Eers was daar ’n eerste gratis Xhosa-taalklas, toe ’n Whatsapp-groep en nou het die NG Gemeente Kraggakamma van Gqeberha ’n omgeegroep wat stories kan vertel oor nuwe verhoudings wat oor taalgrense gebou word. Dit was so maklik, hy hoop ander gemeentes wil dit ook probeer, skryf ds Toit Wessels. Hy vertel meer.
As student was ek eendag by ’n praatjie van ’n bekende politieke leier. Een van die studente vra hom toe hoe kan ’n mens as Suid-Afrikaner verseker dat jy gesonde verhoudings met jou medemens het. Dadelik kom die antwoord: “Dit is eenvoudig, leer ’n taal wat jy nie verstaan nie en praat met mense in daardie taal.”
Lees ook: Mzwandile Molo: Samewerking is ’n geskenk, hoor ASM
Eerste Xhosa-taalles
In April vanjaar het ek en ’n groepie mense van Gqeberha (Port Elizabeth) besluit om dit te probeer. Mense is via Kraggakamma NG Gemeente se kommunikasiekanale en die buurt se WhatsApp-groep genooi om Dinsdagaand vir gratis Xhosa-taallesse by die kerkgebou te kom.
Ek het nie geweet hoeveel stoele om uit te pak nie en het dit sommer in die kerk se voorportaal gehou. Op die eerste aand was daar meer as 40 mense, oud en jonk. Sommige het hulle Xhosa-skoolnotas saamgebring. Ander weer ’n taalhandleiding. Hierna het die woord vinnig versprei en was die gevolg ’n WhatsApp-groep van meer as 50 mense.
Na die gretige wegspring het die groep oor die volgende paar maande kleiner geraak, maar daar was steeds genoeg belangstelling om twee maal per week, op ’n Dinsdagaand en Woensdagoggend klasse aan te bied.
Afgetrede polisieman ons umfundisi
Willie Bezuidenhout, ’n afgetrede polisieman wat vlot Xhosa praat, is ons umfundisi (leermeester). Hy het die meeste van sy jare in die Transkei gewoon en gewerk. Willie bied ook taalklasse aan by nog ’n gemeente in die stad. Hy doen dit verniet.
Van die begin af het Willie, met sy I love Jesus-pet op sy kop, dit duidelik gemaak dat hy nie grammatika gaan leer nie. “Ek gaan julle leer hoe om basiese dag-tot-dag gesprekke te voer,” het hy gesê en ons aangemoedig om enige kans wat ons kry te probeer om die taal te praat. Hy het gesê ons sal sien hoe waardeer die Xhosasprekende gemeenskap dit.
Ons taallesse het begin met basiese interaksie by die petrolstasie, toe die inkopiesentrum, die etenstafel tot dae van die week en liggaamsdele. Na afloop van elke klas word ’n stemnota met die nuwe woorde opgeneem en per WhatsApp versprei. So kan diegene wat lesse mis ook bybly. Ons lede kan ook vra vir watter woorde/frases hulle graag wil leer.
Taallesgroep word omgeegroep met getuienisse
Oor die afgelope paar maande het die twee groepe eintlik ’n weeklikse omgeegroep geword. Ons eet saam, vier verjaarsdae, ondersteun mekaar as dit moeilik gaan en lag vir mekaar se uitsprake van sekere woorde. Die groep help mekaar ook om nie net die taal te leer nie, maar ook die kultuur beter te leer ken deur soms ’n unieke Xhosadis saam te eet, of tradisionele uitrustings aan te trek. Weekliks hoor ons getuienisse oor wat die “nuwe woorde” vir elkeen in hullw verhoudings beteken. Ek deel graag ’n paar:
- Tina, ’n jong onderwyseres in die stad: “Een van my graad 12-leerders het vir my ’n brief geskryf om dankie te sê vir die jaar. Sy sluit dit af as volg: Enkosi kakhulu, ndiyaku thanda (baie dankie, ek is lief vir jou). Dit is so kosbaar en dit is wat die lesse vir hulle en my beteken!”
- Anja, ’n jong grafiese ontwerper in die stad: “Die Xhosaklasse het my verhouding met my kollega by my werkplek drasties verander. Toe ek haar ontmoet het was ons verhouding baie neutraal, maar met ’n paar Xhosawoorde in my woordeskat en ’n paar gesprekkies later, het haar ware ‘mens’ uitgekom. Haar persoonlikheid skyn soveel helderder wanneer ons in Xhosa met mekaar praat. Sy geniet dit ook om my nuwe woorde, sinne en gesegdes te leer, want ek stel werklik in haar moedertaal belang. Ek is geensins vlot in Xhosa nie, maar my bietjie kennis het ’n pragtige verhouding tussen ons gebou waarop ek voorheen sou uitmis.”
- Linda, ’n afgetredene: “Ek het nou die wonderlikste gesprek met die man by die vulstasie gehad.”
- Anita, ’n afgetrede lidmaat: “Ek het nou met die man wat ’n pakkie afgelewer het, in Xhosa gekommunikeer. Hy het dit so geniet dat ek sy taal praat.”
Nou aan die einde van die jaar, was hierdie projek een van my hoogtepunte. Ons gaan vir seker nie gou ophou “leer” nie. Ek dink ook hierdie is dalk iets lekker maklik wat gemeentes kan doen, wie weet, dalk is daar ’n afgetrede Xhosa-onderwyser in jou gemeente.
Enkosi!
- Ds Toit Wessels is ’n leraar by NG Gemeente Kraggakamma. Hy is “nog” nie beskikbaar vir aflospreekbeurte in Xhosa nie.