Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2024

Hulle gesamentlike sportdag was vol opwindende wedstryde, maar die ware oorwinning was die eenheid en vriendskappe wat die dag gemaak is, skryf Cecile Murray-Louw. Foto's: Verskaf

Kaapse NG en VG gemeentes se ‘soccer friendly’ was viering van saamwees


NG en VGKSA gemeentes se onlangse ‘soccer friendly’ in Durbanville was ’n viering van saamwees en gemeenskapsgees, alles deur die Here se genade, skryf ds Cecile Murray-Louw.

Ons “soccer friendly” van Saterdag, 12 Oktober, het nie net die grasvelde van Durbanville Gemeente aan die brand gespeel nie maar ook harte laat warm klop. Spanliedjies het weergalm. Die energie was tasbaar. Op die veld was spanne van VGK Kraaifontein, NGK Kraaifontein-Noord, NGK Durbanville, Fisantekraal se Barcelona FC, en Parow se Antioch Reformation Ministries, maar dit was die Durbies se seunspan wat op die ou einde met die trofee weggestap het.

Sommige was sommer kaalvoet, maar dit het nie saak gemaak nie.

’n Seunshokkiespan wat ook ingeskryf het om sokker te speel het ’n spangees-toekenning gekry vir hulle positiewe gesindheid.

VGK Durbanville kon nie ’n vol span op die been bring nie, maar hulle het steeds kom ondersteun.

Durbies se seunspan het op die ou einde met die trofee weggestap.

Vooraf het skenkings van blikkieskos, reukweerder, toiletpapier, seep en tandepastaware ingekom as “inskrywingsfooi” vir die Durbanville-kinderhuis. Dit was vir my besonder hartroerend om te sien hoe kinders wat self min het, vrygewig bygedra het om ander te help. So is ons herinner aan God se oproep om na mekaar om te sien, veral na diegene wat dit die nodigste het.

Die dag was vol opwindende wedstryde, maar die ware oorwinning was die eenheid en vriendskappe wat die dag gemaak is. Dít het die positiewe terugvoer vanaf sommige deelnemers bevestig:

  • Vukile, van die wenspan: “Ons kinders kan nie ophou praat oor die wonderlike dag nie en sien uit na die volgende een. Baie dankie aan almal wat die dag vir hulle spesiaal gemaak het!”
  • Esther Blackaller, die maatskaplike werker by Durbanville-gemeente: “Die reëlings was goed beplan en die inskrywingsfooi met benodigdhede vir die kinderhuis was in die kol. Ons sien uit na die volgende sokkerdag!”
  • Lizl Marx: “The soccer day was a really fun and happy day for the teams. They enjoyed it and the competition between the teams was positive and a very good idea to mingle! The soccer day can become an annual event!”
  • John Sochop van Barcelona FC in Fisantekraal: “Dit was ’n goeie wegbreek van die alledaagse lewe. Om die vreugde op die kinders se gesig te sien, het die dag vir ons die moeite werd gemaak.”
  • Prop Kholosa Gxabe: “The day was amazing, filled with joy and excitement. The effort that was put into making the day a success was definitely worth it. Seeing people from different backgrounds and generations mingling with each other and the gap the day managed to reduce was great to witness.”
  • Jean van Niekerk, jeugwerker by Durbanville-gemeente: “Die sokkerdag was ’n wonderlike geleentheid vir die kinders om op sosiale vlak kinders van die ander gemeentes te ontmoet. Van klein tot groot het deelgeneem en dit was ’n dag om te onthou vir elke deelnemer!”
  • Chris-Mari Marx van Durbanville-gemeente: “Dit was ’n verskriklike lekker dag en baie pret! Dit was baie lekker om nuwe mense te leer ken en ’n nuwe sport te speel. Dit het my geleer oor spanwerk en om net carefree aktief te wees. Om te sien hoe overjoyed almal is oor die klein goedjies en oor ’n wen was amazing.
  • Ds Johann Theron van NGK Kraaifontein-Noord: “NGK Kraaifontein-Noord Jeug het die sokkerdag baie geniet. Daar was ’n lekker atmosfeer en nuwe vriende is gemaak. Daar het ook baie moeite ingegaan in die organisasie, nogal met pryse en al. Baie dankie aan al die organiseerders en ons sien uit na die volgende jaar se gesamentlike sokkerdag.”

Hierdie geleentheid het gewys hoe maklik dit is om saam te kom rondom ’n gemeenskaplike passie soos sport. Ons jeug het mekaar se geselskap kon geniet en wonderlike herinneringe gemaak. Hulle onskuld en vreugde was ’n lewende bewys van Christus se oproep om mekaar lief te hê.

Ds Don-Marco Jonaan (links) en prop. Kholosa Gxabe saam met ds Cecile Murray-Louw met die trofee wat vir die wenspan gemaak is.

’n Spesiale woord van dank aan my mede-organiseerders van VGK Kraaifontein, ds Don-Marco Jonaan en prop Kholosa Gxabe. Deur God se genade kon ons ’n platform skep wat eenheid en samewerking gevier het, en bewys het ons kan saamwerk vir ’n groter doel. Ons sien met verwagting uit na meer geleenthede om in diens en gemeenskap te verenig. Psalm 133:1 sê mos: “Hoe goed en hoe lieflik is dit as broers in eenheid saamwoon!”

Soos ds Jonaan gesê het: “Dié dag sal altyd onthou word as die dag waarop URCSA en DRC geskiedenis gemaak het in die ringe van Kraaifontein en Durbanville. Aan God al die eer!”

  • Ds Cecile Murray-Louw is diensleraar by die NG Gemeente Durbanville.

Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.