Ds Francois Lamprecht was een van die afgevaardigdes by die afgelope buitengewone sitting van die NG Kerk Vrystaat se sinode. Kerkbode het hom gevra …
Kerkbode (KB): Afgevaardigdes by die buitengewone sinode het gekies vir eenheid, maar ten koste van die bevestiging van selfdegeslagverbintenisse. Stem jy saam met so ’n vertolking en wat sou jy sê moet gay lidmate hoor in dié besluit?
Francois Lamprecht (FL): Ja, dit is deel van ’n kompromie, ons erken selfdegeslagverbintenisse as ’n alternatief, maar vra dat predikante dit nie bevestig nie. Dis ’n gee-en-neem om beide groepe (dié wat vir en dié wat teen selfdegeslagverbintenisse oortuig is) te vra om meer ruimte vir mekaar te maak. Die een groep erken die verbintenisse as ’n keuse van twee gelowiges wat toegewyd aan mekaar wil leef. Die ander groep erken dat ons gay lidmate se plek en deelname in die gemeente belangriker is as dat die dominee die een is wat die woorde spreek. Dit is nie ideaal vir enige kant nie en dit is wat ’n kompromie is. Dit skep vir ons meer ruimte om respekvolle eenheid te koester terwyl ons verder leer oor hoe die kerk oor hierdie saak moet dink.
Ek hoop dat gay lidmate hoor dat hulle kerk erns maak met die gesprek, maar dat dit nie net oor hulle as persoon gaan nie, maar ook oor hulle kerk, wat ’n klomp ander mense ook insluit. Daarmee moet elke lidmaat help, ongeag jou seksualiteit.
KB: Die idee van ’n kompromie binne die kerk val vir sommige snaaks op die oor (‘as iets reg is, is dit reg’) en vir ander is dit voor die hand liggend dat daar verskillende interpretasiemoontlikhede van die Bybel bestaan. Is die NG Kerk Vrystaat na dese verder weg van die Ruim Huis-benadering wat steun by die AS in Okt verlede jaar gekry het? Wat meningsverskil oor SGV toelaat en selfs vier?
FL: Niemand vier die meningsverskil nie, almal baklei net daaroor. Om te sê ons vier dit is na my mening maar ’n oorentoesiastiese poging om dit te laat klink of ons nie ’n groot ontevredenheid het daaroor nie.
Die kompromie lê daarin dat ons die twee kante van ’n gesprek vra om elkeen ’n bietjie van hulle skietgoed neer te sit en nader na mekaar te kom. Die feit van die saak is dat ons sekere tekste verskillend interpreteer. Dit is ’n feit en dis nie die eerste kwessie waaroor ons verskille het nie. Ons het verskillende interpretasies oor baie tekste, ons baklei net nie so hard oor almal nie.
KB: Watter deel van die afgelope vergadering was vir jou die mees hoopvolle aspek van die kerk?
FL: Natuurlik die feit dat daar steeds ’n oorwegende behoefte is na eenheid terwyl ons verder soek en leer. Die feit dat ons so verdeeld is oor hierdie saak, maar steeds bly soek na maniere om dit sáám te doen getuig van die erns van eenheid as kerk. Dit beteken ons het nog die geleentheid om beter na mekaar te luister.
KB: Watter deel van die vergadering was vir jou die mees kommerwekkende deel van die kerk?
FL: Die manier waarop persone aan albei kante ingegrawe is in hulle eie opinies. Dit maak dat baie mense glad nie meer na mekaar wil luister nie. Dit maak nie saak aan watter kant van die saak jy staan nie, as jy dink jy is die enigste een wat die Here se stem hoor en die ander luister net nie is jy op baie gevaarlike terrein. Ek het mense aan albei kante gehoor wat hulleself selfvoldaan as profete sien wat die enigste en laaste woord van God gehoor het oor die saak. Hulle gooi smalend ’n vers of twee soos ’n handgranaat wat hulle opponente moet reg skiet of weg skiet.
Ek dink dit is ongelukkig net ’n simptoom van die manier waarop die diskoers die laaste paar jare gepleeg is. Ons het te veel stemme aan beide kante van die spektrum wat glad nie luister na mekaar nie. En dit sluit van die leiers aan beide kante in.
KB: Hoe het jy opgesom wat by die sinode gebeur het toe jy die Sondag daarna gepreek het?
FL: Ek het Sondag die drie opsies verduidelik, die voor- en nadele van elkeen en gesê wat die keuse was. Toe preek ek oor Handelinge 15 se vergadering oor die opheffing van die besnydenis vir gelowiges wat nie Joods was nie (al het dit ingedruis teen elke moontlike teks wat hulle gehad het). Veral oor die respekvolle manier waarop die gemeente na mekaar geluister het, die manier waarop resultate van die werking van die Gees as grootste oorweging gesien is en oor hoekom ons dit soms so vrek moeilik vind om ook die Gees te hoor in ons eie lewe.
KB: Is daar aspekte van jou eie oortuigings in die gesprek oor selfdegeslagverbintenisse wat jy dink dikwels verkeerd verstaan word?
FL: Ek is self aan die kant wat reken ons kan plek maak vir selfdegeslagverbintenisse in ons kerk. Ek is egter glad nie op die “maar God is liefde” bandwagon nie. Ek kan myself nie vereenselwig met ’n siening dat God se liefde beteken ek kan nou doen net wat ek wil nie. Dit is beide God se liefde en sy geregtigheid wat ek moet erken. Ek glo in die hele Bybel as die Woord van God. My oortuigings gaan oor die manier waarop ek sekere tekste interpreteer, maar die hele Woord van God moet ek in oorweging hou.
Die grootste deel van die besluit handel eintlik oor wat ons glo as kerk. Dit maak onder andere duidelik dat ons glo in die Bybel, dat ons glo in die goddelikheid van Jesus, sy maagdelike geboorte, sy dood en opstanding, sy hemelvaart. Ek dink die kerk moet baie strenger optree teen predikante wat daardie gereformeerde belydenis nie eerbiedig nie.
KB: Is daar goed waarin jy begin twyfel waarvan jy vroeër oortuig was deur die loop van hierdie sinodale gesprekke en interaksies?
FL: Ja, vir seker, anders het ek ook niks geleer nie en moet ek myself ook selfvoldaan as onfeilbare profeet verklaar. Ek het baie foute gemaak. Veral oor hoe ek die teoloë aan die ander kant hoor. Dit was aan die begin maklik om hulle te etiketeer as fundamentaliste. Die meeste van hulle is dit nie. Dit is maklik om hulle te sien as mense wat almal dieselfde dink oor alle aspekte van die selfdegeslaggesprek, maar dit is eenvoudig net nie waar nie.
Ek het baie respek vir die manier waarop die meeste van hulle op soek is na God se wil en eer, ons verskil dalk net oor wat dit is. As dit nie ons almal se hoogste mikpunt in hierdie gesprek is nie, moet ons eerder nie deelneem daaraan nie. Dit gaan eerstens oor God, dan die kerk, dan die verskeidenheid van gelowiges. Dan, ver agter dit, gaan dit oor ons onbeholpe pogings om ’n opinie te hê.
Maar dit is moontlik ook maar net my onbeholpe opinie.
Ds Francois Lamprecht is leraar by NG Gemeente Pellisier.