Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2024

Só word 200 jaar van kerkwees herdenk: Feesdienste, boeke en konferensies


Op Hervormingsondag 27 Oktober gaan verskeie NG, Hervormde en ander gemeentes uit die gereformeerde familie saam feeseredienste hou. Dit vorm die eerste van ’n reeks feesgebeure wat in die noorde sowel as die suide beplan word rondom ’n betekenisvolle jaar vir gereformeerde kerke in Suider-Afrika.

Dit is vanjaar 200 jaar sedert 2 November 1824 – die datum van die eerste “Algemene Kerkvergadering” in Suid-Afrika. Hierdeur het 14 gemeentes op tuisbodem, die eerste treë begin gee na onafhanklikheid van die moederkerk in Nederland.

Lees ook: Jan Lubbe | Uit my kerkdagboek: ’n Briefie om te gedenk …

Dit is ook 500 jaar (1524) sedert die eerste Protestantse liedbundel van Luther én 90 jaar sedert die eerste Psalm- en Gesangeboek in Afrikaans op Hervormingsondag 1934 in gebruik geneem is.

Die NG Kerk en die Nederduitsch Hervormde Kerk van Afrika het daarom besluit om saam te werk rondom die beplanning van ’n verskeidenheid van geleenthede en publikasies ter viering van hierdie mylpaal “wat as ’n genadegawe beskou word,” luidens ’n skrywe van dr Nioma Venter, algemene sekretaris van die Algemene Sinode van die NG Kerk (Luister ook gerus na joernalis Lizelle de Bruin se onlangse gesprek met haar en dr Wouter Venter van die Hervormde kerkvergadering).

Leraars, kerkrade, lidmate en gemeentes regoor die land word op verskeie kerklike platforms uitgenooi om te deel in hierdie herdenking van “die reformasie, ons reformatoriese erfenis en die verhaal van ons kerkfamilie” soos verwoord deur ds Jan Lubbe, moderator van die Algemene Sinode van die NG Kerk onlangs aan KaapKerk (sien video onder).

Liturgiese voorstelle is reeds aanlyn beskikbaar wat gemeentes vir Hervormingsondag, 27 Oktober 2024, sou kon gebruik.

Die feesprogram sluit ook in:

  • Die bekendstel van ’n spesiale uitgawe van die Stellenbosch Teologiese Joernaal op Vrydag 1 November, om 08:30 in die kapel van die NG Kerkargief, Fakulteit Teologie, Universiteit Stellenbosch.
  • Ook op Vrydag 1 November, die bekendstel van ’n feesalbum, 200 Genadejare, tydens ’n aand van voorlesing en musiek by NG Gemeente Durbanville. 
  • ’n Konferensie, Kerkwees 200: herdenk – hervorm – hoop, Saterdag 2 November, van 09:00-15:00 by die NG Kerkargief, Stellenbosch.
  • Spesiale eredienste op 3 November: ds Jan Lubbe om 15:00 in Groote Kerk, Kaapstad en dr Wim Dreyer om 16:00 by die Pretoria-Oos Hervormde Kerk. Beide sal direk uitgesaai word.
  • Die Departement Sistematiese en Historiese Teologie van die Universiteit van Pretoria bied die Kerkwees 200 konferensie van 5-6 November aan, ook by die Pretoria-Oos Hervormde Kerk. Bespreek jou plek aanlyn.

Bronne: “Binnekamer” op RSG met Lizelle de Bruin (28 Julie 2024); Kaapkerk se VrydagNuus (11 Oktober 2024); Vrypos Uitgawe 16, 2024.

Vriende van Kerkbode

Ons benodig jou ondersteuning om ons digitale reikwydte te vergroot deur woord, video en die Kerkbode-podsending…

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…

Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.