Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2024

Noord-Kaaplandse Sinode | Gemeentes wil kerk wees … met of sonder dominee: Só soek sinode saam na nuwe bedieningsmodel


Die helfte van hulle gemeentes het minder as 300 lidmate en 15 gemeentes het vakante predikantsposte. Maar ’n nuwe kerkmodel neem vorm aan in die NG Kerk in Noord-Kaapland, berig Helene Meissenheimer.

 

Toe die meer as 130 sinodegangers Woensdagmiddag (9 Oktober) vanuit ’n bewolkte Kimberley huiswaarts mik, was dit met die wete dat hulle help bou het aan ’n “nuwe bedieningsmodel” vir die NG Kerk in Noord-Kaapland.

Hoe lyk dit? Meer spán-gedrewe as dominee-gedrewe.

Want in hierdie wye streek (sommige afgevaardigdes het gery van so ver as die grens met Botswana), het jonger lidmate, fondse vir voltydse leraars en energie vir jeugbediening blykbaar net so skaars soos reën geword. ’n Situasie wat boonop meebring dat ds Christo Jonck, die streek se enigste predikant in sinodale diens (PSD), soveel navrae vanaf gemeentes kry dat die sinode oorweeg om ’n nuwe administratiewe pos te skep.

Hoewel daar gemeentes is waar dit goed gaan, is daar ook heelwat gemeentes in so ’n oorlewingstryd dat hulle agterstallig met sinodale bydraes raak en in sommige gevalle selfs hulle roeping verloor het. Daar is ook interne spanning met ’n paar gemeentes wat glo uit protes weggebly het. Ander gemeentes het gewoon nie kapasiteit gehad om dié sitting van 6-9 Oktober in Kimberley by te woon nie, het die afgevaardige leraars en kerkraadslede gehoor.

Lees ook: Oostelike Sinode kies vir roeping en eenheid eerder as twis en verskil

Leiers verkies om kontinuïteit tussen sinodes te bring

In ’n beduidende verwikkeling het afgevaardigdes by die afgelope sinodesitting ’n sinodale kommissie (in ander sinodes genoem ’n moderamen) verkies om ’n oorsigrol in die twee jaar tydperk tussen sinodesittings te vervul. Hiermee is ’n 1993-sinodebesluit in revisie geneem wat bepaal het dat “… die dienstermyn van die moderatuur sal strek van sy verkiesing tot en met die verdaging van die vergadering waar die betrokke moderatuur verkies is”. Oor die kommissie se rol het ds Marais Kluge gesê: “Dit is die nommer een dienstuig in die Noord-Kaap. Ons is daar om te koördineer. Om te luister. Om leiding te gee. Om te bedien saam met ons ringe en ons gemeentes te ondersteun … Wat dit nie is nie, is ’n magsposisie,” het hierdie 69-jarige tentmakerleraar van Noorderharts naby Noordwes uitgewys.

 

Hy was ook die verkose voorsitter van die afgelope sinode en ds Tienie Swanepoel van Mareetsane in Noordwes die ondervoorsitter. Die res van die sinodale kommissie bestaan uit die voorsitters van die onderskeie sinodale kommissies, die PSD asook drie addisionele lede (waarvan een ’n vrou moet wees). Hierdie bepaling is ingeskryf na dit onder die vergadering se aandag gebring is dat daar heelwat vroueleraars in die streek is (almal jonger as 40), maar tot hierdie sinode was niemand nog verkies as voorsitters of ondervoorsitters van enige sinodale kommissie nie.

Op die sinodale kommissie is, van links: di Marais Cluge, Annatha Nel, Kobus van Tonder, Arina Zandberg, Leonie Pistorius, Tienie Swanepoel, Melt Van der Spuy Loubser, Neeltje Fouché en Christo Jonck.

Blykbaar is hierdie versoek ter harte geneem. Woensdag is bekendgemaak dat beide ds Leonie Pistorius (sinodale kerkordelike kommissie – SKOK) asook ds Neeltje Fouché (sinodale kommissie vir bedieningsondersteuning – SKBO) as voorsitters van sinodale kommissies verkies is én al drie die addisionele lede op die nuwe sinodale kommissie is ook vroue.

Die ondervoorsitter van die VGKSA Phororo, ds Mario Ferris, is op Dinsdag ’n seënbede toegesing na sy groeteboodskap. Iets wat so ’n paar jaar terug nog ondenkbaar sou wees weens ’n sinodebesluit van 2015 wat luidens ’n verslag “enorme skade aangerig het aan die verhouding” tussen hierdie twee kerkgroepe. Die sinode het hierdie besluit herroep en gesê hulle is spyt daaroor en dat hulle verbind is tot ’n proses van “ontmoeting en genesing”.

 

Kerkwees in ’n nuwe konteks

Die geestelike inspirasie vir die week het gekom uit die Bybelboek Efesiërs. Sondagaand het ds Louwtjie Louw, voorsitter van die taakspan sinodebeplanning, tydens sy boodskap uit die eerste hoofstuk gesê Paulus verduidelik daarin dat dit deur Jesus is dat mense met God en met mekaar versoen word en so deel word van God se “new society. His new creation … that includes people from all nations …” Die leraar uit Kanoneiland het bygevoeg dat ons optrede hierdie nuwe werklikheid en identiteit moet reflekteer.

Maandagoggend het Louw namens SKBO uitgebrei oor van die sober werklikhede wat nie net in hierdie sinode nie, maar ook in ander soos Oos-Kaap en Vrystaat uitdagings bied. Vir Noord-Kaapland sluit dit in dat 15 van hulle 85 gemeentes vakante leraarsposte het. Twee ringe van tussen ses of sewe gemeentes, met net een of twee wat ’n vaste leraar het, sukkel om vergaderings te kan konstitueer. Louw sê daarom is hy vir leer by ander streke soos Vrystaat wat reeds ’n program ontwikkel het om ringe in sulke situasies te ondersteun.

Die konteks waarin ons nou is, vra van ons om anders te dink,” het Louw onder meer gesê.

Die konteks waarin ons nou is, vra van ons om anders te dink,” het Louw onder meer gesê.

Om hulle as kerkleiers hiermee te help het hulle vir dr Frederick Marais van Hugenote Kollege en prof Hannes Knoetze van Universiteit Pretoria betrek om saam te dink oor wat nodig is vir “die roetekaart na so ’n nuwe bedieningsmodel”.

‘Ons kan sonder predikante regkom’

Vir hierdie sinode se eerste tafelgesprek het Louw die vergadering gevra om, waar hulle in klein groepe om tafels, te kyk na ’n lys van 11 uitdagings (wat insluit byvoorbeeld te min predikante, onsekerheid oor roeping en kerkbegrip, wantroue en verdeeldheid, oorlewingstryd ens). Hulle moes saam groepeer volgens wat hulle meen gemeentes se grootste behoefte is.

Geborg

Die beeld van ’n stukkende pad vol “potholes” is gebruik om die proses te illustreer.

Twee dae later het die uitslag verras. Ds Adriaan Vogel van Daniëlskuil het in sy terugvoer oor die tafelgesprekke, names SKBO, genoem die nommer 1 behoefte wat hierdie vergadering uitgelig het, was onsekerheid oor roeping en kerkbegrip, gevolg deur onkunde, veranderde konteks of ontkenning daarvan saam met tekort aan ingeligte lidmate.

Tekort aan predikante was 9de.

“Dit het ons verras. Dit sê vir ons dat u vertroue het in die kerksisteem,” het hy gesê.

By navraag het Kluge, die sinode se gekose voorsitter aan Kerkbode gesê, hulle is bly daaroor: “Ons het gedink as predikante minder word gaan hulle gemis word, maar dit is nie die gemeentes se gewaarwording nie. Hulle sê eintlik vir ons hulle kan kerk wees sonder ons. Hulle wil aangaan en met die werk van die Here besig wees.

“Ons het mense met wonderlike gawes in die kerkrade. Diensleraars. Bedienaars. Ek is opgewonde hieroor, want in die Noord-Kaap is dit die pad wat ons moet loop.

Marietjie Stols, Lorraine Botha, Susan van der Linde en Stephen Bennie is as bedienaars bevestig op die openingsaand van die sinode.

“Daar is nie ’n manier dat ons in die toekoms in elke gemeente ’n predikant kan hê nie. Hulle gaan minder word. Ons sal predikante dalk anders moet aanwend. Ons sal moet kyk na die rol wat dominees moet speel, maar ons gemeentes is op n goeie plek,” het hy afgesluit.

Dié loodsstreek vir die Woordbedienaarkursus het al 23 gekwalifiseerde bedienaars met sowat 45 wat nog met studie besig is, luidens ’n verslag. Twee bedienaars is ook besig met verdere teologiese studie as diensleraars.

Swanepoel, self ’n diensleraar, was eers jarelank boer en ouderling tot hy gehoor het van die diensleraarkursus by Hugenote Kollege. Hy het die afgevaardigdes aangemoedig om hulle gemeentes van die bedienaar- en diensleraarkursusse (waarvoor beurse beskikbaar is) te vertel en genoem twee van sy ouderlinge doen die bedienaarskursus. Dit beteken hulle klein gemeente het ’n span wat hulle kan bedien.

SKBO se rol gaan wees om gemeentes meer oor die kursusse te kan inlig.

In kort:

Agterstallige sinodale bydraes: Gemeentes word gevra om jaarliks 6% van hulle inkomste aan die sinode oor te betaal vir gesamentlike werksaamhede wat insluit finansiële ondersteuning van die kerklike maatskaplike organisasie Caritas. Dit blyk egter daar is nie net verskeie gemeentes wat hiermee agterstallig geraak het nie (totale skuld is R2,7 miljoen), maar 16 gemeentes dien nie finansiële state in nie. Die sinode het goedgekeur dat gemeentes “in buitengewone omstandighede” hulle ring mag vra om namens hulle skriftelik te motiveer dat die sinodale kommissie ondersoek instel of hulle agterstallige sinodale skuld afgeskryf mag word.

Kerkverband: Tydens die vorige sinode van April 2022 is gehoor heelwat lidmate en ook sommige gemeentes het ’n “geweldige misnoë” met van die besluite wat die Algemene Sinode in 2019 geneem het. Omtrent vyf gemeentes in die streek doleer. Een gemeente het na die vertrek van hulle leraar besluit om nie meer te doleer nie. Na ’n besprekingspunt uit Orania-gemeente dit versoek het, het die Noord-Kaaplandse streeksinode van 2022 gevra dat SKOK ’n kerkordelike ondersoek doen. Swanepoel het laat Dinsdagmiddag namens SKOK daaroor terugvoer gegee waarna daar ’n tafelbespreking was waarvan die uitslae na SKOK terugverwys is.

Nog besluite geneem sluit in:

  • Twaalf gemeentes het nie afgevaardigdes by die sinode gehad nie. Die sinodale kommissie sal met hulle in gesprek tree.
  • Die besprekingspunt oor toestemming vir bedienaars om die sakramente van nagmaal en doop te mag bedien is verwys na SKOK.
  • Besprekingspunt oor ’n voorstel dat gekyk word na ’n later aftree-ouderom vir emeritus-predikante is ook verwys.

Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.