Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2024

’n Historiese kyk na kerkmusiek is een van vyf diskoersessies wat die NG Kerkargief aanbied tydens vanjaar se Toyota Stellenbosch Woordfees. Foto: Skermgreep uit video

Elders gesien: NG Kerkargief vir eerste keer deel van Woordfees se program


Die NG Kerkargief is vanjaar vir die eerste keer deel van die Toyota Stellenbosch Woordfees, wat van 28 September tot 6 Oktober in die Eikestad plaasvind. Die Argief bied vyf diskoersessies in die kapel van die Fakulteit van Teologie aan.

Maandag 30 September is die eerste een met die tema, Lê jou familiestorie verskuil in die argief? Die spesialisgenealoog dr. Andrew Kok gaan stap vir stap verduidelik hoe om suksesvol in jou eie verlede te delf. Doopregisters en ander argivalia word ten toon gestel.

Dinsdag 1 Oktober val die soeklig op kosgeskiedenis. Dr. Amy Rommelspacher gaan vertel hoe kuns­studente in hulle verkennings van die kerkargief nuwe werke geskep het in reaksie op hulle ervarings met geskiedenis en kos. Studente het deur die versamelings van twee NG-sendelinge gewerk om te verstaan hoe kos in die 19de eeu in Suider- en Sentraal-Afrika verkry en ervaar is. Kos word voorgesit wat aansluit by die dokumente en kuns.

Op Woensdag 2 Oktober word die werk van NG veldpredikers en kapelane as hulpdiensnetwerk tydens die Anglo-Boereoorlog (1899-1902) belig deur dr. Esté Kotzé en Lizelle Smit, navorsers en argivarisse van die NG Kerk. Oorspronklike briewe, ’n gordel van een van die veldpredikers en vele meer artefakte uit die NGK Argief sal te siene wees.

Donderdag 3 Oktober doen dr. Isabel Murray saam met dominees Richard Hollaway en Cecile Murray-Louw voorlesings en vertellings uit die briewe van dr. Andrew Murray aan sy kinders terwyl Laurinda Hofmeyr se toonsettings (met Schalk Joubert op baskitaar) nuwe diepte en betekenis gee aan dié 100 jaar oue woorde. Briewe en manuskripte van Murray en sy kinders word ten toon gestel.

Vrydag 4 Oktober word die eerste NG Kerk-musiekversameling bekendgestel. Dr. Isabel Murray, kurator, tree as verteller op, met begeleiding deur dr. Devandré Boonzaaier, orrelis en kenner van die Morawiese liedereskat. Kom luister en sing saam. 

Bronne: KaapKerk se VrydagNuus van 13 September en Toyota Stellenbosch Woordfees se program


Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.