probleem, maar hierdie groep besluit om deel te wees van die oplossing. Om nie net kerk te wees binne mure nie, maar juis in die strate. In die strate van Afrika. Soos Francesca de Gasparis, die uitvoerende direkteur van SAFCEI noem: “There is power in the collective”, en die RFF, met hulle verbintenis aan die kerk, aan God en aan die mense van Afrika, sal daardie verantwoordelikheid ernstig opneem in die jaar wat voorlê.

Om meer te lees oor die RFF en die volledige resolusie, wat later beskikbaar sal wees om te lees, kan hulle webtuiste rff.christians.co.za besoek word.

Ds Hendrien van Vliet is predikant by NG Kerk Kempton-Hoogland.

Lees ook: Dominees pen mense-stories neer as ’n naby-kykie op ‘bakengemeentes’ by Slypskool vir Skrywers 2024


Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.