Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2024

Oostelike Sinode kies vir roeping en eenheid eerder as twis en verskil


Kerkwees in die koninkryk en ’n besluit oor kerkverband op die voorfront tydens die laaste dae van die Oostelike sinodesitting, berig Hendrien van Vliet.

 

“Ek kan vanoggend hier staan, want iemand het my na Jesus gelei, so op die Romeinse pad. Ons het uit Romeine gelees.” So spreek Nico Swart, predikant by Skuilkrans-gemeente, die vergadering toe, tydens die verslag van die taakspan vir missionale kerkwees. Alhoewel Nico na die Here gelei is deur ’n individu, meen die taakspan dat die werk van evangelisasie by die gemeente lê. Die gemeente is die evangelis, die lig op die berg. Hierdie evangelisasie is soos ’n dans. “En wat is krities belangrik wanneer ’n mens dans? Om in ritme te wees met die persoon met wie jy dans,” sê ds Johan Koen jnr toe hy die vergadering toespreek oor die In Pas-program waarby leiers in die gemeente kan baatvind. Deel van missionaal kerkwees is om ook in ritme te wees met God, en om in ritme te wees met Hom moet gemeentelede en gemeentes oefen om saam te dans. Die taakspan het gepoog om sinodegangers toe te rus met materiaal en hulpbronne om hierdie ritme-inoefening te vergemaklik, en om relevant kerk te wees in die konteks waar hulle is, en mense oor grense te bedien.

Vroegoggend stap en voëlkykeropleiding, aangebied deur Taakspan Ekologie. Foto’s: Hendrien van Vliet

LEES OOK: Kenner bied raad teen omgee-vermoeidheid (compassion fatigue) en stres onder dominees

Ds Ryno Meyer, van Pierre van Ryneveld Geloofsfamilie, het gedeel hoe so ’n kerk moontlik kan lyk. Die gemeente het al in 2019 begin met die proses van kerkplanting en op 24 Oktober 2021 is Fellowship City geopen. Dit het nie maklik gekom nie, maar dit was moontlik omdat bestaande netwerke en verhoudings gehelp het. Ryno het gaan leer by Rooted Fellowship, wat mense leer hoe om kerk te plant. Hulle het by NG Gemeente Doornkloof se deur aangeklop as vennoot. Pierre van Ryneveld het die span en die kennis. Doornkloof het die fasiliteite. Saam kry hulle dit reg om hierdie droom te bewaarheid. ’n Gemeente wat die onmiddellike area bedien, transkultureel, ’n kerk wat dissipels mentor om dissipels te word in die wêreld.

As deel van die sinode se evangelisasie en dienswerk, is 52 Tswana-Bybels oorhandig aan die werknemers van Weesgerus-vakansieoord. Die sinode het ook ’n wildeperskeboom geplant as deel van die kerk se wyer roeping in die skepping, maar ook om mev Tersia Petzer, administrasiebeampte by die sinodehuis en wat aftree later hierdie jaar, op ’n formele wyse te groet.

LEES OOK: Oostelike Sinode: Leraarsversorging, ekologie en kerkverband onder die loep by Modimolle

Dissipelskap en roeping is egter nie net beskore vir die sinodale diensraad, of taakspanne of predikante nie, maar vir elke lidmaat. Na aanleiding van tafelgesprekke tussen leraars en kerkraadslede, was dit duidelik dat daar ’n magdom inligting beskikbaar is om lidmate te bemagtig. Anandie Greyling het sinodegangers uitgenooi om dadelik in te skryf by Hugenote Kollege, of by Excelsus se nuusbrief en deel te neem aan die korter kursusse. ’n Mens hoef nie te wag vir ’n sinodesitting om te hoor van nuwe leergeleenthede nie.

Mev Tersia Petzer en ds Dif Ehlers plant die boom tydens teetyd op dag 3 van die sinodesitting.

Alhoewel daar baie aspekte van kerkwees wat die sinode saambind, was daar nog die saak rondom kerkverband wat wrywing veroorsaak by sommige. Op die tafel van die vergadering was ’n beskrywingspunt van NG Gemeente Burgersfort wat versoek het dat gemeentes wat daarvoor aansoek doen, toegelaat word om as ’n nuwe sinode af te stig op grond van die onversoenbare Skrifinterpretasies binne die kerkverband. Na meer as twee ure se debatvoering het die vergadering met ’n volstrekte meerderheid die beskrywingspunt nie goedgekeur nie, en het gekies vir eenheid, eerder as afstigting. Dr Hancke van Blerk het sy hart gedeel oor hoe sy tyd wat hy spandeer met die SDR en mede-sinodelede hom oortuig het dat eenheid ’n móét is: “Hulle is net so lief vir die Here soos wat ek is. God kan wondere doen. My standpunt oor tekste en Skrifinterpretasie het nie verander nie, maar my houding het wel. Ek is geïnspireer vandag! Vandat ek in die bediening is, is daar altyd ’n kwessie wat dit regkry om die kerk te rem, en ek is moeg daarvoor. My gebed is dat die momentum wat vandag by hierdie sinode gebeur het en wat ons geleer het, ons in die toekoms sal indra”.

’n Toekoms wat nie aldag so blink lyk vir klein plattelandse gemeentes nie, waaronder 12 gemeentes wat nie meer ’n predikant in diens het nie. Daarom is ds Francois Retief getaak om ondersteuning en begeleiding te bied aan hierdie gemeentes, sodat hulle nog steeds die voetspore van die koninkryk kan wees, daar in hulle klein, plattelandse kontekste. Die sinode sluit af in aansluiting met hulle tema “Biddend, saam op pad”, en sing saam: “Laat u ryk kom, u wil geskied, soos in die hemel so ook op die aarde.”

Ds Hendrien van Vliet is predikant by die NG Gemeente Kempton-Hoogland.


Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.